George-tragedie: Onafhanklike ondersoek na gebou wat ineenstort

Tientalle mense was Dinsdag nog besig met die soek-en-reddingsoperasie op die perseel in George waar die gebou Maandag ineengestort het. (Foto: Eugene Gunning/Maroela Media)

Deur Eugene Gunning

ʼn Onafhanklike ingenieursmaatskappy moet vasstel wat die oorsaak was van die ineenstorting van ʼn gebou Maandagmiddag in George in die Wes-Kaap.

Die gebou in Victoriastraat, naby die munisipale kantoor, was ten tyde van die voorval in aanbou. Teen vroeg Dinsdagmiddag het die dodetal ná die ineenstorting reeds op ses gestaan.

Altesame 28 mense is uit die puin gered, maar 47 was teen laatmiddag nog vasgekeer. Ten tyde van die voorval Maandag kort ná 14:00 was daar 75 werkers op die perseel.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het Dinsdagmiddag by ʼn nuuskonferensie bekend gemaak dat V3 Consulting Engineering die ondersoek namens die provinsie sal behartig. Die maatskappy is van Mosselbaai.

Reddingswerkers spook steeds om vasgekeerde werkers uit die puin te red. (Foto: Eugene Gunning/Maroela Media)

Saam met die premier was Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, Leon van Wyk, burgemeester van George, dr. Michelle Gratz, munisipale besuurder van George en Memory Booysen, burgemeester van die Tuinroete-distriksmunisipalteit.

Winde het gemaan dat die situasie nie vir politieke gewin gebruik moet word nie.

Hy sê slagoffers is steeds is vasgekeer en dit is in hierdie stadium die prioriteit. Hy het ook ʼn beroep op mense gedoen om nie fopnuus oor die voorval te versprei nie.

Winde sê hy was nog nie met die ontwikkelaar in verbinding nie is ook nie van voorneme om dit te doen nie.

Die nodige geld sal beskikbaar gestel word vir die reddingspoging.

‘n Onafhanklike ingenieursmaatskappy sal die voorval ondersoek. (Foto: Eugene Gunning/Maroela Media)

Volgens Bredell is meer as 200 mense tans op die terrein besig met die reddingspoging. Die fokus in hierdie stadium is om, diegene wat nog vasgekeer is, na veiligheid te bring.

Planne vir die gebou is op 22 Desember 2022 by die munisipaliteit ingedien en op 6 Julie 2023 goedgekeur, het Van Wyk gesê.

Casper Hutten, van V3 Consulting Engineering, het gesê verteenwoordigers van die maatskappy was reeds Dinsdag op die perseel om hul eerstehands van die situasie te vergewis. Hulle het onder meer verskeie foto’s geneem.

Dis in die stadium onmoontlik om aan te dui hoe lank die ondersoek gaan duur of wanneer enige bevinding bekend gemaak sal word. Soortgelyke ondersoeke in die verlede het tot ʼn dekade lank geduur, maar hy voorsien nie dat dit in hierdie geval só lank sal duur nie.

Maroela Media het vroeër berig reddingswerkers was Dinsdag in verbinding met 11 van die werkers wat nog onder die puin van die ineengestorte gebou vasgekeer was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cassie Carstens ·

Kom ons bid dat almal veilig en lewendig daar sal uitkom. Dis ‘n groot tragedie wat gebeur het.

JohanR ·

Daai gebou was drie kwart klaar. Ek het nog nooit ‘n gebou gesien wat een oomblik bo die grond pronk, skielik net plat gevee is. Lyk asof die gewig op die garage of eertse floer net te veel was. Dit is ‘n tragedie, en mens kan net hoop meer werkers word lewend gevind, en dat hierdie tragedie in die toekoms kan vermy word.

Christine ·

Indien ‘n nuwe gebou in aanbou, so maklik ineenstort, beteken dit sekerlik dat die staal versterkings en pilare nie genoeg was om die gewig te dra nie. Dis verskriklik tragies. Die arme families. Mag hulle vrede vind. Ek voel bitter jammer vir hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.