Goeie punte, slegte punte uit die begrotingsrede

Enoch Godongwana, minister van finansies (Begrotingsrede 2022) (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Demokratiese Alliansie

Enoch Godongwana, die minister van finansies, se begrotingsrede bied ʼn welkome maar versigtige uitkyk oor die stand van Suid-Afrika se fiskale trajek. Die DA is egter besorg dat hy nie genoeg gedoen het om die ooglopende probleme naamlik die salarisrekening van die staatsdiens, die toenemende koste van ons nasionale skuld en presiese besonderhede oor staatsbeheerde ondernemings te takel nie.

“Die minister verwag verdere salarisverhogings vir werkers in die staatsdiens uit die nuwe ronde van kollektiewe onderhandeling, wat na verwagting in Maart 2022 sal begin,” sê Dion George, die DA se skaduminister van finansies. “Dit is in teenstelling met die DA se mening dat salarisverhogings vir nie-beroepspesifieke bedeling-personeel opgeskort moet word.”

George sê ondanks ʼn rooskleurige prentjie wat geskets word van die regering se skuldkonsolidasie-maatreëls, is dit kommerwekkend dat skuld bly ophoop en R4,35 biljoen (“trillion”) in 2021/22 sal haal.

“Die minister het nie met vrymoedigheid nie-noodsaaklike spandering in die staat aangespreek nie. Dit is ʼn sleutel-vereiste as ons die nasionale skuldkrisis wil takel.”

Die DA verwelkom die vermindering in korporatiewe inkomstebelasting, maar BBP-groei is steeds baie laag om werkskepping te ondersteun en werkloosheid te verminder.

“ʼn Geprojekteerde gemiddeld van BBP-groei van 1,8% oor die volgende drie jaar is nie genoeg om Suid-Afrika se hoë werkloosheidsyfer aan te spreek nie.”

George verwelkom ook die minister se toewyding om oor die medium termyn aandag te skenk om burokratiese rompslomp vir klein ondernemings te verminder, maar hy het versuim om besonderhede te verskaf hoe dit gedoen gaan word.

“Die DA se alternatiewe begroting het dit duidelik gemaak dat BBEEE-vereistes mededingendheid kelder en die SMME-bedryf beperk om werk te skep.”

VF Plus

Met die uitsondering van enkele ligpunte wat die belastingbetaler vir eers meer vryelik kan laat asem haal, is dit duidelik dat die staat vasgevang is in ʼn knyptang van skuld, toenemende maatskaplike afhanklikheid en ʼn buitensporige salarisrekening, sê Wouter Wessels, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor finansies.

“Dit is ʼn verligting dat die brandstofheffing en Padongeluksfondsheffing nie verhoog is nie. Dit is welkome nuus teen die agtergrond van stygende ru-oliepryse wat brandstofverhogings in die onmiddellike toekoms onvermydelik maak. Dit sal egter beter wees om die Padongeluksfonds af te skaf,” meen Wessels.

Persoonlike belastingverligting in die vorm van verhoogde belastingkerwe van 4,5% is aangekondig terwyl maatskappyebelasting met 1% verlaag is.

“Die verligting wat maatskappyebelasting aanbetref, is hopelik ʼn aanduiding dat gestalte gegee word aan pres. Cyril Ramaphosa se uitlatings in sy staatsrede oor die belangrikheid van private ondernemings vir ekonomiese groei en werkskepping.”

Wessels sê die enkele persentasiepunt-verlaging sal ʼn positiewe sein uitstuur wat baie kan beteken as stimulus vir die sake-omgewing en om beleggersvertroue te bewerkstellig. Daar moet voortgebou word hierop.

Die slegte nuus is dat maatskaplike uitgawes besig is om saam met staatskuld en die staat se salarisrekening, vinnig buite beheer te raak. “Die land se totale uitgawes beloop tans R2,15 biljoen (“trillion”) met ʼn inkomsteskatting van R1,85 biljoen. Dit laat ʼn lopende tekort van R323 miljard.

Staatskuld beloop tans R4.3 biljoen en sal op die mediumtermyn tot R5,4 biljoen toeneem. Die dienskoste hierop beloop gemiddeld R330 miljard jaarliks oor die mediumtermyn.

ʼn Kommerwekkende syfer is dat altesame 46% van die bevolking tans afhanklik is van maatskaplike toelaes en R702 miljard word vir maatskaplike dienste en welsyn begroot.

“Suid-Afrika is nou duidelik ʼn welsynstaat met ʼn uitgebreide werkloosheidsyfer van 46,4%. Die onkoste om mense te onderhou wat geen belastingbydrae lewer nie en afhanklik is van die staat deur ander belastingbetalers, het die staat se salarisrekening verbygesteek as die grootste uitgawe.”

Die staat se salarisrekening het teen middel verlede jaar sowat R680 miljard beloop en dit is jammer dat die minister nie ʼn aanduiding gegee het oor die pad vorentoe wat salarisse aanbetref nie, voeg Wessels by.

Staatsondernemings se totale uitstaande skuld beloop altesame R853 miljard. Daar heers ook onsekerheid oor toekomstige hulp aan die ondernemings en soos voorheen is die lot van hierdie ondernemings in die hande van die presidensiële raad oor staatsondernemings.

“Dit is onverstaanbaar waarom die regering volhard met die wanfunksionele en bankrot Padongeluksfonds. Die fonds se verlies beloop tans R404 miljard en hierdie geld kan veel beter aangewend word elders, selfs in die vorm van ʼn verlaging in die brandstofprys. Derdeparty-versekering moet eerder verpligtend gemaak word vir alle motoreienaars en die padongeluksfonds moet afgeskaf word.”

AfriForum

Die burgerregteorganisasie AfriForum veroordeel die regering se voorneme om sy rol in die Suid-Afrikaanse ekonomie te verskerp.

“Om werklike ekonomiese groei te bewerkstellig moet die regering oortollige belasting op die privaat sektor verlig en besnoei op sy eie interne spandering op salarisverhogings en bonusse,” sê Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“Verdere rede tot kommer is die uitbreiding van Suid-Afrika se staatskuld wat tans reeds op R69 291 per landsburger neerkom. Om ons skuld te onderhou het die land se enkele grootste uitgawe geword.”

Die begrotingsrede het ook die staat se voorneme bevestig om mislukte ondernemings in staatsbesit aan die lewe te probeer hou deur verdere druk op reeds oorlaaide belastingbetalers te plaas.

Duvenage sê gedurende die toespraak het Godongwana grootliks die ellendige toestand van die Suid-Afrikaanse ekonomie op Covid-19 blameer.

“Dit verontagsaam geheel en al die feit dat Suid-Afrika se ekonomie lank voor die uitbreek van die virus aan flarde was en dat dit die regering se drakoniese inperkings is wat werklik skade aan die ekonomie berokken het. Om werklike ekonomiese groei teweeg te bring moet die regering ophou om in die mark in te meng en oortollige belasting op die privaat sektor verlig. Daarom is die verdere verspreiding van die staat se rol en invloed in die ekonomie net nog ’n stap in die verkeerde rigting.”

TLU SA

Die 2022 begrotingsrede is beslis ’n gewilde een en daar is belowende aspekte, maar vir TLU SA bly die uitdaging van enige plan die uitvoering.

“Minister Godongwana sê al die regte dinge oor ekonomiese groei, belasting-aansporings en sy beslistheid oor staatsinstellings. Vir ons kom dit egter altyd terug na uitvoering. Weens kader-ontplooiing is daar ’n groot te kort aan kundigheid om idees tot uitvoering te bring,” sê Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder.

Die toevoeging van R8,7 miljard by die polisie se begroting is welkome nuus.

“Dit is vir ons belangrik om die versekering te kry dat die geld na die regte kanale en mense gaan om ’n verskil te maak aan die misdaadsyfers. Weens korrupsie – waarna die minister verwys het – is daar steeds ’n groot mate van wantroue en onsekerheid. As die geld net na mense gaan wat eie gewin najaag, beteken dit heeltemal niks. Vir die geld om impak te maak, moet die polisie gesuiwer word.”

Suid-Afrika betaal nou toelaes aan meer as 46% van die bevolking. “Wyle Dries Joubert het destyds gesê dat as jy in Afrika ’n tier opsaal, kan jy nooit afklim nie en dit is waarmee ons nou te doen het met die maatskaplike toelaes. Weens die beleidsomgewing, swak ekonomiese groei en ongelooflike hoë werkloosheid is ons land en sy inwoners in grootskaalse armoede vasgevang. Dit kan eenvoudig nie net gestaak word nie… Dit is egter ʼn reuse-uitgawe vir ons land. En om eerlik te wees, as so groot deel van die bevolking afhanklik van die staat is, bevind ons ons reeds in ’n sosialistiese bestel wat baie gevaarlik is.”

Die aksynsbelasting op drank is ’n terugslag. “Die wynbedryf moes reeds heelwat terugslae weens Covid-19-inperkings oorkom en dié verhoogte pryse gaan nog ’n uitdaging wees,” het Van Zyl bygevoeg.

Die begroting sluit R5,2 miljard se belastingverligting in om die ekonomiese herstel te help ondersteun, ’n bietjie blaaskans van brandstofbelastingverhogings te bied en aansporings vir werkverskaffing by die jeug te bevorder. In 2021 het die binnelandse petrolprys R20 per liter oorskry. Die hoër pryse het druk geplaas op die koste van vervoer, voedsel en ander goedere en dienste.

Geen verhogings tot die algemene brandstofheffing op petrol en diesel vir 2022/23 nie. Dit sal belastingverligting van R3,5 miljard aan Suid-Afrikaners bied. Daar sal ook geen verhoging in die Padongelukkefondsheffing wees nie.

“Wat TLU SA vir Suid-Afrika soek is ’n begroting wat die ekonomie sal stimuleer, en nie net stemme vir die ANC wil koop nie. ’n Begroting wat beleggings sal lok, wat die belasting basis sal verbreed en die mense uit die moeras van toelaes, na die werkende ekonomie sal plaas. Ons soek ’n sterk onderwysstelsel, wat inwoners produseer wat bou en bydra, nie plunder en brand nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marius ·

Die plan is: Daar is geen plan nie, ons ploeter net voort totdat die wiele afval dan kruip ons verder.

Grassie ·

Hierdie land het ‘n regering van voornemings – die mooiste voornemings maar dit is waar dit bly. Daar is ‘n totale onvermoë om enige van daardie voornemings uit te voer. Hulle het nog nooit iets geskep of opgebou nie, nog net geparasiteer op wat andere geskep het.

Ben ·

Kan iemand asb vir iemand verduidelik wat beteken. Biljoen, miljard en triljoen.
Daar is mense wat ander mense deurmekaar maak.
Dis mos nie sooo moeilik nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.