Foto’s: Skade in Vrystaatse dorp ná wolkbreuk

Verskeie bome in die dorp is gedurende die storm ontwortel. (Foto: Verskaf)

Verskeie huise is verwoes, die dak van ’n skool het afgewaai, bome is ontwortel en paaie het verspoel tydens ’n wolkbreuk Woensdag in Ladybrand in die Vrystaat.

Byna 50 mm reën het laatmiddag in ’n kort tydperk oor dié dorp uitgesak. Dít nadat Ladybrand net soos verskeie ander dele van die Vrystaat onlangs dae aaneen reën gehad het.

“Ek dink nie daar is een inwoner wat nié [Woensdag] water soos ’n rivier deur sy tuin, erf of huis sien loop het nie,” vertel Tania Halse, wyksraadslid in Ladybrand, Donderdag aan Maroela Media.

Volgens Halse kom Ladybrand se reën gewoonlik uit die weste. “Dit het gister van Lesotho se kant, die verkeerde kant, gekom. Wanneer dít gebeur, dan weet ons dit gaan ʼn wilde storm wees.”

Skade aan die Sehlabeng Secondary School in Manyatseng. (Foto: Verskaf)

Tussen 42 mm en 49 mm het binne 15 tot 20 minute oor die dorp en direkte omgewing uitgesak. Reënwater het weens Ladybrand se ligging aan die voet van die Malutiberge in die dorp afgeloop.

Verdere skade aan die omgewing se paaie, reeds oortrek met slaggate, is aangerig terwyl sommige huise in die dorp oorstroom is. Die dak van ’n buitekamer by die plaaslike tronk, asook die Sehlabeng Secondary School in Manyatseng het gedeeltelik afgewaai.

“Die water loop letterlik deur mense se huise.

“My eerste gedagte [toe swaar reën uitsak] was: ‘Watter chaos heers daar nie nou in die areas waar mense in sinkhuise woon nie? Waar hulle hul meubels en kinders moet oplig soos die water kniediep deur hul huise stroom.”

Halse sê die Mantsopa- plaaslike munisipaliteit doen nie die nodige beplanning of instandhoudingswerk om vir onvoorsiene omstandighede soos swaar reën voor te berei nie.

Maroela Media het ’n navraag na die munisipaliteit se woordvoerder gestuur en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kaptein67 ·

Sterkte vir julle mense, ek weet hoe magteloos ‘n mens kan voel. Dink aan julle en bid vir julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.