‘n Babaseuntjie wat glo in Kempton Park aan die Oos-Rand ontvoer is, is Dinsdag veilig by sy biologiese ma opgespoor, het die polisie in Gauteng gesê.
“Die seuntjie is nie ontvoer nie, en ‘n saak van meineed is oopgemaak,” het lt.kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die polisie, gesê.
Daar is aanvanklik berig dat drie mans en twee vroue Maandagaand by ‘n huis in Kempton Park ingebreek, die ma (wat glo aangebied het om na die baba om te sien) en haar 16-jarige dogter vasgebind en hulle bedwelm het. Die vermeende diewe het glo die baba en sy klere en die ma se selfoon gesteel. Die pa het omstreeks 22:00 by die huis gekom en die vrou en dogter bevry. Die polisie kon nie enige tekens van geforseerde toegang vind nie.
“Die polisie kon egter die baba opspoor en het hom veilig by sy biologiese ma in eMalahleni (Witbank), Mpumalanga, aangetref,” het Mogale gesê. Die baba is vier maande oud en nie 13 dae oud soos aanvanklik berig is nie.
Die vrou van Kempton Park moet binnekort in die hof verskyn.
Het hierdie mame nie ‘n plan gehad om die baba te verkoop nie, is toe betyds gekeer?