Geen cholera in Pta-wateraanleg nie

(Foto: Maroela Media)

Die Tshwane-munisipaliteit het uitslae ontvang van monsters wat gedoen is op verskeie persele rondom Temba en Hammanskraal in verband met die huidige cholera-uitbreking.

Maroela Media het vroeër berig die dodetal in die cholera-uitbreking in Hammanskraal het Maandag tot 15 gestyg. Minstens 95 mense het sedert verlede Maandag by die Jubilee-distrikshospitaal met simptome van diarree, maagkrampe en braking aangemeld. Die stoelgangmonsters van 19 pasiënte is getoets, met laboratoriumuitslae wat cholera bevestig het. Die Tshwane-metro het gesê toetse sal op alle water, selfs dié wat uit brandkrane getap word, gedoen word. Daar sal ook verseker word dat watertenkwaens behoorlik ontsmet word.

Selby Bokaba, woordvoerder van die munisipaliteit, sê verskeie reservoirs, brandkrane, laerskole, klinieke en ander liggings wat water van die Temba-waterbehandelingsaanleg ontvang, is getoets. “Al dié toetse het onweerlegbaar aangedui dat daar nie enige mikrobiologiese smetstowwe bestaan wat dui op E. Coli of fekale koliform wat met die cholera-uitbreking verbind kan word nie.”

Dit beteken dat die water wat via die stad se grootmaatwaternetwerk in die betrokke gebied versprei word, nie enige cholera bevat nie.

“Dit maak egter nie die water veilig om te drink nie, omdat dit op groot skaal met chloor behandel is. Verskeie punte waar watertenkwaens hul voorraad bekom is ook getoets.”

Die munisipaliteit het die omvang van sy toetse vergroot en verskeie pasiënte ondervra sodat die bron van die besmetting opgespoor kan word.

“Ons sal steeds met die betrokke inwoners bly gesels oor verdere toetsuitslae soos wat dit beskikbaar gemaak word.”

Bokaba sê dit is noodsaaklik dat inwoners, wat simptome ervaar, vinnig by die naaste kliniek of hospitaal moet aanmeld vir behandeling. “Moet asseblief nie wag totdat jy erger voel nie. Ons maan alle inwoners om ekstra voorsorgmaatreëls te tref deur goeie higiëne toe te pas.”

Die munisipaliteit verskaf drinkwater deur middel van 52 watertenkwaens aan informele nedersettings vyf keer per week sedert die cholera-uitbreking. Dié tenkwaens lewer gewoonlik slegs drie dae per week water aan inwoners, omdat Hammanskraal nie drinkwater beskikbaar het nie.

“Die stad wag ook angstig op bevestiging van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes om die werklike bron van besmetting te bepaal.”

Lesego Makhubela, woordvoerder van die ANC in Gauteng, lê die faktore vir die uitbreking voor die DA-geleide koalisieregering se deur weens “minagting vir die verskaffing van gehalte dienste aan die mense van Hammanskraal en omliggende townships”.

“Die begin van die huidige cholera-uitbreking kan teruggevoer word na Stad Tshwane se versuim om die waterkrisis te takel wat Hammanskraal al jare lank in sy greep het. Die DA-geleide administrasie het in Augustus 2021 besluit om die Temba-watersuiweringsaanleg te sluit, as gevolg van die agteruitgang van watergehalte weens toerusting wat onklaar geraak het. Duisende inwoners is in ʼn krisis van water-onsekerheid geplaas. Hierdie besluit het tot ingryping gelei deur die Menseregtekommissie en die nasionale regering.”

Makhubela sê die ANC in Gauteng versoek nou dringende ingryping van die provinsiale en nasionale regerings om die lewens te red van mense wat deur die DA-geleide regering in die steek gelaat is. “Ons versoek ook die Spesiale Ondersoekeenheid om ondersoek in te stel hoe die hulpbronne, wat opsy gesit is vir watersuiwering en afvalwaterbehandeling, in die stad aangewend is. Daar is geen rasionele verduideliking oor hoe die Stad al byna ʼn halwe dekade in besit is van die MRK-verslag nie en tog bly die Temba-aanleg in ʼn stand van agteruitgang tot ʼn punt waar dit byna gesluit moet word.”

Hy sê ANC-takke in Hammanskraal sal deur-tot-deur besoeke aflê met ʼn bewusmakingsveldtog oor hoe om water te behandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanR ·

Gebruik net tap water vir skottelgoed was en bad anders is die gekoopte water vir kook, ketel en drink. Beruik ons nou India water status?

Blomkind ·

“Geen Cholera in PTA – wateraanleg nie” Vir nou ja…!!!!!!! Alles gaan mos ten grond asgevolg van ons wonderlike regering… As dinge by die water al so begin, dan moet ons weet…Dis die einde van die EINDE…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.