Geen verhoging vir werkers by LNR

(Foto: LNR/Facebook)

Die vakbond Solidariteit beskuldig die Landbounavorsingsraad (LNR) daarvan dat hy “halsstarrig” is en “roekeloos” teenoor sy werknemers optree.

Dit nadat die LNR steeds voet by stuk hou dat geen verhogings tans by enige staatsinstellings toegestaan word nie en dat hy ook nie vanjaar ʼn verhoging aan werkers gaan gee nie. Solidariteit en die vakbond Nehawu betwis dié stelling en sê verskeie ander instellings in die openbare sektor het wel verhogings aan hul werkers gegee.

“Dit is absurd dat hierdie werknemers nóg ʼn jaar sonder ʼn verhoging moet verduur. Terwyl inflasie en dus lewenskoste toeneem, verarm werknemers. Die LNR het besluit hy handhaaf ʼn 0%-verhogingsaanbod en weier botweg om met enige voorstelle na die tafel te kom of om sy teiken te skuif. Daar word nie eens ʼn poging aangewend om konsensus te bereik nie,” sê Riaan Visser, adjunkbestuurshoof van die mynbou-, landbou- en chemiese sektor by Solidariteit.

“Sodanige optrede kan as niks anders as kwaadwillig beskou word nie,” sê Visser.

Hy sê Solidariteit het reeds verskeie kere probeer om met die LNR te onderhandel en het selfs al omkeerplanne vir die sukkelende raad voorgelê. Hy sê die organisasie weier egter om ag daarop te slaan of om stappe te doen om sy finansiële posisie om te keer.

Die vakbond beskuldig die LNR daarvan dat hy nie sy plig om na werkers om te sien, ernstig opneem nie.

“Die LNR is ʼn baie belangrike liggaam wat ʼn groot rol in landbou en voedselsekuriteit in Suid-Afrika speel. Te midde van die krisis wat hom tans in die land afspeel, is dié liggaam van kardinale belang, tog blyk dit dat die LNR hom nie veel daaraan steur nie en selfs weier om sy verantwoordelikheid te aanvaar,” sê Visser.

Jolanda Andrag, hoof van die bedryfskamer by Agri SA, sê dit is belangrik dat die grond- en navorsingsbasis wat oor jare by die LNR opgebou is, behoue bly.

“Dit is ʼn baie groot bate. Die grond- en navorsingsbasis waarop hulle sit moet in diens van die kommersiële sektor wees,” sê Andrag.

Nie net het die LNR se begroting egter die afgelope paar jaar gekrimp nie; hy is ook verskeie vennootskappe – en die inkomste wat daarmee saamgaan – kwyt omdat organisasies hulle na die private sektor eerder as die raad wend vir navorsing. Private instellings werk ook eerder met universiteite as die LNR saam om navorsing te doen.

Andrag sê die LNR se relevansie het gevolglik die afgelope paar jaar afgeneem weens  ʼn daling in sy kapasiteit om die werk te doen, maar ook weens ʼn afname in die raad se voortgesette vermoë om vennootskappe met die private sektor te sluit.

Talle senior navorsers het die LNR reeds verlaat om by private instellings aan te sluit. Ander gaan werk ná hul aftrede by bedryfsorganisasies of konsortiums waar hulle hul werk voortsit, sê sy.

Solidariteit voer aan byna twee derdes van die LNR se werkers is volgens ʼn oudit – wat in opdrag van die LNR self gedoen is – reeds op soek na ander werksgeleenthede.

Volgens die vakbond is die probleme by die LNR egter nie uniek nie en kom dit ook by verskeie ander staatsinstellings voor. Visser sê swak bestuursbesluite word geneem en daar is ʼn onwilligheid om daadwerklik op te tree om die voortuitgang van die raad te verseker.

“Die bestuur vou eerder hul hande en dink verskonings uit as wat hulle hul werknemers wil vergoed of wil werk om die instelling om te keer. Dit is onaanvaarbaar dat werknemers aan die kortste ent moet trek, veral wanneer ongelukkigheid en die weiering van verhogings nie nodig is nie.

“Nóg Solidariteit nóg Nehawu aanvaar die LNR se weiering om verhogings toe te staan en sal voortgaan om te veg teen die uitbuiting van lede,” sê Visser.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Francois Le Cochon ·

Omtrent 80% van Telkom se personeel het tussen 2013 en 2016 0% vehogings gekry. Solidariteit het destyds niks hieraan gedoen nie, hoekom nou?

Pierre ·

Is dit nie dielfde Solidariteit wat geen verhogings by SAL en ander Staadsinstansies goedgekeur het nie ?

DIABLO ·

Staatsinstelling verloor besigheid aan privaarsektor. Duidelike bewys dat staatsinstellings glad nie werk nie!

Grond ·

Dit is heeltemal verkeerd om te beweer dat “Die LNR is ʼn baie belangrike liggaam wat ʼn groot rol in landbou en voedselsekuriteit in Suid-Afrika speel” . Die werklikheid is dat weinig en by sommige institute geen werk vir komersiële boere gedoen word wat kos vir Suid Afrika produseer.

Jolanda Andrag, hoof van die bedryfskamer by Agri SA, wat sê “dit is belangrik dat die grond- en navorsingsbasis wat oor jare by die LNR opgebou is, behoue bly” is ook van die punt af. As sy werklik geweet het wat in die LNR aangaan sou sy geweet het daar is weinig daarvan in die LNR oor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.