Geliefde student verongeluk op pad na ouerhuis

JD van den Berg (Foto: Verskaf)

’n Student van Sol-Tech in Pretoria is die afgelope naweek op pad na sy ouerhuis in Potchefstroom in ’n trompop botsing dood.

JD van den Berg (23) se familie het onraad vermoed toe hy Vrydag vroegaand steeds nie tuis was nie en ook nie sy selfoon geantwoord het nie. Sy ouers Johan en Marlucia van den Berg en ouboet Marco het besluit om na hom te gaan soek. Hulle het sowat 20 kilometer buite Potchefstroom, op die Rysmierbultpad, op die ongelukstoneel afgekom.

“Toe ons oor die bult kom, toe sien ek die rooi en blou ligte. Ek het ’n gevoel gehad …  maar ’n ou weet nie,” sê Johan.

Die ongelukstoneel was reeds afgesper.

“Ek kon sien dit was twee Toyota Hilux-bakkies wat teen mekaar gebots het en die een bakkie lyk soos myne. Ek het by ’n boer se plaas ingery, al langs die draad af, tot so 20 of 30 meter van die bakkie.”

Johan het sy registrasienommer aan ’n polisiebeampte gegee en dié beampte het die ergste bevestig.

“Ek het oor die draad geklim en na JD toe geloop. Hy was nie meer met ons nie,” vertel Johan.

JD van den Berg en sy pa, Johan. (Foto: Verskaf)

JD is tydens die botsing uit die bakkie geslinger en op die toneel dood verklaar.

“Hy was maar net 23 jaar oud.”

JD het as meulmaker studeer en was byna klaar met sy studies. Hy sou binnekort met sy praktiese opleiding as meulmaker begin.

“Hy het so uitgesien daarna,” vertel sy pa. “Sy ou toolboxie was al reggepak.”

JD het as studenteraadslid van sport by Sol-Tech gedien en het die afgelope ruk tussen sy ouerhuis in Potchefstroom en Pretoria gependel waar hy drie dae per week afrigting gedoen het.

“Hy was baie lief vir sy rugby,” vertel sy pa. “Hy was ’n free spirit. Hy het sy dinge op sy manier gedoen. Hy was ’n regte ou dromertjie.”

Johan vertel sy seun, wat aanvanklik onderwys gaan swot het, was ’n ander mens sedert hy by Sol-Tech as meulmaker begin studeer het. “Ek kon sien hy het sy pad gevind.”

JD se medestudente het Maandag tydens ’n seremonie op kampus van Grens, soos hy op kampus bekend gestaan het, afskeid geneem. ’n Vlag het ook heeldag halfstok op kampus gehang ter ere van dié geliefde student.

Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech, het by Maandag se afskeidseremonie vertel dat JD altyd eers sy verpligtinge by Sol-Tech sou nakom voordat hy huis toe sou ry. “Ons het al met hom gesels oor die laat ryery, maar hy wou by sy gesin kom. Sy gesin was vir hom belangrik.”

JD was juis veronderstel om vanoggend met sy medestudente op kampus te gesels oor ’n komende rugbytoernooi wat hy gereël het.

JD van den Berg (Foto: Verskaf)

“Grens was een van ons leiers by Sol-Tech, ʼn staatmaker wat sy SR-lidmaatskap met passie aangepak het, maar altyd met ʼn glimlag. Sy passie was rugby,” het Van Deventer vanoggend tydens sy toespraak aan die studente van Sol-Tech gesê.

“Grens sou juis vanoggend met julle kom gesels het oor die rugbyreëlings en alles wat voorlê. Grens het hemde gereël wat deur sy pa geborg sou word vir die rugby. Toe ek Saterdag met sy pa kontak maak, het sy pa gesê hy wil asseblief steeds die hemde borg, want dit is wat Grens sou wou gehad het.”

Verskeie boodskappe van medelye is vanoggend tydens die seremonie op kampus voorgelees.

“Grens my vriend, my hart is gebreek. Jy was so ʼn wonderlike persoon met die beste sin vir humor. Jy het altyd geweet hoe om my knoppies te druk maar jou skelm glimlag het my laat besef dat jy net ’n grapjas is. Jy was altyd daar wanneer ons jou nodig gehad het en ons kon altyd op jou staat maak. Ons gaan jou grappe, jou serenades, jou droë sin vir humor, jou rugbyleiding, jou drukkies en jou kuiersessies mis…

“Rus sag, Grens.” lui ’n boodskap van ’n mede-SR-lid.

Posted by Johan Van Den Berg on Saturday, July 1, 2023

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Lillian ·

Jou doel op aarde was vervul en Jesus het jou kom haal. Geen woorde kan troos bring nie, maar ek bid sy familie sterkte toe in hierdie tyd en vir jare wat nog kom.

Ruby ·

Van 1 Sol-Tech ouer na ‘n ander…my hart is stukkend vir julle.

Toe ek lees van sy tool-box…hulle is so trots daarop.

Die kameraadskap onder die Sol-Tech manne is werklik iets om te beleef.

Soos julle seun het my seun ook met blink oë daar ingestap, hy was baie gelukkig daar.

Aan JD se geliefdes, mag julle vertroosting kry wat alle verstand te bowe gaan.

Anna84 ·

So hartseer, jy kan sommer sien dit was ‘n goeie seun. Rus in vrede en sterkte vir die ouers wat hierdeur moet gaan.

Nico ·

Mag hierdie gesin sterkte en troos ontvang, die waargeid sal see vier wat die tragiese ongluk veroorsaak het.

madels ·

So verskriklik! My hart gaan uit na die familie en vriende. Mag die Here julle grootliks vertroos in hierdie moeilike tyd

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.