Gewysigde nasionale begroting kort net president se handtekening

geld-finansies-spaar-begroting-belegging-02-deur-stevepb-op-pixabay

(Foto: Stevepb/pixabay)

Die geskiedkundige gewysigde nasionale begroting is Dinsdagaand ná ʼn marathon-sitting virtueel deur die Nasionale Raad van Provinsies goedgekeur. Dit beteken al wat nog kort vir die nuwe begroting om van krag te word, is pres. Cyril Ramaphosa se handtekening.

Met die uitsondering van 1994, toe die nuwe ANC-regering ʼn gewysigde begroting ingedien het ná daardie jaar se verkiesing, is dit die eerste keer sedert 1910 dat omstandighede in die land so skielik so ingrypend verander het dat die bestaande nasionale begroting geskrap en ʼn heeltemal nuwe begroting opgestel is.

Die gewysigde begroting, wat reeds deur die Nasionale Vergadering aanvaar is en staatsbesteding sal rig tot aan die einde van die huidige boekjaar, is veral deur vyf faktore genoodsaak.

Eerstens was daar die land se afgradering na rommelstatus en tweedens enorme onvoorsiene uitgawes om Covid-19 te bestry.

Derdens het daar sedert die Februarie-begroting ʼn omvattende ekonomiese depressie ontstaan (die ergste sedert die Groot Depressie van 1929-1933, negentig jaar gelede) met gepaardgaande katastrofale verkleining van die staat se belastinginkomste – grootliks weens die afsonderingstydperk se maatreëls.

Vierdens is daar ʼn verdere reuse-uitgawe wat eweneens nie in die Februarie-begroting voorsien kon word nie, naamlik hulppakkette aan ekonomies sukkelende bedrywe en ondernemings, sowel as bykomende tydelike welsynstoelae aan ʼn groot groep mense wat hulpbehoewend is weens die ekonomiese ramp wat die afsonderingstydperk veroorsaak het.

Vyfdens het die makro-ekonomiese omstandighede van die land beduidend versleg, deels weens minder staatsinkomste en deels omdat Suid-Afrika nog geld moes leen vir die omvattende en onverwagse Covid-19-verwante uitgawes.

Dit beteken onder meer dat rente op staatskuld erg toegeneem het – ʼn dooie gewig wat jaarliks betaal moet word. Dit is ook een wat beteken daar is minder geld vir die verskaffing van basiese dienste en boonop minder nuwe projekte wat uitgevoer kan word op medium- tot lang termyn.

Dinsdag se begrotingsdebat in die Nasionale Raad van Provinsies het by tye uiters onstuimig verloop en harde woorde het geval, veral oor die ANC se korrupsie in regering – deurgaans, oral, omvattend en byna volkome ongestraf.

Die Vrystaatse DA-LP George Michalakis is byna uit die vergadersaal verwyder nadat hy reguit gesê het dit is ʼn objektiewe en onomstootlike feit: Suid-Afrika word deur skelms regeer.

Die ANC se LP’s was baie ontsteld dat hy só iets oor hul party kon beweer, maar Michalakis se stelling was nie onparlementêr nie omdat hy geen spesifieke parlementslid ʼn skelm genoem het nie.

Opposisiepartye het die haas ongelooflike korrupsie, geldmors, nepotisme en patetiese onbeholpenheid deur ANC-kaders, gewone ANC-lede, ANC-politici, ANC-provinsies, ANC-munisipaliteite en die nasionale ANC-regering met haas elke vorm van noodverlening teen die gevolge van die pandemie en die afsonderingstydperk gelys.

Terwyl die wandade deur en onder die ANC hoogty vier, is nog nie ʼn enkele prominente lid van die DA, EFF, Inkatha, die VF Plus of die ACDP by wangedrag betrek nie (die Good-leier, Patricia de Lille, is wél).

Nie ʼn enkele bewering van betekenisvolle wanbestuur word tans teen die Wes-Kaap of enige DA-beheerde munisipaliteit gemaak nie, terwyl erge wangedrag soos pokke uitslaan waar die ANC in beheer is.

Die DA, EFF en VF Plus het aangedring op ernstige straf en klagtes (strafregtelik en siviel) teen enigeen wat Covid 19-verwante geld en dienste wanbestuur het, maar gesê omdat die ANC mekaar se misdadige gedrag eerder beskerm as om misdadigers te laat boet, is dit dalk te veel om voor te hoop.

Die ANC en IVP se lede in die Nasionale Raad van Provinsies het ten gunste van die begroting gestem, met die DA, EFF en VF Plus daarteen.

Die begroting is dus aanvaar en kan nou met die president se handtekening van krag gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Grassie ·

Daardie DA-LP sal nog moet leer dat ‘n mens nie in hierdie land die waarheid mag praat nie. Dit is iets wat die ANC nie sal verduur nie, hulle neem geweldig aanstoot as jy dit doen.

Isabella ·

Dis verseker hul wil almal aanvat en se nt wat hul wil …mar BEHOED JOU AS JY FEITE VAN HUL NOEM!!! ALLES word ondergronds gedoen

Maria ·

Jy stel dit goed Jan-Jan. die ANC se korrupsie in regering – deurgaans, oral, omvattend en byna volkome ongestraf. Net die IMF of soortgelyke instansies of buitelandse sanksies kan korrupsie stopsit deur hoë regulering van besteding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.