Gautengse staatshospitale se munisipale skuld ‘net R78 miljoen’

(Foto: Leonie Bezuidenhout)

Staatshospitale in Gauteng het sy skuld van R421 miljoen aan munisipaliteite tot net sowat R78 miljoen verminder.

Volgens die Gautengse departement van gesondheid het staatshospitale in die provinsie teen einde Julie die bedrag van R421 miljoen geskuld, maar is daar intussen meer as R343 miljoen aan die betrokke munisipaliteite oorbetaal.

“Die departement het dit nog nooit verontagsaam om sy skuld aan die munisipaliteite vir dienste gelewer te betaal nie, aangesien dit noodsaaklik is om kritieke munisipale dienste te onderhou waarop die departement staatmaak wanneer gesondheidsorgdienste in ons fasiliteite gelewer word,” het Motalatale Modiba, woordvoerder van die departement, gesê.

Die departement maak volgens Modiba weekliks betalings aan munisipaliteite en ander diensverskaffers. Op 28 Augustus is R1,2 miljoen aan munisipaliteite betaal en daar sal aan die einde van die week weer ʼn betaling gemaak word. Dan sal die skuld sowat R78 miljoen beloop.

“Dit is algemene praktyk dat verskuldigde bedrae geverifieer word sodat eindgebruikers van die diens kan bevestig wat gefaktureer word. Sodra bedrae bevestig en dispute uitgeklaar is, betaal die departement dan die uitstaande bedrae.”

Modiba het wel bevestig dat krag weens laat betalings na van sy distrikskantore in die Tshwane-metro en Merafong-munisipaliteit afgesny is, hoewel gesondheidsinstellings soos hospitale, klinieke en gemeenskapsgesondheidsorgsentrums nie geraak is nie.

“Die departement het samesprekings met die onderskeie munisipaliteite en Eskom gevoer om hul korrekte rekeninge betyds in te dien. Die departement hou ook weeklikse vergaderings en volg kwessies met munisipaliteite op vóór enige beduidende negatiewe ingreep op bedrywighede weens vertraagde betalings ná laat indiening van fakture, dispute weens verkeerde fakturering en gedupliseerde fakture.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Porseleintjie ·

” Die departement het nog nooit versuim om sy skuld te betaal nie ” lees die berig. Tog sê dit hul skuld was R421 miljoen en sal einde vd week R78 mijoen wees. Net wanneer jy NIE BETAAL NIE het mens SKULD van miljoene.

Wondermaarnet ·

Hoekom laat Eskom of enige munisipaliteit toe dat skuld ophoop?

Bolandse Nooi ·

Ag, wat …. “net R78 miljoen” … Wat is R78 miljoen dan nou ook?

annie ·

Al gehoor van die NHI? Dit is presies hoekom die staat hierdie planne het; om geld te vat waar daar nog oor is om te maak of hulle die skuld gaan betaal. As ‘n leeu al 50 skape van ‘n boer gevang het, wat is die kans dat hy wanneer hy honger is en ‘n skaap sien, dit nie ook sal verorber nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.