‘Golden Buzzer’ vir SA kankeroorwinnaar by ‘Britain’s Got Talent’

Musa Motha saam met die beoordelaars van ‘Britain’s got talent’. (Foto: skermskoot)

“Ek wil graag na meer mense uitreik en meer mense inspireer.”

Só het die Suid-Afrikaner, Musa Motha, op die verhoog van die talentsoekkompetisie, Britain’s Got Talent, aan beoordelaar Simon Cowell gesê.

Dié 27-jarige, wat nou in Engeland woon, is as klein seuntjie met kanker gediagnoseer.

Nimmer as te nooit het Musa verwag dat sy deelname aan die program nie net suksesvol sou wees nie, maar dat een van die beoordelaars die bekende “golden buzzer”-knoppie vir sy optrede sou druk nie.

As kind het hy daaroor gedroom om ʼn professionele sokkerspeler te word, vertel hy, maar dié drome het egter gesneuwel nadat sy linkerbeen weens kanker geamputeer is.

“Ná my amputasie het ek op musiek verlief geraak. My vriende het in daardie stadium gedans, en ek het hulle gevra om my te leer hoe om te dans.

“Ek het my kruk as my linkerbeen gebruik. Dit is hoe dit begin het.”

Musa se dans het nie net gehoorlede in trane gehad nie, maar ook die beoordelaars.

Nadat hy die dans voltooi het, was die gehoor en die beoordelaars op hul voete om Musa ʼn dawerende applous te gee.

“Dit was een van die buitengewoonste oudisies wat ek al ooit op hierdie program gesien het,” het Alesha Dixon, een van die beoordelaars, gesê.

Die gehoor het tot so ʼn mate hande geklap, dat die beoordelaars gesukkel het om behoorlik terugvoer aan Musa te lewer.

ʼn Hoendervel-oomblik het egter gebeur toe al vier beoordelaars op een slag die “golden buzzer”-knop vir Musa druk.

“Dit was een van die ongelooflikste dinge wat ek nog ooit gesien het,” het Simon vir Musa gesê terwyl hy hom gedruk het.

“Ek is ʼn ware voorbeeld daarvan om die woord ‘onmoontlik’ te breek. Ek is moontlik. Ek sê vir julle dankie,” het Musa die gehoor moedig bedank.

Kyk na Musa se optrede hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Yolandie ·

Ek het hierdie oudisie gesien – en ekhet hoendervleis gehad om net daarna te kyk. Jong man wow jy is ‘n fantastiese danser.

GMB ·

Musa jy het net weer bewys dat as jy gediagnoseer word met kanker dat dit nie ‘n doodsvonnis is nie. Jy is ‘n inspirasie vir baie wat ook met kanker gediagnoseer is. Welgedaan.

piet ·

Dis fantasties maar ek hoop nou net hy word uitsluitlik beoordeel op grond van die kwaliteit van sy sang en nie weens die emosionele verhaal nie.

George ·

Ongelukkig weet ons wat daai antwoord is. Nog elke deelnemer in die top20 ens het almal een soppy storie na die ander.

Hedda ·

Kan jy met 2 bene dans soos wat hy met net 1 doen? Hy’t duidelik bo sy “soppy” storie uitgestyg.

piet ·

Nee maar kan hy beter dans as die beste dansers in die kompetise met 2 bene? Ek neem nie aan die kompetisie deel nie so dis irrelevant.

Linda ·

Hulle moet hier in Somerset Wes kom kyk op die N2 robot is een wat niks makeer nie, maar paradeer soos ‘n kwadropleeg net om geld te kry. Hy sal seker ‘n Oscar wen as hy die verhoog kry.

Mariana ·

Ek het ook agtergekom dat hulle baie simpatiek is teenoor deelnemers met sulke stories. Maar oordeel liewer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.