Gautrein hervat alle dienste

Pendelaars was woedend omdat hulle eers op die nippertjie van die onderbrekings in kennis gestel is. (Foto: Boi_tumelo_/Twitter)

Die Gautrein sê alle dienste is Vrydagoggend hervat nadat ʼn kragonderbreking honderde pendelaars gestrand gelaat het. Treine het halfpad tussen Johannesburg en Pretoria tot stilstand gekom en die diens tussen Sandton en die OR Tambo-stasie is opgeskort.

“Ons is verheug om te sê die kragtoevoer is herstel en die treindiens is ten volle in werking. Ons vra om verskoning vir die onderbreking vanoggend,” het Gautrein in ʼn SMS aan pendelaars gesê.

In ʼn vroeëre boodskap het die treindiens gesê ʼn kragonderbreking het hom gedwing om die treindiens tussen Midrand en Parkstasie en Sandton en die OR Tambo-lughawe te staak. Hy het pendelaars gevra om alternatiewe reëlings te tref.

Die DA het Gautrein gekap omdat hy nie die probleme betyds aan pendelaars deurgegee het nie.

“Dit is onaanvaarbaar dat Gautrein-pendelaars eers 20 minute ná die kragonderbreking ingelig is dat net beperkte Gautrein-dienste gelewer kan word,” het die DA-woordvoerder van vervoer in Gauteng, Janho Engelbrecht, gesê.

Hy gaan ook vrae in die Gautengse provinsiale wetgewer stel oor wat tot die kragonderbreking gelei het en waarom Gautrein nie ʼn rugsteun-kragopwekkingstelsel gehad het nie.

Talle gefrustreerde pendelaars het op sosiale media uitgevaar en Gautrein én Eskom voor stok gekry omdat hulle nie betyds by die werk of skool kon kom nie. Ander het hul vlugte verpas.

Eskom het Donderdag fase 2-beurtkrag deur die nag in werking gestel in ʼn poging om Vrydag die ligte aan te hou.

Hy het vroeër in die dag die werking van drie opwekkingseenhede verloor en moes deur die loop van die dag op noodreserwes staatmaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sê maar net ·

Pas bietjie beurtkrag toe in Ga-Rankuwa, Soshanguwe, Mamelodi, Soweto en en en. Sal dan sien hoe vinnig word die probleem opgelos!

Frikkie ·

Stem saam, nog ooit het ek Soshanguve en Mabopane sonder krag gesien.. Bly610 km van hulle af en kan duidelik dien….

Gert van Wierdapark ·

Van beplanning word nie te veel geweet nie, maar verskonings en agter-uit beplanning is aan die ” Orde van die Dag” in ons “Democrazy”!

Pampoen ·

Ek kan my indink dat dit 20 minute kan vat om die probleem te identifiseer en die alternatiewe te weeg en om te bepaal hoe lank dit gaan neem. Nee wat, DA, vat ‘n chill-pill.

Wat's volgende ·

Eers die SOCs. Nou Gautrein. Hoelank voor ACSA aan die beurt kom. Sovêr lyk dit darem nog of die vliegtuie betyds (redelik) is.

Bosburg Boks ·

Kom ons hou op kla. Kom ons doen iets konstruktiefs. Ons is dit verskuldig aan ons nageslag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.