‘Gesoute fietsryer’ sterf wyl hy seun se dood herdenk

Patrick Walker jare gelede saam met een van sy seuns. (Foto: Verskaf)

Deur Terésa Coetzee

Die 58-jarige Patrick Walker van die suide van Johannesburg is Sondag 19 November tydens die jaarlikse Virgin Active 947 Ride Joburg-padfietsren oorlede.

Walker het die wedren ter nagedagtenis aan sy seun afgelê, wat hy en sy vrou, Belinda, vroeër aan die dood afgestaan het. Op sy fietsryhemp het gestaan “In Memory of Codi Walker”. Codi is op 17-jarige ouderdom oorlede toe ʼn motor hom omgery het terwyl hy gestap het.

Walker het by die brug wat aansluit by die M1 aan die einde van die roete onverwags net van sy fiets afgeval. Hy het onmiddellik mediese bystand ontvang, maar is kort daarna dood verklaar. Paramedici het aan organiseerders gesê hy het waarskynlik ʼn hartaanval gehad.

“Ons almal is baie hartseer oor Patrick se dood. Sy vrou was baie erg geskok toe ons gister met haar gepraat het,” sê Fritz Pienaar, organiseerder van die ren. “Ons wil weer ons innige simpatie en medelye aan die familie uitspreek.”

Volgens Michael Hayes, voorsitter van die Albion Wheelers-fietsryklub waarvan Walker sowat tien jaar reeds lid was, was Walker ʼn gesoute fietsryer wat menige fietsrenne voltooi en gery het.

“Patrick was vanjaar nie so fiks soos hy al voorheen was nie, maar hy was vir seker nie onfiks nie. Hy het ook al menige Cape Town Cycle Tours voltooi. Hy het baie myle in sy bene gehad,” sê Hayes.

Buiten Walker se tragiese dood het Pienaar gesê dat die fietsren verder baie goed verloop het en hulle is baie tevrede met vanjaar se byeenkoms.

(Foto ter illustrasie: Ride Joburg/Facebook)

“Aan die mediese kant is dit die jaar waarin die minste valle ooit aangemeld is en die mediese personeel het altesaam 57 mense behandel, hoofsaaklik net vir krampe en dehidrasie. Net 17 mense is in die hospitaal opgeneem. Vorige jare was dit baie meer.”

Terwyl die kwik ver oor die 30 °C gestyg het, is daar goed voorsiening gemaak om ryers te laat hidreer by die agt verskillende waterpunte op die roete.

Net oor die 13 000 fietsryers het Sondag aan die jaarlikse Virgin Active 947 Ride Joburg-padfietsren deelgeneem wat by die FNB-stadion begin en geëindig het. Dele van die roete het oor die M1 noordwaarts gestrek, die Kyalami-renbaan, Bram Fischer-rylaan, Jan Smuts-rylaan, oor die ikoniese Nelson Mandela-brug en terug na die FNB-stadion.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karoo ·

RIP…. hy het sy geliefde sport daai dag beoefen en sy oorlede seun herdenk, dis hartseer voorwaar maar ek dink hy sou dit dalk nie anders wou he.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.