Gesteelde Phala Phala-dollars glo van Soedannese sakeman

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

ʼn Soedannese sakeman wat 20 buffels op pres. Cyril Ramaphosa se plaas Phala Phala gekoop het, het $580 000 (sowat R9,8 miljoen) vir die diere betaal, ʼn kwitansie hiervoor is glo aan hom uitgereik en dit was dié geld wat uit die president se private woning op die wildplaas gesteel is.

In sy antwoorde aan die onafhanklike paneel van ondersoek, wat ingevolge artikel 89 van die Grondwet aangewys is om die omstandighede van die voorval te ondersoek, werp Ramaphosa meer lig op die diefstal wat die afgelope paar maande soos ʼn swaard oor sy kop hang.

Ramaphosa sê in sy antwoord hy en die plaasbestuurder van sy plaas Ntaba Nyoni, Hendrik von Wielligh, het in 2019 die verkoop van ʼn trop buffels op die plaas bespreek. Die president het aangedui daar is kopers uit die Midde-Ooste en Afrika wat in die diere belangstel.

Die sakeman het die plaas op 25 Desember besoek en die buffels gekoop.

Von Wielligh was in daardie stadium met verlof.

Geld in private woning versteek

Die plaasbestuurder, Sylvester Ndlovu, het Ramaphosa met sy besoek aan die plaas op 26 Desember ingelig van Mustafa Mohamed Ibrahim Hazim, ʼn Soedannese burger, se besoek. Hazim het besluit om die buffels te koop en het $580 000 in kontant vir die diere betaal. Ndlovu het ʼn kwitansie uitgereik en die geld in die kluis by die Bayeto-sentrum gebêre.

Die president het gesê die geld moet in die kluis gehou word tot Von Wielligh terugkeer om die transaksie te verwerk en die geld te deponeer.

Ramaphosa voer aan hy het die plaas op 27 Desember verlaat.

“Mnr. Ndlovu moes op 30 Desember 2019 met verlof gaan. Hy het ongemaklik gevoel om die geld in die kluis in die Bayeto-sentrum te los omdat hy bekommerd was dat verskeie werkers toegang tot die kluis gehad het,” lui die president se antwoord.

“Hy het besluit die veiligste plek om die geld te bêre, is in my private woning op die plaas. Hy het die geld onder die kussings van ʼn rusbank in ʼn ekstra slaapkamer wat byna nooit gebruik word nie, gebêre.

“Hy het gedink dit is die veiligste plek omdat hy geglo het dat niemand by die president se huis sou inbreek nie.”

Ramaphosa sê hy het nie “persoonlike kennis” van die diefstal self nie. Hy is op 10 Februarie, ʼn dag ná die diefstal, deur Von Wielligh oor ʼn veiligheidsbreuk [security breach] op die plaas ingelig terwyl hy in Addis Abeba was. Von Wielligh het ook kringtelevisiemateriaal aangestuur wat wys hoe mense die private woning betree.

By beskermingseenheid aangemeld

Arthur Fraser, ‘n voormalige direkteur-generaal van staatsveiligheid, het aanvanklik die gebeure by Phala Phala aan die groot klok gehang. (Foto: DKD)

Die president het in Ethiopië nog vir genl.maj. Wally Rhoode, hoof van die presidensiële beskermingseenheid, daaroor ingelig en hom gevra om terug te rapporteer.

Kort daarna het Ndlovu by Ramaphosa aangemeld dat die geld uit die private woning gesteel is.

Met sy terugkeer uit Addis Abeba, is die president dadelik na Kaapstad vir ʼn kabinetsvergadering en daarna het sy voorbereidings vir die staatsrede begin. In Februarie, “die vinnigste wat my skedule toegelaat het”, is Ramaphosa na Phala Phala om hom van die situasie te vergewis.

Hy het Rhoode met sy terugkeer na Gauteng gevra om hom by sy woning in Hyde Park in Johannesburg te ontmoet.

“Ek het hom ingelig dat die geld van die verkoop van die wild uit my private woning op Phala Phala vermis word. Die generaal is eers toe ingelig dat, benewens die veiligheidsbreuk, daar ook ʼn diefstal plaasgevind het.”

Daar is ooreengekom dat Rhoode sy seniors sou inlig en aan Ramaphosa sou terugvoer gee.

“Ek het vertrou dat genl. Rhoode die nodige stappe uit ʼn veiligheidsoogpunt sou doen rakende my veiligheid ná die sekuriteitsbreuk by my woning en enige ander stappe wat nodig is om die inligting wat ek met hom gedeel het, aan te meld en te hanteer.”

Volgens Ramaphosa het hy die huisbraak en diefstal by Rhoode aangemeld omdat hy “verantwoordelik is vir die versekering van my veiligheid en sekuriteit in die lig van die pos wat ek beklee”.

Ontken klagtes teen hom

Oudregter Sandile Ngcobo oorhandig die paneel se verslag aan Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die parlement. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Ramaphosa ontken al die aanklagte teen hom.

Dit sluit in dat hy betaling ontvang het vir die bedryf van Phala Phala, terwyl dit strydig met die Grondwet is. Hy ontken ook dat hy die wet oortree het deur die diefstal by Rhoode, pleks van die Valke, aan te meld.

“Ek was nie in beheer van die proses wat gevolg is nadat ek die saak by genl.maj. Rhoode aangemeld het nie,” lui die verklaring.

In antwoord op die aanklag dat hy hom skuldig gemaak het aan ernstige wangedrag omdat hy Rhoode by die ondersoek betrek het, hou Ramaphosa vol dit was ingevolge wetgewing omdat die presidensiële beskermingseenheid deel van die polisie vorm.

Oor die vierde klagte teen hom – dat hy skuldig is aan ernstige wangedrag omdat hy glo ʼn onregmatige opdrag aan Rhoode gegee het om die diefstal by ʼn private woning te ondersoek – lui Ramaphosa se antwoord dat hy Rhoode gevra het om die kwessie te hanteer in soverre dit binne sy pligte en verantwoordelikhede was.

“Genl.maj. Rhoode het gevolglik vir my gesê dat die destydse adjunk- nasionale kommissaris van die polisie, lt.genl. [Sindile] Mfazi, hom opdrag gegee het om ʼn voorlopige ondersoek na my veiligheid en enige bedreigings te doen en aan hom terug te rapporteer, waarna hy die saak sou oorneem.”

  • Die inhoud van die verslag van die paneel van kundiges, wat moes bepaal of daar weens beweerde oortredings ná die diefstal wel ʼn prima facie-saak teen die president is, word Woensdagaand bekend gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Windhond ·

Wonder wat sal gebeur as ek met net duskant 10 miljoen rand deur Botswana of Namibie se grensposte te gaan – laat staan nog England of VSA

Republikein in die Wes Kaap ·

Koning Charles gaan jou beslis nie nooi vir tee en scones nie.

Johann ·

KLUG! En die leunaar dink ons glo sy absurde weergawe? Wat van die bedrag as inkomste verklaar?

En soos gewoonlik ‘n pass the buck en blame! SHAME ON YOU!

Johann ·

Wat van jy betaal die R5.4 MILJOEN RAND wat die “ondersoek” kos? Jys mos so onskuldig? Met ‘n lys van ja maar hy en hulle en nie ek nie…WYS jys jammer oor die chaos en geld? GEWETENLOSE LEUNAAR!

Wendy ·

Dis wat ek ook wil weet betaal hierdie grotes en verklaar hulle hul inkomste soos ek en jy?

Republikein in die Wes Kaap ·

Jy het te veel rooibostee gedrink om daai vraag te vra.

annie ·

…toe hy nog in Ethiopië was het hy reeds met Rhode gepraat… en toe… en toe… En die prez het niks met Phala se besigheid uit te waai nie? En hy het met multi-miljoenêrs gepraat. Hoe weet die Oosterling dan van die wild. Adverteer Cyril? Almal op die plaas het toegang tot die kluis. Wow! Ons moet vreeslik dig wees om hierdie storie te glo. Selfs ‘n skoolkind sou ‘n beter storie uitgedink het. Zuma ok…

Tredoux ·

Behold! The self made Billionaire, entrepreneur, family man and heroic savior of South Africa. Behold!

Hoor ek Beethoven se derde simfonie nou in my gedagtes…

Hasie ·

Gedink om dit dalk in te betaal by bank ? Daar sal dit veilig gewees het .maar daar sal ongelukig elektroniese bewys gewees het van die betaling ….Jy lieg deur jou tande!

Republikein in die Wes Kaap ·

SARS se Kieswetter moet nou sy staal wys. Dieselfde met die Reserwebank.

Strandloper ·

Ons moet verstommend onossel wees om daarvoor te val…eerder anders om…

Kaptein ·

Ja en my naam is Humpty Dumpty. As jy dit lees hoor jy sommer hoe gooi hy die varke, nie eers spek nie. Hoe gerieflik om ander die skuld te gee en hulle dan te betaal om hulle tot stilswye te dwing. Natuurlik sal almal saamstem met wat die kierieklapper sê, want as jou familie bedreig word, Dan praat ons almal maar dieselfde stories. As die kluis dan bedoel is om alle belangrike dinge te bêre, hoekom het so baie mense toegang tot die kluis. Ai cyreltjie, gelukkige kan niemand jou sien bloos nie,maar ons kon jou sien sweet.

SjN ·

Het geweet hy gaan die verantwoordelikheid op sy werkers blameer en delegeer, daar is mos n sekere tydperk wat buitelandse valuta ontvang verklaar moet word volgens wetgewing. het die buitelandse verkoper dit verklaar met sy besoek? Op die 25 ste geskied, Cr het versker n groot kersgeskenk gekry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.