Kapt. Paul Ramaloko, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê hoewel daar polisiebeamptes by die grenspos gestasioneer is, is die houer nie reg langs die stasie nie. “Die beamptes het omstreeks 02:00 gehoor hoe die verdagtes die houer probeer oopbreek. Hulle het die verdagtes gekonfronteer en ʼn skietgeveg het tussen die polisie en die verdagtes uitgebreek,” het Ramaloko gesê.
Niemand is gewond nie en die verdagtes het met leë hande in ʼn sedanmotor sonder nommerplate gevlug. ʼn Saak van poging tot moord en poging tot roof is aanhangig gemaak. Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie.
Ramaloko het ʼn beroep op die eienaars van die buitelandse valutahouers gedoen om nie kontant in die fasiliteite te laat nie omdat dit misdadigers lok.