Genadedood-prof weer ’n vry man

Sean Davison (links) Maandag tydens ‘n mediakonferensie. (Foto: Facebook via DignitySA)

Prof. Sean Davison, die man wat vroeër tronkstraf opgelê is nadat hy drie mans gehelp het om hul lewens te beëindig, is Maandag ná drie jaar in huisarres vrygelaat.

Davison is in 2019 tot agt jaar huisarres gevonnis, waarvan vyf jaar opgeskort is.

“Ek is beslis nie spyt oor wat ek gedoen het nie,” sê Davison nou.

“Ek het drie mans gehelp wat sonder enige hoop op herstel gely het, wat vasbeslote was om te sterf en nie in staat was om hul eie lewens te beëindig nie.”

Davison het joernaliste tydens ’n mediakonferensie op die trappe van die Wes-Kaapse hooggeregshof in Kaapstad toegespreek.

Die voorwaardes van sy vonnis het beteken dat hy die huis slegs mag verlaat om te gaan werk, of om ʼn plek van aanbidding of ʼn dokter te besoek. Hy was egter nie toegelaat om met die media te praat nie.

Davison sê nou die drie jaar in huisarres het hom bloot aangespoor om nog harder te veg vir die wettiging van genadedood.

“Ek is meer vasbeslote as ooit om die veldtog vir ’n wetsverandering in hierdie land voort te sit.

“Noudat ek weer toegelaat word om te praat, sal ek sê wat ek glo.”

Davison (57) is in September 2018 in hegtenis geneem in verband met die genadedood van sy vriend, dr. Anrich Burger, in November 2013. Davison is daarna ook aangekla van die moord op Justin Varian en Richard Holland.

Sean Davison. Foto: Facebook via DignitySA.

Davison het Burger in 2012 gehelp om sy eie lewe te neem deur hom ʼn noodlottige dosis dwelms toe te dien. Burger was verlam ná ʼn motorongeluk.

Varian het aan motorneuronsiekte gely en kon nie sluk nie. Davison het in 2015 ʼn plastieksak oor sy kop getrek en helium daarin gespuit om hom te help sterf.

Holland is in November 2015 in Kaapstad dood nadat hy vir amper drie jaar “ondraaglike pyn” beleef het nadat hy op sy fiets deur ʼn motor raakgery is. Hy het aan inkluissindroom gely.

Davison is in 2010 in Nieu-Seeland in hegtenis geneem nadat hy sy ma, wat terminaal siek was en aan kanker gely het, ook gehelp het om haar lewe te beëindig. Hy was vyf maande in huisarres in Nieu-Seeland en het in Mei 2012 na Suid-Afrika teruggekeer.

Davison het tydens die mediakonferensie gesê verskeie lande het oor die afgelope drie jaar hul wette rakende genadedood verander. Dit sluit in Australië, Spanje en die VSA.

“Daar is ʼn algemene beweging regoor die wêreld vir ʼn wetsverandering. My geval het die lig daarop in Suid-Afrika gewerp en hopelik gaan dit politici laat regop sit en luister.”

Davison het voorts gesê hy het dit gemis om saam met sy vyfjarige dogtertjie in die park te gaan stap. Hy en sy gesin beplan om Dinsdag in die see te gaan duik om sy vryheid te vier.

“Ons sal beslis baie vry en baie lewendig voel.”

Davison het wel toegegee dat die afgelope drie jaar se huisarres “ʼn luukse was” vergeleke met tronkstraf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

domheks ·

Ek stem 100% saam Dokter! Sal jou nommer opsoek as die tyd aanbreek. Stel ‘n petisie op en toets die waters asseblief.

Nikolaas ·

Almal wat die Here Jesus Christus haat, het die dood lief.
Spreuke 8:36

Delia ·

Nikolaas, sal jy omgee om vir my te sé hoe jy die teks verstaan. Ek het dit ook gelees

Maritza ·

Dink nie iemand lief die dood nie maar niemand lief lyding ook nie…. wonder of jy dieselfde sal se as jou geliefde so moet ly

Delia ·

Dis moeilik soos jy sê. My man het 2 jaar breinkanker gehad voor hy dood is op 57. Weet nie wat ek sou doen as ek werklik voor so n keuse gevra was

miche ·

Die man is ‘n Professor. Is daar nie ‘n meer “humane” manier om
iemand / jou pasiënt te laat gaan nie? Hoekom ‘n plasieksak om
die nek bind en dit vul met helium?

Mallie ·

As jy jou dier, wat soos n kind in jou huis is, kan laat uit sit, wat is dan verkeerd om genade dood aan n mens te gee. Dok ek hoop as ek jou eendag nodig het dat jy daar sal wees om my te help.

madels ·

As ek sien hoe wreed kanker pasiënte sterf dan is n genadedood soveel beter. Dit is hartverskeurend om die lyding te sien. Ek is nie vir genadedood nie maar vir mense wat maande aan n bed gekluister is en met verskriklike pyn moet saamleef is dit dalk die beste. Dis n moeilike een hierdie

Porseleintjie ·

Lewe is ‘n geskenk van God af. Geen mens het dus die reg om’ n lewe te neem nie, al is dit ook jou eie. Op die einde is dit suiwer ‘n geval van wie in jou hart heers.

annie ·

Die sg doktor sal baie welkom wees in Europa. Pos hom soontoe. Mense moet maar oppas om so baie te kla dat hul op hul ryke ouderdom met baie erge skete, nou onaantasbaar is en aanhou om nonsies aan te jaag. Hul mag dalk ‘self’ besluit op hulp.

Delia ·

Ek dink iemand wat dalk nog nooit n geliefde gesien ly het nie, sal vinnig kan antwoord dat dit verkeerd is….moeilike, eties, morele, godsdienstige vraagstuk..

Astrain ·

Dr, ek sal jou bel as ek my eendag in daardie situasie bevind…my liggaam – my keuse!!!

Wakkerslaper ·

Die Drie-Enige God is die enigste Een wat lewe kan skenk. Hy is ook die enigste Een wat lewe mag neem binne Sy tyd en Sy bepalings.

Sg. “genadedood” is moord in God se oë

Louise ·

Ek weet nie so mooi nie. Ek is baie verdeelt oor hierdie storie. Net God kan besluit wat mens se pad is. Maar aan die ander kant was ek ook nog nooit in so n posisie met pyn en leiding nie. Dink niemand sal ooit regtig weet hoe so n persoon voel nie. Dis n baie hartseer saak vir enige iemand om net die dood as n uitweg te sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.