Geen rooskleurige toekoms vir SA in 2023, tensy …

Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit se sakeskool (Foto: NWU)

Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, meen Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte vir 2023 sal hoofsaaklik gevorm word deur wêreldwyd verwikkelings, Eskom en beleidsimplementering deur die regering.

“Die interaksie tussen dié faktore sal die risiko’s en geleenthede bepaal oor die volgende 12 maande in ʼn veranderende sosio-ekonomiese omgewing in Suid-Afrika en elders.”

Parsons meen die realiteit is dat ondernemings en verbruikers in Suid-Afrika weer ʼn moeilike jaar gaan beleef wat betref inflasie, stygende rentekoerse, hoë werkloosheid, beurtkrag en lae groei. Dit beteken ʼn uitdagende ekonomiese periode wat voorlê.

“Die bruto binnelandse produk se syfers vir die derde kwartaal van 2022 was beter as verwag en dit het Suid-Afrika ʼn beter buffer gegee teen die negatiewe neigings waarop 2022 tot ʼn einde kom. Die inflasiekoers, wat steeds onaanvaarbaar hoog is, sal waarskynlik effens in 2023 afneem – veral as brandstofkoste verder daal.”

Parsons meen egter as daar gekyk word na uitvoere, verbruikersbesteding en belegging, sal ekonomiese groei waarskynlik slegs sowat 1,4% wees. “Dit is laer as die bevolkingsgroei. Daar is geen ander belangrike kwessie vir die toekoms van Suid-Afrikaanse vooruitgang as werklike inklusiewe ekonomiese groei wat versnel moet word nie. Groei is al vir te lank te stadig, soos wat talle opnames en amptelike beleidsverklarings benadruk het.

“Alhoewel die ekonomie dus tans sukkel om momentum te behou in ʼn gekombineerde siklus van verhoogde internasionale en plaaslike ekonomiese onsekerheid, is daar hulpmiddels wat aangewend kan word om Suid-Afrika se ekonomiese weerstand te versterk en meer groei in 2023 kan ontsluit.”

Parsons meen as pres. Cyril Ramaphosa sy politieke mandaat kan omskep in die dringende implementering van pro-groei beleide en projekte, sal Suid-Afrika se vooruitsigte vir werkskepping in 2023 verbeter.

“Eskom moet veral ook dringend herstel word. Geen ekonomie kan groei of werk skep indien deurlopende energie-onsekerheid en grootskaalse ontwrigting voortduur nie.”

Hy sê die bal is dus in die Suid-Afrikaanse regering se hande in 2023 om beleide en projekte te mobiliseer wat werklike vordering sal toon in sleutel- ekonomiese hervorming wat ʼn positiewe verskil kan maak aan sy ekonomiese prestasie.

Hy sê ʼn hupstoot vir beleggersvertroue is ook noodsaaklik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.