Garsie-kaptein breëbors oor historiese sege

Hoërskool Garsfontein se eerste rugbyspan. Foto: Verskaf.

Teen hierdie tyd weet omtrent elke Pretorianer (én skolesport-liefhebber) dat Garsfontein die afgelope Saterdag vir Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) met 20 – 19 op die rugbyveld geklop het.

Dit is ’n eerste in Garsies se geskiedenis dat hulle die Wit Bulle klop en ook die eerste keer in 12 jaar wat dié twee spogspanne swaarde kruis.

Maar – en verskoon tog die geykte stelling –  ’n span het ’n sterk kaptein nodig indien hy met stewige vertonings op die veld wil vorendag kom.

En in Anrich Engelbrecht het Garsfontein ongetwyfeld só ’n leier.

“Dit was ’n geweldige eer om my span op Berepark voor ons tuisskare op die veld te lei. Die feit dat ons ’n kans gestaan het om geskiedenis te maak het as ekstra motivering gedien,” het die Garsfontein-flank gesê.

Naelbyt-aksie en drama is twee van ’n goeie skoolwedstryd se hoofbestanddele en die afgelope naweek was dit beslis op die spyskaart te siene.

Garsies het ’n rustydvoorsprong van 20 – 7 geniet, maar ’n paar geel kaarte het – soos wat Christia Visser sou sê – die deur vir Affies oopgelos.

Die tuisspan het egter genoeg gedoen om die kragmeting met een punt te wen.

Was Engelbrecht enigins bekommerd oor die uitslag?

Anrich Engelbrecht in aksie teen Affies. Foto: Jandré Verster. 

“Nee,” is sy onmiddellike en selfversekerde antwoord. “Ons het op ons voorbereiding gefokus en geglo dat ons gereed vir ’n oorwinning was. Dan het ons die beste afrigters en ons het vertroue in die spelpatroon wat hulle ons leer.”

“Terselfdertyd herinner ek die spelers aan die beginsels waaraan ons tydens oefensessies skaaf; ’n wedstryd is ook eers verby wanneer die eindfluitjie blaas.”

Die Affies-wedstryd was om nog ’n rede ook spesiaal vir die Garsfontein-kaptein: Hy is bevriend met Stehan Heymans – Affies se kaptein.

“Ons was saam in Laerskool Tygerpoort en ons het gereeld op Sondae saam geoefen om ons vaardighede op te skerp. Dit was vir my ’n voorreg om weer saam met ’n ou vriend op die rugbyveld te wees.”

’n Rugbyseisoen bestaan egter nie net uit een wedstryd nie en in die komende Wildeklawer-toernooi wag Framesby en Paul Roos op Garsfontein, terwyl ligawedstryde ook altyd vir hope aksie sorg.

Dit is inderdaad moeilik om ’n skoolsportman in die Covid-19-era te wees waar bepalings gereeld deurmekaar gekrap word, maar volgens Engelbrecht het hy ’n paar waardevolle lesse in dié tydperk geleer.

’n Tevrede kaptein. Foto: Verskaf.

“Dit het ’n mens net weer opnuut laat besef watter rol rugby in jou lewe speel, terwyl jy ook moet probeer om elke geleentheid met twee hande aan te gryp. Ons het ook weer kans gekry om aan ons vaardigheide te werk waarvoor ons nie in ’n normale seisoen tyd voor kry nie.”

Volgens Engelbrecht het hy rugbygewys ’n korttermyn- en langtermyndoelwit. En jy hoef ook nie te ver tussen die reëls te lees om te besef dat die korttermynplanne ook sommer as ’n waarskuwing vir Garsies se teenstanders dien nie.

“Ek wil nou graag elke toernooi saam met Garsfontein wen, terwyl ek beplan om saam met my studies ná skool rugby te speel.”

Saterdag se oorwinning was egter een van die groot hoogtepunte in Engelbrecht se hoërskool-hoofstuk. Hy en sy span was deel van ’n stukkie Garsfontein-geskiedenis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

piet ·

Hoekom het hulle soveel jare nie teen Affies gespeel nie? Hulle is duidelik sterk genoeg.

Eclectus ·

Wys net weer, ‘n trop skape met ‘n leeu as leier kan meer vermag as ‘n trop leeus met ‘n skaap as leier.

piet ·

Dit gaan maar alles oor goeie afrigting. Skole soos Paarl Gim het selfs ‘n gewese Springbok wat hulle afrig (Pieter Rossouw).

SirDikDeDunnerin ·

Sjoe, Garsies se dissipline kort werk!

Van 20-7 na 20-19 – dink die artikel slaan verkeerde snaar.

Alle sterkte vir die twee spanne!

Patch ·

Baie geluk Garsies! Ek is steeds trots op die skool al is ek ‘n oud-Garsie rugby ouer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.