Genade groot al sterf 4 kinders

Tommie as atletiekafrigter. (Foto verskaf)

Sy lewe herinner aan dié van die Bybelse Job. Tommie Tesnar (66), op sy dag ʼn gerekende atletiekafrigter wie se atlete ander top-atlete se rekords laat spat het, is oor die jare keer op keer in rou gedompel nadat hy kinders aan die dood moes afstaan.

Hoe, het hy gedink, kan daar ʼn God van genade wees as sy kinders van hom af wegneem word?

Tommie vertel ʼn jaar nadat sy broer in 1975 tydens ʼn skermutseling op die grens gesterf het toe ʼn opslagkoeël hom getref het, is hy met sy broer se weduwee, Sue, getroud.

Hy het toe sy broer se kinders, Yolandi en Conrad, aangeneem en soos sy eie grootgemaak.

Die paartjie het daarna vier kinders gehad toe hul eie dogtertjies, Tania en Sunet, gebore is.

Die atletiekgene het sterk deur die kinders se bloed gevloei.

Yolandi het op 17 vir die Wêreldkampioenskappe vir junior atlete gekwalifiseer. Conrad was ʼn Suid-Afrikaanse kampioen en op 15 die vinnigste seun in die 1 500 m en 3 000 m.

ʼn Onmeetbare tragedie het hulle getref toe Yolandi 17, Conrad 15, Sunet 12 en Tania 8 jaar oud was.

Die hele gesin het op die oggend van 8 Desember 1990 vanaf Stellenbosch na die Laeveld vertrek om daar by die res van die familie te kuier. Hulle het oorgeslaap in Trompsburg en vandaar om 03:00 vertrek en stadig gery. Die pad was stil.

Naby Trompsburg swaai ʼn aankomende motor, wat oor die pad gejaag het, skielik voor hulle in en ʼn trompop botsing volg.

Die wrak van die gesin se motorongeluk in 1990. (Foto verskaf)

“My eie twee dogtertjies, my vrou, en Conrad is op slag dood. Slegs ek en Yolandi het oorleef.

“Toe die motor my slaan, haak die sleepwa af en my motor tol al in die rondte. Die bestuurder van die ander motor het verkool nadat ʼn gasbottel in sy motor ontplof het.

Dan vertel hy peinsend: “Daardie dag het daar so baie dinge gebeur. Toe ek so erg beseer in die kar sit, kom ʼn jong blonde vrou uit die bloute daar aan en lig my in dat sy gaan hulp soek.

Net daarna kom ʼn plaasboer op die toneel. Hy bevestig toe dat die vrou aan sy deur geklop het. Intussen het sy egter spoorloos verdwyn. Hy het ook nie ʼn motor gesien nie.”

Beide was stomgeslaan.

Hulle motor was opgefrommel. Tom se kakebeen en arm was gebreek en al twee sy knieë was oopgesny tot op die patella. Die stuurwiel, wat deur die impak afgebreek is, het verby hom gesteek.

Die ambulans het byna drie ure later op die toneel gekom. Hulle het my van my kinders af weggehou. Al wat ek gesien het, was Sunet se lang atletiese voet.”

Oor die geheimsinnige vrou sê hy: “Na die tyd wonder ʼn mens of dit ʼn wonderwerk of ʼn bestiering is. Het die Liewe Vader haar soontoe gebring?”

Yolandi, wat ʼn gat op haar voorkop en bloeding op die brein gehad het, was in ʼn koma en is in die hospitaal se waakeenheid opgeneem. Sy was aan die een kant verlam, haar voet was vergruis en haar skouer was gebreek. Sy het baie seer gekry.

Hy is ook in die hospitaal opgeneem met ʼn gebreekte arm wat byna geamputeer is.

Conrad, Sunet, Tania en sy vrou Sue is in die ongeluk dood. (Foto verskaf)

Tommie was verpletter.

“Ek het met die Here geworstel en vir Hom gesê ek weet nie waar ek met Hom staan nie. Ek het net daar gelê en is nie toegelaat om Yolandi te besoek nie.

“Ek kon nie eens my kinders se begrafnis bywoon nie. Dit was vir my erg. Gelukkig het my ouers ʼn video van die preek geneem. Om te sien hoe daardie wit kissies in die graf sak…

“Ek is boonop ingelig dat dokters niks vir Yolandi kon doen nie. Hulle het voorspel dat sy nooit gaan beter word nie en dat my dogter vir die res van haar lewe in ʼn rolstoel sou sit.

“Ek het vreeslik met God gestry. Maar tog gryp ʼn mens soms terug na die Woord.”

Woorde kan nie beskryf hoe hy gevoel het toe hy op 24 Desember hulle huis se deur oopmaak en dit is doodstil nie.

Om weer liefde te vind

‘n Berig oor die ongeluk. (Foto verskaf)

Intussen het ʼn vrou, wat Andriesa getrou verpleeg het, haar gebel en gevra of sy gehoor het van die atletiekgesin wat uitgewis is. Sy moet asseblief terugkom van verlof en in Stellenbosch vir Yolandi doen wat sy vir háár gedoen het.

“Daardie mense het jou nodig,” het sy gesê.

Andriesa se ma het haar so ewe ingelig dat dié man dalk net vir haar was.

Sy het pas ʼn verhouding van 8,5 jaar verbreek, was 26 jaar oud en glad nie ʼn partytjiemeisie nie.

Waar sou sy nou ʼn ander man ontmoet? Maar vir ʼn “tweedehandse” en “ou” man (Tommie was 34) het sy ook nie kans gesien nie.

Die noodlot het hulle bymekaar gebring toe sy die verpleegsuster in bevel van die saal was. Hy het haar in die hospitaal ontmoet waar sy vir Yolandi verpleeg het.

“Tommie was moeilik, maar aantreklik. Ek dog toe as hy op my verlief raak, kan ek ook op hom verlief raak,” vertel sy.

Tommie onthou hoe “kwaai” sy was en hom nie by Yolandi in die saal wou toelaat nie, “omdat haar pasiënt moes rus”.

Na ʼn paar afsprake saam, was die koeël egter deur die kerk.

Hulle is nou al 31 jaar lank gelukkig getroud nadat hulle in minder as ʼn jaar voor die kansel trou beloof het.

In Augustus daardie jaar, toe hulle weer in ʼn botsing betrokke is weens iemand wat oor ʼn rooi verkeerslig gery het en die ander motor ook afgeskryf is, was Tommie so depressief dat hy dit oorweeg het om voor ʼn vragmotor in te loop. ʼn Bruin man het na hom toe aangestap en gesê dis nog nie sy tyd nie.

Wonderwerke gebeur nog

Tommie se Yolandi vandag. (Foto verskaf)

Yolandi het begin opstaan en het 8 maande na die ongeluk 4 km ver gehardloop. Vir die laaste keer.

Intussen het Tommie weer atlete, waaronder Marius van Heerden, begin afrig.

Andriesa het met hul wittebroodbaba, Natania, swanger geraak wat in 1992 gebore is en 19 maande later is Tom se naamgenoot TJ (Thomas Johannes) gebore. Sy eerste biologiese seun.

Weereens tref tragedie die gesin toe klein TJ op 13 maande onverklaarbaar in hul swembad verdrink.

Andriesa onthou hoe Tom hul tuinmeubels teen die muur stukkend gegooi het en “soos ʼn leeu gebrul het”.

Die egpaar se derde biologiese kind, Juan-Jacques, is in 1996 gebore.

Tom was kwaad toe hy hoor ʼn seun is op pad. “Wat help dit? Hy het al sy seuns dan verloor”, het hy gedink.

Intussen maak Tom se atlete opslae en is hy saam met Marius Atlanta toe vir die Olimpiese Spele in die VSA.

In 2000 trek die gesin Nelspruit toe waar Natania op 8 aan landloop begin deelneem en daarvoor, sowel as die 1 200 m, SA’s toe is.

Klein TJ Tesnar het op die ouderdom van 13-maande verdrink. (Foto verskaf)

Weereens slaan tragedie toe toe Natania bosluiskoors en klierkoors kry en met chroniese Bilharzia gediagnoseer word.

Sy het nog op 13 ʼn ongelooflike atletiekjaar gehad toe sy verskeie rekords verbeter het en silwer medaljes by SA’s in 1 500 m en 800 m verwerf het. Op 14 is sy in die hospitaal opgeneem en is drie dae lank met die Enkefalitis-virus in ʼn koma. Dit is weens die Bilharzia wat na haar brein versprei het. Hierna kon sy nooit weer hardloop nie.

Intussen het Juan-Jacques al beter in atletiek gevaar en is op die ouderdom van 10 vir die eerste keer Landloop SA’s toe.

Terwyl hy in 2009 op 12 vir Landloop SA oefen, was hy die slagoffer in ʼn tref-en-trap ongeluk.

Sy beserings het ingesluit ʼn skedelfraktuur, skeur in die long, gebarste milt en ʼn L-femur-fraktuur (van so ʼn aard dat sy knie in sy lies sit en sy femur by die waai van sy been uitsteek). Sy regterenkel was die ergste besering. Dit was morsaf en het aan 3 cm vel gehang. Omdat daar aanvanklik geen voetpols was nie, het dokters eers gedink dat hy sy voet sou verloor.

Hy was drie weke lank in die waakeenheid en het eers na 16 operasies herstel. ʼn “Nuwe” enkel is uit skenkerbeen en been uit sy rug gebou, waarna sy enkel styfgemaak is met ʼn pen deur sy enkel tot amper by sy knie.

Juan-Jacques was in 2009 die slagoffer in ʼn tref-en-trap ongeluk terwyl hy vir landloop geoefen het. (Foto verskaf)

Hierna het Tommie opgehou met atletiekafrigting.

Net dankbaar vir genade

Natania het bosluiskoors en klierkoors opgedoen en word met chroniese Bilharzia gediagnoseer. (Foto verskaf)

Natania is uiteindelik na 8 jaar suksesvol met Malaria-medikasie behandel, maar dit het tot ander blaaskomplikasies gelei. Sy moes ook ʼn ernstige rugoperasie ondergaan waarin die dokter vier van haar werwels moes saamsmelt (“fuse”). Twee jaar later moes sy gaan om graad 3-endometriose te verwyder asook abnormale weefsel naby haar serviks en blaas.

Juan-Jacques kon ook nie weer aan atletiek deelneem nie en gimnasium toe begin gaan, waar hy later spierbou beoefen het.

Natania is in November 2021 getroud en Juan-Jacques, wat verloof en die pa van ʼn dogtertjie is, woon in Centurion en hul ouers besoek hulle gereeld. Hulle is ook na aan Yolandi wat die ma van twee tieners is.

Ondanks al die sterfgevalle en die terugslae in die kinders se gesondheid en vergange atletiekloopbane, sê die egpaar dat hulle die Here dank dat hulle sover gekom het en op genade en beskerming kan terugkyk. Al is dit moeilik om die Here te dien as jou kinders sterf.

“ʼn Mens besef jou lewe kan in ʼn oogwink verander en jy moet jou afvra of jou geloof gegroei het. Die Here se hand was oral.”

Tommie lewer vandag motiveringspraatjies by kerke en elders wanneer mense hom nader.

“Mense moet weet, daar is altyd hoop. Elke storm gaan verby!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Janice ·

Presies wat ek vandag moes lees om my te herinner my probleme is ‘n druppel in die emmer. Baie dankie vir die hartseer, tog mooi getuienis.

Rita ·

Dankie vir die mooi getuienis.
Dit maak my opreg dankbaar vir al die seeninge wat ek daagliks van onse Vader ontvang.

Elma ·

Liewe Vader, ek kan my hierdie nie indink nie. Ek sou lankal opgegee het met die lewe. Mens kan net vra “HOEKOM”.
Tommie, ek haal my hoed af vir jou dat jy steeds jou geloof behou.

WILLEM ·

Dit kos volharding om deur soveel trauma te worstel, maar gelukkig was die Here altyd naby, al lyk dit nie so nie.
Om ‘n kind te verloor is nie maklik nie – die verlange gaan nooit weg nie – maardie mooi herinneringe bly. Dankie vir die mooi getuienis.

Miena ·

Ek soek na die “drukkie emoji” maar helaas is daar niet. Hierdie berig kort beslis daardie drukkie emoji. Sterkte aan julle vorentoe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.