Twee mans van Pampierstad in die Noord-Kaap is Donderdag onderskeidelik gevonnis vir die verkragting van ʼn vyfjarige en ʼn 16-jarige tiener.
“Kabelo Mathe (30) en Thabo Khonkhobe (23) het in die Taung-streekshof verskyn,” het lt. Olebogeng Tawana, woordvoerder van die polisie, in ʼn verklaring gesê.
Mathe is tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hy ʼn vyfjarige in Pampierstad verkrag het. Die dogtertjie het op 13 April 2013 saam met ander kinders buite haar ma se huis gespeel toe Mathe haar na ʼn nabygeleë huis gelok en verkrag het.
Khonkhobe is tot 18 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy ʼn 16-jarige op 23 Augustus 2013 voor haar sesjarige sussie verkrag het. Sy kon haarself bevry en het weggehardloop. Sy het die saak by die polisie aangemeld.
“Die beskuldigdes wou nie aansoek doen om borgtog nie en was sedert hul inhegtenisneming in aanhouding,” het Tawana gesê.