Gerhard Ackerman nog tronkstraf opgelê oor seksdade met seun

(Foto: Facebook/Film and Publication board)

Die veroordeelde pedofiel en kinderverkragter Gerhard Ackerman (53) is vroeër die week aan nog aanklagte skuldig bevind en tot verdere tronkstraf gevonnis in verband met seksdade met ʼn 11-jarige seun.

Volgens Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), is Ackerman Woensdag in die Alexandra-landdroshof skuldig bevind op vier aanklagte van onsedelike aanranding en tot een jaar tronkstraf gevonnis op elk van die aanklagte.

Die voorval het in Augustus 2018 in ʼn kleedkamer by ʼn gholfklub in Johannesburg plaasgevind. Ackerman is daaraan skuldig bevind dat hy aan die seun se geslagsdele gevat en ook die seun gedwing het om aan sy geslagsdele te vat. Ackerman het onskuldig gepleit op die aanklagte teen hom.

Ackerman is in Augustus tot 12 keer lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hy op 728 aanklagte teen hom skuldig bevind is, waaronder verskeie aanklagte van verkragting, poging tot moord, die verspreiding van kinderpornografie, mensehandel en seksuele aanranding.

Regter Mohamed Ismail het Ackerman tydens vonnisoplegging as ʼn “bose man” beskryf wat jong seuns aan volwasse mans uitgehuur het om seksdade teen betaling te lewer.

Die staat het aangevoer Ackerman het seuns gewerf, aan hulle blyplek gegee en hulle dan aan verskeie kliënte “verkoop” vir seksdade. Hy het die seuns glo mislei en sy mag misbruik om hul kwesbaarheid uit te buit.

Een van Ackerman se gereelde kliënte, Paul Kennedy, ʼn hoëprofiel- senior advokaat wat ook as regter waargeneem het, is saam met Ackerman aangekla, maar het sy eie lewe geneem voor die aanvang van die verhoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.