Gʼn staatsbegrafnis vir De Klerk – Jeugliga

Nelson Mandela en FW de Klerk skud blad nadat hulle op 10 Desember 1993 die Nobel-vredesprys in Oslo, Noorweë ontvang het (Foto: GERARD JULIEN/AFP)

Die ANC-jeugliga (ANCYL) in KwaZulu-Natal sê hy verwerp die idee dat oudpres. FW de Klerk ’n staatsbegrafnis moet kry, ten spyte daarvan dat pres. Cyril Ramaphosa nog nie ʼn aankondiging daaroor gemaak het nie.

De Klerk het Donderdag op die ouderdom van 85 jaar sy stryd teen kanker verloor.

Die ANCYL sê in ʼn verklaring hy raai Ramaphosa aan om nie ʼn staatsbegrafnis vir die oudpresident voor te stel nie.

“Ramaphosa moet nie eers daaraan dink om aan ‘n apartheidsaktivis te gee wat hom nie toekom nie,” sê die organisasie in ʼn verklaring.

“De Klerk het tussen 1989 en 1994 ‘n apartheidsregering voorgesit wat wit oppergesag verhewe bo die res gestel het. Die jeugliga is sterk van mening dat om vir hom ’n staatsbegrafnis te gee, ‘n belediging vir die belastingbetalers sal wees en teenstrydig met die beginsels en waardes van ons demokrasie.”

Volgens die liga het De Klerk apartheid se bestaan ontken.

“In 2020 het hy ’n omstrede mondelinge stelling gemaak dat apartheid nie met volksmoord vergelyk kan word nie en dat meer mense gesterf het weens swart-op-swart geweld.”

Ramaphosa het in ʼn verklaring gesê die FW de Klerk-stigting sal nog reëlings bekend maak rakende sy begrafnis.

‘Vegter vir demokrasie’

In teenstelling hiermee, het Ramaphosa en die Nelson Mandela-stigting hul medelye aan De Klerk se vrou, Elita, sy kinders, Jan en Susan, kleinkinders asook vriende en kollegas betuig.

“De Klerk het ‘n belangrike rol in ons oorgang na demokrasie in die 1990’s gespeel, wat ontstaan het uit sy eerste ontmoeting in 1989 met oudpres. Nelson Mandela, wat in daardie stadium ‘n politieke gevangene was,” sê Ramaphosa.

De Klerk en Mandela het in 1993 saam die Nobelprys vir vrede ontvang.

“Hy het die moedige besluit geneem om politieke partye te ontban, politieke gevangenes vry te laat en met die bevrydingsbeweging in onderhandeling te tree te midde van erge druk tot die teendeel van baie in sy politieke kiesafdeling.

“De Klerk het vanaf 1994 tot 1996 as adjunkpresident gedien en hom toegewy aan die grondwetlike imperatief om die verdeeldheid en konflik van ons verlede te genees. Hy was ‘n toegewyde Suid-Afrikaner wat die demokratiese grondwetlike bedeling ondersteun het en die langtermyntoekoms van die land voor eng politieke belange geplaas het.”

Volgens die Nelson Mandela-stigting laat De Klerk ʼn groot nalatenskap agter. “Ons het oor die jare baie goed met hom en sy stigting op ʼn aantal projekte saamgewerk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.