Gebreke in aanlyn skoleregistrasie gepak

aanlynregistrasie-2018

‘n Skermskoot van die Gautengse onderwysdepartement se aanlynregistrasiestelsel. Argieffoto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Die burgerregte-organisasie AfriForum en die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het Maandag ʼn dringende prokureursbrief aan die Gautengse departement van onderwys gestuur waarin die twee organisasies beswaar maak teen gebreke in die provinsie se aanlyn skoleregistrasieplatform.

Beide organisasies is bekommerd oor die wyse waarop die platform opgestel is. Volgens die departement en ʼn proeflopiestelsel maak dit glad nie voorsiening daarvoor dat ouers self kan besluit watter skool hul eerste keuse vir hul kinders in gr.1 of gr. 8 in 2020 is nie.

Die skool wat geografies die naaste aan die ouers se woonadres geleë is, word ongeag die skool se taal van onderrig, vakaanbod of selfs koshuisopsies as die primêre keuse aangebied.

Met dié dringende prokureursbrief vra AfriForum en die SOS dat die stelsel aangepas word, of dat die proses eers uitgestel word totdat dit hersien kan word sodat ouers wel op grond van hierdie aspekte ʼn keuse kan uitoefen.

Verder voel albei organisasies sterk daaroor dat leerders wat vanjaar reeds vir gr. R by ʼn laerskool in Gauteng geregistreer is, voorkeur moet geniet vir gr.1-plasing by die betrokke skool in 2020.

“AfriForum en SOS dring daarop aan dat die Gautengse onderwysdepartement voor of teen Vrydag op dié brief moet reageer. Indien dit nie geskied nie, sal die organisasies verdere regsoptrede onderneem.

“Ons kan nie toelaat dat die Gautengse onderwysdepartement namens ouers oor die onderrig van hul kinders besluit nie. Dit is teenstrydig met ouers se regte en benadeel kinders ook in die proses,” het Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys, gesê.

“Verder is dit duidelik dat hierdie net nóg ’n manier is waarop suurstof weer aan die ideologiese vlam gegee word. Met hierdie stelsel het Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, gepoog om Afrikaans as medium van primêre en sekondêre onderrig ten gunste van eentalige Engelse onderrig uit te faseer.

“Hy speel steeds die raskaart (wat Afrikaanse onderrig betref) om ouers te oortuig dat die bestaan van Afrikaanse skole die rede is vir die departement se jaarlikse onvermoë om alle leerders te plaas terwyl hy goed weet dat die skuld by sy departement lê, wat onvoldoende skole bou en nie daarin slaag om genoeg moedertaalonderwysers op te lei nie,” het Bloem gesê.

Die aanlyn registrasieplatform open op 13 Mei vir 2020 se leerderregistrasies.

Intussen het die Suid-Afrikaanse onderwysersunie (SAOU) ook vroeër hulle kommer oor die aanlyn registrasiestelsel uitgespreek.

Chris Klopper, hoof van die SAOU, meen die platform en die veranderinge aan die toelatingsregulasies vir skole is ʼn beweging terug na sentralisering.

“Met hierdie aksies beweeg ons terug na die pre-1976‑model van staatskole wat ʼn verlengstuk was van die politieke gesag van die dag.

“Die jongste aanslag ignoreer die feit dat die Suid-Afrikaanse Skolewet voorsiening maak vir openbare skole wat ʼn verlengstuk is van die betrokke gemeenskap,” het Klopper bygevoeg.

Hy meen ook die aanlyn registrasiemodel van die provinsie hanteer skole op ʼn “one size, fits all”‑benadering. Dit maak nie voorsiening vir die beginsel dat ouers ten alle tye ʼn ingeligte besluit moet kan neem nie.

“In hierdie verband word daar eenvoudig geen voorsiening gemaak vir die gelde wat deur skole gehef kan word, die taalbeleid of die toelatingsbeleid van ʼn skool nie.”

Klopper meen in ʼn geografies klein provinsie soos Gauteng kan daar nie sprake wees van voldoening aan die beginsel van sonering as ʼn 30 km‑radius as basis vir ʼn skool se voedingsgebied gebruik word nie. Hy reken daar bestaan ernstige twyfel oor die onderwyskundige basis van so ʼn groot voedingsgebied vir skole.

Volgens Klopper sal die SAOU in oorleg met sy onderwysvennote die regmatigheid van die departement se benadering toets teen die agtergrond van die Grondwet, die SA Skolewet en die beginsels van skole as openbare en demokratiese instellings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gert ·

Dankie tog vir Afriforum. Ek het gedink hierdie is die einde van Afrikaans, want almal sien wat die plan is hier, maar absoluut niemand reageer eers nie!
Sonder Afriforum was Afrikaans lankal reeds daarmee heen.

Gert van Wierdapark ·

Met CR wat reeds ‘n Ace in sy pak kaarte het in die voorste gestoeltes van die a en see, mik Gauteng se mini-ster Lesufi seker self hoog. Sy posisie in Gauteng bly egter die van die “Joker” in die pak!

LATIE ·

ek verstaan nie in rietfontein pta daar net kleur skool maar hul kom van ver af met die taxi af en hoe kan hul se dat moes naaste adres moes daai skool gaan en daai rietfontein het nie eers naaste adres nie dit kom van hammanskraal en soshugwe af hoe nou ???????

pinkie ·

Ons weet almal al ‘n geruime tyd van die stelsel se tekortkominge, hoekom spring hulle nou eers in om te keer???

Judge Dredd ·

Baie belangriker vraag – hoekom doen DA as grootste opposisie niks?

Wat betref Afriforum – regskoste neem tyd en geld – indien nie alreeds nie – sluit aan by Afriforum en maak hul sterker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.