Gaan Pretoria en Johannesburg ANC-EFF-regerings kry?

Argieffoto

Persoonlike verhoudinge kan die deurslag gee in die vraag of die ANC en die EFF teen die DA gaan saamspan in die twee grootste Gautengse metropole.

Dit is uit verskillende oorde aan Maroela Media gesê. Die ANC en EFF kon vanoggend in Port Elizabeth nie daarin slaag om die DA se nasionale voorsitter, Athol Trollip, as burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro te ontsetel nie nadat die DA-speaker, Jonathan Lawack, ʼn mosie van wantroue in Trollip onbepaald uitgestel het te midde van chaotiese tonele in die raadsaal.

Die verwagting is dat Trollip in elk geval so ʼn mosie sal oorleef, met die steun van die ACDP, Cope, die AIC en die Patriotic Alliance, nadat laasgenoemde twee partye hul steun aan Trollip toegesê het, na bewering vir onderskeidelik ʼn komitee-voorsitterskap en ʼn pos op die burgemeesterskomitee.

Julius Malema, EFF-leier, het vroeër vanjaar gedreig dat die EFF die DA “ʼn les gaan leer” in al drie metro’s waar die DA van EFF-steun afhanklik is om te regeer, tensy die DA onteiening van grond sonder vergoeding steun.

Julius Malema Foto: ANA

Dit weier die DA volstrek om te doen, wat aanleiding gegee het tot die EFF se steun aan die mosie van wantroue in Trollip.

Die vraag is nou of inwoners van Johannesburg en die Tshwane-metro in Pretoria hulself moet staal vir soortgelyke gebeure in dié twee metro’s, waar kleiner partye nie die DA sal kan red teen ʼn gesamentlike aanslag van die ANC en EFF nie.

Gaan Johannesburg en die Tshwane-metro dus binnekort ʼn ANC/EFF-regering kry?

Dit hang natuurlik van die EFF af, as die party wat die magsbalans in albei metro’s beheer, maar navrae aan EFF-lede het hierdie week aan die lig gebring dat die rooi brigade oudergewoonte – soos uitgeslape derde grootste partye wêreldwyd – hul opsies oop hou en hul kaarte naby hul bors speel.

Die opruiende uitsprake wat die naweek teen die EFF gemaak is deur DA-leiersfigure soos Trollip en die DA-hoofsweep, John Steenhuisen, het ook nie ongesiens verbygegaan in die EFF nie.

Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane. Foto: http://da-gpl.co.za/

DA-bronne in sowel Johannesburg as Pretoria was oor die naweek onseker oor wat hul rooi samewerkende vennote gaan doen, maar het uitgewys dat sowel Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, as Solly Msimanga, burgemeester van die Tshwane-metro, aansienlik harder gewerk het as Trollip om ʼn goeie verhouding met die EFF te vestig.

Die EFF het in die verlede al verskeie komplimente oor Msimanga uitgespreek, en Mashaba se goeie verhoudinge met EFF-raadslede en sommiges in die EFF-leierskap is welbekend.

Mashaba het byvoorbeeld, voor die aanvaarding van die mees onlangse metrobegroting, eers ʼn wegbreeksessie met Johannesburg se EFF-koukus gehou om te hoor hoe die EFF se voorkeure in die begroting geakkommodeer sal word.

Ook Msimanga handhaaf ʼn oopdeur-beleid met die EFF, wat al op praktiese vlak tot samewerking gelei het.

Dit is aspekte soos hierdie wat DA-lede in Johannesburg en die Tshwane-metro in Pretoria – en in ander stadsrade soos Thabazimbi en die Modimolle-stadsraad in Nylstroom, waar die magsbalans vergelykbaar is – moed gee dat die EFF nie sy lot by die ANC sal ingooi nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Jerry ·

Pta en JHB gaan ANC en EFF koalisie regerings kry omrede die ANC die EFF tot n groot oorwinning gehelp het deur die mosie vir grondonteiening sonder vergoeding te steun. Die EFF skuld dus die ANC n grote en wat kan n groter guns wees as beheer oor al die groot metro’s!

Cherokee ·

Jy verstaan nie mooi nie. Die ANC het nie die EFF ‘n guns gedoen deur vir grondonteiening sonder vergoeding te stem nie. Hulle het eintlik die EFF teengestaan want ANC het hulself die guns gedoen om ook daarvoor te stem en sodoende stemverlies tot voordeel van die EFF te voorkom.

Willem ·

Che, ek het aanvanklik vir Jerry goed bygekom onderaan sy kommentare. Ek lees so ‘n week gelede ‘n kommentaar van hom, en ewe skielik voel ek ongelooflik klein, ek krimp so weg en kry hom oneindig jammer oor sy tekort aan insig. Ek hoor wat hy sê, hy is oral, wil gehoor word, maar niemand luister nie. Ek wens ek kon hom help, maar net daar het ek besluit, ek sal nooit ooit weer kommentaar onderaan se skrywe lewer nie. Wil hom nie kleineer nie en in die proses versaak ek myself.

Cherokee ·

Willem, ek stem 100% met jou kommentaar saam. Dit dalk die eerste keer wat ek reageer op een van die dinge wat hy kwytraak, maar ek voel soos jy daaroor. Ek sien in die stad somtyds mense wat met hulself praat. Iemand luister darem vir hulle al is dit net hulself.

Casper Labuschagne ·

Dat die EFF, wat bloot die fascistiese persoonlikheidskultus van Julius Malema is, ‘n ultimatum aan die DA stel dat hulle steun vir ‘n spesifieke beleid (onteiening in die geval) as voorwaarde stel vir samewerking in ‘n koalisie verbaas my nie regtig nie. Vorentoe gaan ons net meer en meer sulke absurditeite vanaf die EFF, oftewel Malema, af sien.

Dit sal ‘n logiese gevolg wees dat die ANC en die EFF ‘n koalisie kan vorm om die DA te ontsetel. Daar is ten minste een persoon wat die EFF wil terugtrek in die ANC in, en dit is die adjunk president David Mabuza wat nie ‘n etniese steun buite sy provinsie Mpumalanga geniet nie. Malema kan vir Mabuza die breë steun verleen wat Mabuza as ‘n magsbasis benodig en tussen die twee kan hulle besluit wie sal waar sit nadat hulle vir Ramaphosa uitgewerk het.

Die ou Sjinese wyshede beskou dit as ‘n vloek om in interessante tye te lewe.

Marius ·

En intussen skitter die VFPlus in hulle afwesigheid. Hoe kry die EFF as klein party dit reg om soveel aan dag te trek maar die VFPlus is skaars sigbaar?

CG ·

Marius. Die antwoord is eenvoudig. Omdat kiesers wat volgens beginsel stem vir die VF Plus behoort te stem, so skaam is om vir hille eie mense te stem dat hulle eerder DA of Cope sal stem. Of nog erger, glad nie stem nie. Die EFF is ‘n 6% party, die VF Plus ‘n <1% party. Buitendien is die EFF onaantasbaar, maar dir VF Plus ' n gerieflike slaansak.

Etienne Prinsloo ·

Daar is ‘n betekenisvolle groep blankes wat ANC stem of buite stemming bly om die DA ‘n sg “les” te leer. In Venezuela het die massas eers vir Chavez en toe vir Maduro betoog, nou dat hulle honger en sans hoop is, betoog hulle weer, in essensie teen hukself. Die “virtue signalling” van uit veral die jong, blanke vrouekamp gee meer momentum aan Malema et al, met sy Lord Renwick inspireerde toesprake en partybeleid. “Good governance” maak in Afrika geensins ‘n impak op die massas nie. Hulle weet dat hulle ander landsburgers se eiendom in hul eie sakke kan “in stem” en Malema et al gaan hierdie maksimaal tot hul voordeel gebruik. Verder tel die bevolkings demografie in SA teen enige sinvolle verbetering in lewens kwaliteit vir die massas. Die skade van die Zuma jare en die steun wat hy ten spyte daarvan nog steeds geniet, wys waar die massas. Daar is nie genoeg kapitaal in SA om elke nuwe nedersetting wat oornag verskyn van basiese geriewe te voorsien nie. Hierdie word deur blanke liberale voor die DA gehou, maar sal diegene nóg meer belasting wil betaal? Malema gebruik juis hierdie situasie om steun te bou, met sukses omdat populisme altyd in Afrika die botoon voer. SA se bevolking is grootendeels “servants” en nie “citizens” nie. Hierdie skep massiewe probleme vir non populistiese partye. After all, Africa strives for the opposite of excellence.

Reguit ·

Oëverblindery. Die EFF is in die geheim (kovert) deur die ANC gestig met ‘n doel. Die EFF is reg van die begin af die militante filiaal van die ANC. Hulle werk saam en binnekort gaan die naïewe wittes dit mooi sien. Ou Rama is mos die “goeie ou”. Ja, right.

Cherokee ·

En dit het hulle destyds by die NP geleer toe diè die KP gestig het om die HNP te opponeer.

LB S ·

Reguit, dit is wat ek nog altyd gesê het. Die ANC het die EFFers gebruik om eers hul vuilwerk te doen. Dit is nou gedoen en nou kan die EFFers maar weer inkom uit die koue.
Dan is daar nog mense wat nie vir die grootste opposisie party wil stem nie. So watse kans sal ons ooit hê om van die ANC ontslae te raak!

Koos ·

Laat die EFF en ANC dan die mense daar regeer, dat hulle kan ervaar waarvoor hulle hul ingelaat het!

Reguit ·

Mooi Cherokee, jy is skerp. Korrek. Daar is net een ou ekstra puntjie wat mense gewoonlik mis: Die hele sogenaamde “regse” spul was deur die Broederbond (vandag bekend as die Afrikanerbond) gestig, beheer en bestuur. Almal valse-vlag op ‘n streep met Broeders aan die stuur. Noem maar op: KP, HNP, AWB, BSP, AEB, VF, AVP, FN, ensovoorts. Verdeel en heers. Tot vandag toe – almal valse-vlag en onder die AB se beheer. Sodoende kon (en kan) hulle so te sê al die witmense mooi in groepies plaas (‘n “tuiste” gee) en hulle dan lekker beheer en bestuur (mislei, kalmeer, “gelukkig” hou). Dit werk. En die skapies blêr rustig voort.

Kerneels ·

As meer mense Vfplus stem ipv wegbly by stemstasie sal ons ook ‘n se he. Mense besef nie hulle stemme tel nie. Die DA leier is net bekommered oor ‘sy’ mense wat in shacks bly en werkloos is en van Sassa afhanklik is. Is dit u? Nou hoekom stem u DA. Hulle gaan nooit vir ons praat nie en dis ons stemme wat hulle groot maak maar hulle is skaam daaroor te bang hulle word as wit party gesien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.