Geskiedkundige stadsaal steeds verlate, jare ná brand

Die stadsaal in Komani ná die brand. (Foto: Manqulo Nyakombi/GroundUP)

Deur Nombulelo Damba-Hendrik, GroundUP

Die geskiedkundige stadsaal in Komani (Queenstown) wat twee jaar gelede afgebrand het, is steeds nie herstel nie. Daar blyk ook niks te gekom het van die ondersoek na die verwoestende brand in Januarie 2022 nie.

Die sandsteengebou, wat ten tyde van die brand die Enoch Mgijima‑ plaaslike munisipaliteit gehuisves het, dateer van 1882.

Vandag is slegs die fasade, die kloktoring en twee gedenklamppale by die ingang – geïnstalleer in 1915 – nog staande.

Lonwabo Kowa, woordvoerder van die munisipaliteit, sê die munisipaliteit en die versekeraar het steeds nie ooreengekom oor die bedrag wat uitbetaal moet word nie.

Kowa het nie bekend gemaak hoeveel nodig is vir die herstelwerk of hoeveel die versekeraar bereid is om te betaal nie.

Kowa het wel bevestig dat die stadsaal teen die regte waarde verseker is.

Die UDM, DA en EFF sê egter dit het verlede jaar in ʼn raadsvergadering aan die lig gekom dat die stadsaal onderverseker is.

Die brandende stadsaal in Komani. (Foto: Twitter)

Mthuthuzeli Hokolo, voorsitter van die UDM in Chris Hani, sê hulle is meegedeel dat die versekeringsmaatskappy ingestem het om slegs R6 miljoen te betaal, wat nie genoeg is om die saal te herstel nie.

Zuko Mandile, voorsitter van die DA, en Xhanti Kanti, voorsitter van die EFF, het dit bevestig.

Volgens Mandile word daar R12 miljoen benodig om die saal te herstel – meer as helfte van wat die versekering bereid is om te betaal.

Inwoners vra intussen dat diegene verantwoordelik vir die brand, in boeie geslaan word.

Komani Protest Action, nou ʼn politieke party onder leiding van inwoners wat vroeër betogings in Komani gelei het, beweer die brand het ontstaan nadat Valke die munisipale kantore besoek het.

Die brandende stadsaal in Komani. (Foto: Twitter)

“Ons dring daarop aan dat die stadsaal herstel word en dat diegene verantwoordelik in hegtenis geneem word. Ons glo die verantwoordelike persoon is deel van die munisipaliteit omdat die brand ontstaan het nadat Valke die munisipaliteit se kantore besoek het. Inwoners het niks gehad om te baat daarby om die stadsaal af te brand nie – ons wou net beter dienslewering hê.”

Axolile Masiza, party-sekretaris, sê sedert die betogings het dinge stadigaan verbeter.

“Straatligte is reggemaak, vullis word nou opgetel. Elektrisiteit is ook herstel.”

Yolisa Mgolodela, woordvoerder van die Valke, sê ʼn ondersoek na die brand is destyds aanhanging gemaak maar later gesluit weens onvoldoende bewyse.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning op Maroela Media gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kokerboom ·

Die westerse simbole hou geen waarde in vir diegene aan bewind! Geen geskiedenis GEEN toekoms

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.