‘Geen buiktifusuitbreking’ in Tshwane

(Argieffoto: Unsplash)

Die departement van gesondheid in die Tshwane-metroraad het die versekering gegee dat daar tans geen uitbreking van ingewandskoors in die metrogebied is nie.

Boodskappe oor die kwansuise uitbreking van dié siekte in Gauteng het die afgelope paar dae op sosialemediaplatforms rondgevlieg.

Soortgelyke boodskappe oor ʼn uitbreking is in Februarie vanjaar ook rondgestuur, waarna die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) dit ook as vals verwerp het.

“Ek wil dit onomwonde stel dat daar geen buiktifusuitbreking in Tshwane is nie. Enigiets op sosiale media wat andersins aandui, is fopnuus,” sê Rina Marx, burgemeesterskomiteelid vir gesondheid.

Slegs 43 voorvalle van ingewandskoors is van Desember verlede jaar tot nou in die Tshwane-gebied aangemeld. Laboratoriumtoetse het bevestig dat die gevalle nie geografies verbind kon word nie en dat daar geen aanduiding van ʼn uitbreking is nie.

Geen sterftes is aangemeld nie.

Marx sê die maandelikse watertoetse wat die stad doen wys ook dat geen Salmonella typhi daarin teenwoordig is nie en dat die water aan standaarde voldoen.

Buiktifus is ʼn sistemiese siekte wat veroorsaak word deur bakteriële infeksie met Salmonella typhi en word versprei deur die inneem van besmette kos of water en regstreeks tussen mense. Dit is ʼn aanmeldbare siekte en moet by die nasionale departement van gesondheid gerapporteer word omdat dit tot uitbrekings kan lei.

Simptome sluit in koors wat in die eerste week kom en gaan, maar later nie meer wyk nie, kopseer, maagpyn of -krampe, naarheid, braking, hardlywigheid of diarree. Simptome soortgelyk aan dié van verkoue kan ook voorkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wildemien ·

Dit sal my nie verbaas nie. Ekke het die gagga in Gauteng se water begin proe en maar liewer oorgeslaan na gekoopte water toe.

marius ·

Skink nou maar asseblief vir hul volgende vergadering elkeen ‘n glas vol reguiit uit ‘n kraan . Nie gekoopte bottels nie .

Perdeby ·

Ek drink glad nie bottelwater nie, want ek proe niks snaaks in die water nie. Alles in die kop!

Annatjie ·

Dit is jou keuse, maar moenie huil indien jy siek word van die kraanwater nie. Gee my honde kraanwater en nou die dag toe ek die waterbak skoonmaak was die water vol klein wurmpies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.