‘Gee OG meer mag’ vra ANC-LP

Kimi Makwetu, die ouditeur-generaal. Foto: Flickr/GovernmentZA

Kimi Makwetu, die ouditeur-generaal. Foto: Flickr/GovernmentZA

ʼn Senior ANC-LP het versoek dat die ouditeur-generaal (OG) se magte uitgebrei word.

Kimi Makwetu, die OG, het Woensdag sy jaarverslag bekend gemaak en gesê onreëlmatige uitgawes het tot R46,36 miljard gestyg in die afgelope boekjaar.

“Die hoofrede vir die toename van onreëlmatige uitgawes is steeds die nienakoming van wetgewing oor verskaffingskettingbestuur. Indien ʼn departement dus nie hieraan voldoen nie en ʼn daadwerklike poging aangewend is om dienste of goedere te bekom, het hulle steeds nie aan wetgewing voldoen nie.”

Volgens Makwetu was die Passasierspooragentskap (Prasa) die grootste sondebok, met R13,9 miljard van belastingbetalers se geld wat onreëlmatig bestee is. Die departement van water en sanitasie is nog een van die sondebokke.

Vincent Smith, ANC-LP en voorsitter van die parlement se staande komitee oor die OG, sê baie van die OG se aanbevelings word nie geïmplementeer nie. “Die OG maak tans net aanbevelings en jaar na jaar word dieselfde kwessies uitgelig. Miskien moet ons na die OG kyk in die lig van ander hoofstuk 9-instellings, wie se aanbevelings sterkter is en waar daar nie net besluit kan word of dit geïmplementeer word al dan nie.”

Smith meen daar moet gevolge wees. “Anders gaan ons net aanhou om ʼn probleem te hê.”

Die OG het bevind daar was ʼn verbetering in die ouditverslae van sowel nasionale en provinsiale departemente, maar dat daar steeds rede tot kommer is. Die meeste van die departemente se ouditverslae was egter onveranderd, terwyl nege departemente en 39 openbare staatsinstellings skoon oudits ontvang het.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

John ·

Die’ miljarde het in bankrekeninge in verdwyn. Hoekom soek hulle dit nie? Jaar na jaar gooi hulle net hande in die lug. Die skelms weet dit.

Johann Marx ·

Hoekom is daar nie meganismes in plek om hierdie “oorbesteding” te verhoed in plaas van agterna te loop soek nie? Hoe moeilik kan dit tog wees? Elke department het tog ‘n begroting en ‘n finansiële bestuurder….die oomblik wat die begroting oorskry word, word alle uitbetalings eenvoudig gestaak. Hoe anders gaan hierdie mense leer om met “ander mense se geld” te werk?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.