Gebrek aan veiligheidsplan laat boere kwesbaar

(Foto: pixabay)

TLU SA het opnuut sy stem dik gemaak oor die afwesigheid van die regering se beloofde landelike veiligheidsplan nadat ʼn boer Sondag in die Badfontein-omgewing naby Lydenburg in ʼn plaasaanval vermoor is.

Die betrokke boer en sy vrou, wat albei in hul 60’s is, is vroeg Sondagoggend deur twee aanvallers oorrompel. Hoewel die boer ʼn vuurwapen byderhand gehad het, kon hy nie daarin slaag om die aanvallers te keer nie en hy is in die proses doodgeskiet. Sy vrou is kort daarna vasgebind, aangerand en beroof.

Ronnie Schilling, ʼn streeksbestuurder van TLU SA, sê hy was met afgryse gevul toe die nuus van die jongste plaasaanval hom bereik het.

“Dit is al die hoeveelste plaasaanval en dit voel nou al asof ons boere geteiken word,” sê hy.

“Boonop gaan boere groot uitgawes aan om hulself te midde van voortdurende aanslae so goed moontlik te beveilig.”

Nog ʼn broer is vroeër verlede week geteiken en op geskiet tydens ʼn gepoogde plaasaanval.

Kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder, sê die boer het op 12 Januarie in sy plaashuis naby Bishopstowe in KwaZulu-Natal geslaap toe sy honde onophoudelik begin blaf het.

“Hy het uit die huis gegaan om ondersoek in te stel toe daar na bewering skote in sy rigting geskiet is. Hy is gewond, maar niks is in die aanval gesteel nie.”

Die polisie ondersoek tans ʼn saak van poging tot moord, maar niemand is al in verband met die aanval vasgetrek nie.

“Die landelike beveiligingsplan moet ʼn absolute prioriteit by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) word. Dit is ooglopend dat die regering nie die vermoë het om ʼn veilige omgewing te skep vir die sektor wat die nasie voed nie, maar ons kan nie langer bekostig om sonder ʼn werkende beveiligingsplan voort te gaan nie,” sê Schilling.

Gawie Lötter, ʼn bestuurder by TLU SA, sê Bheki Cele, minister van polisie, se afwesigheid wanneer dit by plaasaanvalle en -moorde kom, wys die prioriteit wat landelike beveiliging by die regering inneem.

“Sedert die minister in Junie 2022 ʼn taakspan aangestel het wat spesifiek na landelike beveiliging moet kyk, het hy nog nie één keer met hulle vergader nie,” beweer hy.

“Die regering behoort begrip te hê dat hulle stilswye gaan veroorsaak dat gemeenskappe nie ʼn ander keuse het as om hulself met hul eie veiligheidsplan te beveilig nie. Die SAPD kan deel vorm van hierdie plan indien hulle in staat is om wel ʼn verskil te maak,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Suzette ·

Die boere maak nou ongelukkig nie deel van die “bedreigde spesie” lys uit nie…. daarom sal daar niks gedoen word nie. Punt.

Danie ·

Bedreigde spesie is ook besig om tot n einde te kom al die sogenaamde planne net n rookskerm om geld te maak.Daar is niks wat die regering nie doen as om n donker agenda te dryf nie.

Christine ·

Ons moet vir eens aanvaar dat die regering niks daaraan WIL doen nie, want dis deels van HULLE agenda… Om boere van hul plase te dryf. Ons is op ons eie.

Kokerboom ·

Die onderwerp is al jare in debat en nogsteeds besef ons nie dat die kaderregering GAAN NIE ‘n plan opstel want 1. hul gee nie om en 2. hul KAN NIE!
So SA Landbou: stel jul eie plan op en implementeer asb!

Frank ·

Ja, maklik gesê. Ons wil die kommando stelsel terugbring maar die regering wil dit natuurlik nie toelaat nie. So, ons moet na planne B en C kyk.

Danie ·

Wel vir 36 jaar sover ek onthou was daar nog nooit so n plan of enige moeite om boere in landelike of stedelike gebiede te beskerm nie.En daar sal ook nie vir die toekoms wees nie.Alles deel van die regering se aksie plan.

christo ·

Maar wanneer daar politieke moorde plaasvind, is Bheki Cele dadelik daar om ‘n spesiale polisie taakspan saam te stel. Vir hom is dit net: ” Another Boer bites the dust”.

Eugene ·

Cowboy en Cyril redeneer so: hulle koop groente en vrugte by pnp of checkers of by ShopRite, maar wat hulle vergeet, dit kom van plase af. Sonder Boere, sal daar geen maar geen voedsel wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.