Geen keer aan semigrasie, rentekoers ten spyt

Volgens Seeff toon vanjaar se statistieke vir verkope in Kaapstad dat daar reeds 51 verkope van eiendomme bo R20 miljoen was. (Foto: Seeff)

Rentekoerse in Suid-Afrika mag dalk hemelhoog wees, maar dit keer talle mense wat toenemend na die Wes-Kaap semigreer klaarblyklik nie om in eiendom hier te belê nie.

Samuel Seeff, voorsitter van die Seeff-eiendomsgroep, sê die tempo in die vraag na eiendom in die ganse provinsie word steeds volgehou – en hy meen dit gaan ook nie gou spoed verloor nie. Dit mag dalk effens afneem, maar hoofsaaklik net omdat kopers sukkel om hul eiendom in ander provinsies te verkoop.

Seeff voorspel verder dat die Kaapse metro al meer as die nuwe kern vir hoofkantore gesien gaan word.

“Semigrasie kan inteendeel verder versnel namate dienslewering in ander munisipaliteite verder in duie stort. Die begeerte om Kaap toe te verhuis word ook gedryf deur mense se soeke na ʼn beter gehalte lewe,” sê Seeff.

Volgens Ross Levin, lisensiehouer vir Seeff Atlantiese kusgebied en die stadskom, is daar veral ʼn groot toestroming na Kaapse kusgebiede.

Hoewel die meeste kopers in die verlede hoofsaaklik van Gauteng en binnelandse gebiede hierheen verhuis het, kom baie mense nou ook van KwaZulu-Natal na die Wes-Kaap.

Baie sakeondernemings skuif ook hul kantore na Kaapstad.

“’n Onlangse opname deur FNB het aangedui dat die kommersiële eiendomsektor in Kaapstad beter as die meeste ander gebiede vaar, met semigrasie wat ʼn lekker hupstoot aan eiendomsontwikkeling gee.

“Daar is ook geen afname in [eiendoms]pryse nie. Inteendeel, Seeff-eiendomsagente ondervind ʼn tekort aan eiendom [om te verkoop], veral in die prysklas tussen R3 miljoen en R18 miljoen. Die Kaap het ook ʼn massiewe herstel in toerisme beleef en daarmee saam die terugkeer van baie internasionale kopers.”

Volgens Seeff toon vanjaar se statistieke vir verkope in Kaapstad dat daar reeds 51 verkope van eiendomme bo R20 miljoen was. (Foto: Seeff)

Vanjaar se statistieke vir verkope in Kaapstad wys dat daar reeds 51 verkope van eiendomme bo R20 miljoen was – ʼn gekombineerde waarde van meer as R1,7 miljard.

“Internasionale kopers het ook baie in eiendom in die eerste paar maande van die jaar belê,” sê Levin.

“Dit sluit in Russiese en Europese kopers, veral van Duitsland, die Verenigde Koninkryk en Nederland, wat na alternatiewe markte soek om in te belê terwyl die oorlog tussen Rusland en Oekraïne voortduur.

“Almal wil nou in Kaapstad wees. As jy ʼn verkoper is, is Kaapstad die plek waar jy wil verkoop. As jy ʼn koper is, is Kaapstad die plek waar jy wil belê,” sê Levin.

Dit is ook eiendomme in die luukser kusgebiede wat tans goed vaar – met ʼn verhoogde vraag na eiendom in die gesogte Kampsbaai-omgewing.

Volgens Nadine Jocum, ʼn eiendomsagent by Seeff, wissel dié eiendomspryse van R5 miljoen tot ʼn allemintige R20 miljoen – selfs vir kleiner, luukse woonstelle.

Adrian Mauerberger en Bryan Ginsburg, agente by Seeff se Atlantiese kusgebied, sê luukse woonstelle tussen R4,5 miljoen en R8 miljoen is veral gesog.

Kopers het oor die afgelope jaar ook al R72 miljoen vir ʼn superluukse strandwoonstel opgedok.

Huureiendom ook hoog in aanvraag 

Benewens verkope vaar verhurings in Kaapstad net so goed.

Volgens Seeff is voorstede soos Blouberg en Valsbaai uiters gewild, asook die suidelike en noordelike voorstede en tot in die Paarl, Stellenbosch en Somerset-Wes.

Meer geld word egter op eiendom in Kaapstad as op enige ander plek in die land bestee.

Mense is verder bereid om meer vir eiendom in Stellenbosch en Hermanus te betaal, asook in die Paarl (veral Val de Vie) en Plettenbergbaai waar eiendomsverkope dikwels R20 miljoen oorskry.

Hoewel baie gebiede in Kaapstad peperduur is, is daar tog steeds heelwat bekostigbare buurte, sê Seeff.

Dié gebiede sluit in Milnerton en sekere dele van Blouberg, waar kopers steeds eiendom teen minder as R1,8 miljoen kan koop, of eiendom teen bekostigbare pryse kan huur.

Mense wat na Kaapstad semigreer, is veral geneig om in dié gebiede te koop of te huur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

VaalDonkie ·

Ja, kom jaag eiendomspryse verder die hoogtes in hier in die Kaap sodat nog minder mense dit kan bekostig.

KatjieDeKat ·

Waar kry die mense die geld???? Almal kla dan dat hulle so sukkel.

Cherokee ·

Ag strooi met die Kaap…… mense daar kan nie eens rooi rokkie sê nie en dit reën in die winter! En die aksente! Natal bly die plek van die plekke in Suid Afrika.

WynandM ·

Sterkte met Natal….dis is mooi maar, net jammer oor mambas en mense

Manie ·

Ag nee jong, Natal kan nie eers goeie rugby speel nie en spoel elke dan en wan ook weg.

Ronel ·

Ek het in Noordwes grootgeword, in 2003 Kaap toe getrek (beste ding wat ek ooit kon doen). Toe is ek dom genoeg en trek Pretoria toe – kon dit net vir 3 jaar daar uithou. Is nou al 10 jaar terug in die Kaap. Beste, beste, beste plek om te bly in Suid-Afrika. Verruil dit vir niks, en waar dit die winters aangaan – dit reën, maar ten minste vrek ons nie van die koue in die winter en nog minder van die hitte in die somer. Die Kaap is awesome!!!!!!

Republikein in die Wes Kaap ·

Kaapstad kan ‘n stadstaat word soos Singapoer. Heeltemal los van die res van die Kaapse republiek.

Delia ·

Jou huis is waar jou hart is, of dit nou Kaap, Gauteng, KZN of watter land ook al.

Republikein in die Wes Kaap ·

Met NGV gaan mediese fondse afgeskaf word. Privaat mediese dienste kom tot ‘n einde en privaat hospitale kan sluit. Nou moet ons almal maar soek vir ‘n provinsie wat kwaliteit dienste verskaf.

Carina ·

Die Weskaap se infrastruktuur kan nie meer die invloei van mense hanteer nie. Waar moet al die water en elektrisiteit vandaan kom? Meer en meer plase word verkoop en bebou met honderde woonstelblokke en huise. Meer en meer grond wat vir kos verbouing kon gebruik word, verdwyn. Eiendomspryse skiet die hoogtes in, jy kry nie meer ‘n ordentlike huis onder R4mil nie. Nee wat, ons soek nie nog mense hier nie. Gaan iewers anders asb.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dis ongelukkig die prys van sukses. Kaapstad se trajek is wel onvolhoubaar. Die metro is ‘n sensitiewe bewaringsgebied en gaan knak met katastrofiese gevolge vir mens, dier en plant. Die stad sal dieselfde pad stap as Johannesburg, Durban, Bloem en Pretoria. Gelukkig bied die landelike streke wel nuwe geleenthede vir kreatiewe ekonomies aktiewe mense. Minder gejaag en ideale plek om kinders groot te maak.

Theresa ·

Nie ek nie, ek gaan verkoop en gaan Noordkus toe, geen belangstelling om Kaap toe te gaan nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.