Freedom of Religion SA versoek dat reëls vir aanbidders hersien word

gebed-hande-kerkbankie-deur-himsan

Argieffoto (Foto: Himsan/Pixabay.com)

Freedom of Religion South Africa, ‘n drukgroep wat hom beywer vir die reg tot godsdiensvryheid vir alle Suid-Afrikaners, het Donderdag gesê ʼn moratorium op godsdienstige byeenkomste, selfs op laer vlakke van die land se Covid-19-afsonderingsperiode, is “uiters onregverdig” en versoek dat die besluit hersien moet word.

“Gegewe die feit dat ʼn persoon se geloof – en die uitdrukking daarvan – sentraal staan tot hul menswaardigheid, is ʼn algehele verbod, selfs op die laagste vlak 1, op enige vorm van godsdienstige byeenkomste (buiten beperkte voorwaardes vir begrafnisse), baie moeilik om te regverdig,” het Michael Swain, uitvoerende direkteur van FOR SA, gesê.

Vlugte en akkommodasie sal op vlak 1 van die afsonderingsperiode toegelaat word, sê Swain, en ʼn verbod op godsdienstige byeenkomste is dus ʼn duidelike weglating wat “uiters onregverdig en tot nadeel is van aanbidders”.

Swain het gesê die regering moet gewillig en in staat wees om sy besluit te regverdig om die fundamentele regte van burgers te beperk.

Met verwysing na artikel 36 van die Grondwet het hy gesê enige beperking op fundamentele regte moet redelik wees en geregverdig word en betrekking hê op die rasionaliteit en eweredigheid tot die betrokke beperking.

“Die grootste deel van die godsdienste gemeenskap het aan die begin geglo ʼn opskorting van byeenkomste en dienste was aanvaarbaar en reg. Dit blyk egter dat geen konsultasie of oorweging geskenk is aan die huidige benadering nie en godsdienstige byeenkomste word dus in dieselfde kategorie geplaas as nagklubs en sportbyeenkomste.

“Dit beteken dat sulke byeenkomste eers kan plaasvind sodra die regering besluit dat daar geen verdere gevaar is vir besmetting nie, of tot ʼn geneesmiddel of entstof ontwikkel en vrylik beskikbaar is nie.”

Dit is moeilik – indien nie onmoontlik nie – om te onderskei tussen die risiko vir besmetting in ʼn besige winkelsentrum of in ʼn mynskag, met dieselfde konsentrasie van mense in ʼn kerk of ander aanbiddingsplek, het Swain bygevoeg.

“Die regering moet sy huidige posisie hersien wat betref die godsdienstige gemeenskap. Versuim om dit te doen, is om die noodsaaklike en unieke bydrae van die godsdienstige gemeenskap te ignoreer of te onderskat. Deur die geskiedenis heen was die godsdienstige gemeenskap gewoonlik aan die voorpunt van ʼn reaksie op siektes. Buiten vurige en voortdurende gebede vir die regering en diegene wat in ons gemeenskappe ly, bied dit ook praktiese diens, geestelike leiding en ondersteuning.

“Dit sluit voeding en verskaffing van klere aan behoeftiges, bejaardes en ander kwesbare mense in, asook vertroosting, berading, bemoediging, sorg en ondersteuning vir diegene wat geraak word. Daar is ook die beduidende bydrae wat die godsdienstige gemeenskap kan bied om ʼn samelewing, wat in angs verkeer, te kalmeer.”

Hy het bygevoeg vir talle persone, wat die gevolge van die pandemie en die afsondering moet hanteer, is die godsdienstige gemeenskap hul enigste lewenslyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sarel ·

Dan moet dit met VERANTWOORDELIKHEID geskied en nie soos die geval in Bloemfontein nie.

Willem ·

Ek stem 100% saam maar n soortgelyke Bloemfontein insident moet voorkom word, maar ja op die stadium kom ons as burgers van SA asook alle ander ondersteunings groepe met niks reg nie. Die deel in die grondwet insake menseregte bestaan die afgelope 7 weke glad nie.

Anel ·

Was mense regte ooit op ins van toepassing? Die regeting is bang vir Christene.

Sarel ·

Tans is ek dasrop ingestel.om.elkevoggend na vetskillende boodskappe op sosiale netwerke sois FB en W/app te luister as in die verlede

Rudolph ·

Dit gaan vir die georganiseerde kerke maar net oor die inkomste wat hulle verloor dit is hoekom kerkleiers vasklou aan uitgediende konsepte. ‘n Mens hoef nie met ander mense skouer aan skouer te sit of staan om sy spiritualiteit / geloof te beoefen nie.

Fluisterwind ·

Heb 10:25 en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.

Anel ·

Dankie Drikus. Die Here het gesê ons miet saam aanbid maar moet ook in die afsondering van jou binnekamer dit doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.