Gebaretaal help inklusiewe skoolstelsel skep

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Cottonbro/Pexels)

Die gebruik van gebaretaal in skole sal nie net ʼn inklusiewe skoolstelsel skep nie, maar ook talle gehoorgestremdes toegang tot beter onderrig gee.

Dít volgens die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) wat Vrydag, op Internasionale Gebaretaaldag, die waarde van gebaretaal in die onderwysstelsel opnuut benadruk het.

“Dit is belangrik dat ons ʼn inklusiewe skoolstelsel skep wat ook die behoeftes van dowe mense in ag neem,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas.

Hoewel die onderwysstelsel reeds voorsiening maak vir dowe leerders by spesifieke skole, meen Deacon dat onderwys en die samelewing in die geheel sal baat by beter toegang tot en begrip van Suid-Afrikaanse Gebaretaal.

“Hoeveel mense weet dat daar nie ʼn generiese gebaretaal is nie? In ons land gebruik ons Suid-Afrikaanse Gebaretaal, wat een van meer as 300 gebaretale wêreldwyd is.”

Daar is reeds vroeër vanjaar aangekondig dat Suid-Afrikaanse Gebaretaal binnekort as die land se 12de amptelike taal erken gaan word en die departement van basiese onderwys het onderneem om die taal as ʼn opsie in die skoolkurrikulum in te sluit.

Fedsas sê hierdie momentum moenie verlore gaan nie en vra dat gebaretaal selfs meer bevorder moet word.

“Suid-Afrikaanse Gebaretaal is ʼn volledige taal met sy eie taalreëls, woordeskat en sintaks. Indien meer mense die taal magtig is, sal dit ʼn belangrike bydrae lewer tot inklusiwiteit,” sê Deacon.

“Dink net watter verskil dit sal maak indien meer tolke beskikbaar is om deelname vir dowes by byvoorbeeld skoolbeheerliggaamvergaderings moontlik te maak.”

Fedsas het reeds ʼn reeks van ses video’s vir beheerliggaamopleiding gemaak wat ook in Suid-Afrikaanse Gebaretaal beskikbaar is.

Die organisasie ondersteun ook pogings om toegang tot beter onderwys vir mense met gehoor- en ander gestremdhede uit te brei.

“Ons rus beheerliggame toe om gehalte-onderwys in openbare skole te bevorder en Fedsas se opleidingsmateriaal, ʼn Praktiese handleiding oor skoolbeheer, is ook vanjaar in Afrikaanse braille uitgegee.”

Fedsas hoop dat mense sal besef dat die kennis van Suid-Afrikaanse Gebaretaal tot voordeel van almal sal strek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nici ·

Goeie idee, net jammer dat die woord ‘inklusief’ vir my ‘n vloekwoord geword het. Sal goed wees om ‘n nuwe woord te vind wat geensins polities gemotiveerd is nie en dieselfde oorspronklike betekenis het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.