Geen stemmery oor Vavi se skorsing

Zwelinzima Vavi op 27 Maart buite die hof Foto: Werner Beukes/SAPA

Zwelinzima Vavi op 27 Maart buite die hof Foto: Werner Beukes/SAPA

Cosatu se ampsdraers het geen bybedoelings gehad toe die voormalige uitvoerende hoof Zwelinzima Vavi geskors is nie, het die Johannesburgse hooggeregshof Donderdag gehoor.

“Dit is duidelik uit die transkripsie dat dit nie die bedoeling van die ampsdraers was om die afgevaardigdes te beïnvloed nie,” het Karel Tipp, vir die vakbondfederasie, gesê. “Die gesprekke was spontaan en weldeurdag.”

Tipp verwys na ʼn spesiale sentrale uitvoerende komiteevergadering wat in Augustus gehou is. Die besluit om Vavi te skors is tydens hierdie vergadering geneem.

Hy sê kommentaar wat aan Vavi toegedig word en vakbonde wat hom ondersteun oor die manier waarop die vakbondfederasie onbehoorlik opgetree het, is wyd gepubliseer in die media.

Regspanne vir Vavi en die National Union of Metalworkers of SA het aangevoer dat die besluit tydens ʼn afsonderlike vergadering deur die ampsdraers geneem is en nie deur ʼn stemproses van die afgevaardigdes van Cosatu se geaffilieerde vakbonde nie.

Tipp het die verskillende vakbonde se voorleggings tydens die vergadering aan die hof voorgehou. Hy het gesê die SA Transport and Allied Workers Union was die eerste vakbond wat melding gemaak het van die skorsing en die SA Democratic Teachers Union het ingestem. Die Police and Prisons Civil Rights Union en die National Union of Mineworkers het ook die skorsing gesteun.

Tipp sê agt van die 16 geaffilieerdes het die skorsing ondersteun en agt was óf daarteen óf wou nie ʼn besluit maak nie.

Tipp sê indien mens aanneem dat die aantal afgevaardigdes binne daardie agt geaffilieerdes, wat die skorsing gesteun het, almal saamgestem het, beteken dit dat daar ʼn meerderheid was en ʼn stemmery nie nodig was nie.

Adjunk regterpresident Phineas Mojapelo het bevraagteken of dit beteken dat daar ʼn besluit geneem is oor die skorsing, aangesien daar ʼn 50/50-verdeling was. Tipp se argument is gebaseer op ʼn aanname, het hy gesê. Hy wou weet of dit nie beteken dat ʼn stemmery wel moes plaasvind nie.

Tipp het daarop gewys dat Sidumo Dlamini, president van Cosatu, versoek het dat ʼn stemmery moet plaasvind, maar die geaffilieerdes het gesê hulle sal dit bespreek en as hulle nie tot ʼn vergelyk kan kom nie, sal ʼn stemmery plaasvind.

Cosatu het in Augustus 2013 gesê Vavi is op spesiale verlof geplaas hangende die uitslag van ʼn tugverhoor wat verband hou met sy verhouding met ʼn junior werknemer. Die werknemer het hom in Julie beskuldig van verkragting en hy het aangevoer dit was ʼn buite-egtelike verhouding. Die werknemer het gevolglik haar klag teen hom teruggetrek.

Vavi eis dat die besluit om hom te skors hersien en ter syde gestel moet word.

Die saak duur Vrydag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.