Geweld woed terwyl Aliyah studeer

Aliyah September (Foto: Verskaf)

Aliyah September van Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch het verlede jaar matriek met twee onderskeidings geslaag, te midde van bendegeweld wat om haar woed. Nou wil sy onderwys gaan studeer.

Aliyah se jaar was nie sonder uitdagings nie. “Ek is deur bendegeweld, beurtkrag en ook een keer deur ʼn inbraak. Dit het baie gevat: emosioneel, geestelik en fisiek. Om deur alles te kom, is slegs God se genade en my eie deursettingsvermoë.”

Aliyah sê sy moes leer om nie toe te laat dat omstandighede buite haar beheer haar aandag aftrek nie. “Ek het vir myself gesê: Ek is in matriek, ek moet goed doen.” Daarby kan Aliyah ook getuig: “Ons kan enigiets doen met God se hulp. Uitdagings is ʼn goeie ding, die ondervinding self is besonders. Moet nooit ophou bid nie.”

Haar ma, broer en oorlede ouma is die dryfkragte in haar lewe. “Hulle is die rede vir al my harde werk. Ek voel trots om hulle trots te kan maak.” Sy reken veral in mens se hoërskooldae is dit ʼn groot voorreg om soveel ondersteuning te hê.

Sy is ook vol lof vir haar hoërskool. “Ek het ʼn goeie loopbaan by Bloemhof gehad. Dit was ʼn groot voorreg om in dié skool te wees en ek het baie geleer.”

Vanjaar gaan sy BEd Grondslagfase aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Haar droom is om ʼn suksesvolle onderwyser te wees.

Vir ander matrieks sê Aliyah: “Begin altyd vroeg met alles. Begin vroeg leer, begin vroeg voorberei. Matriek is harde werk, maar jy sal sien, as jy baie insit sal jy die vrugte pluk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.