Goue handdrukke van R13 m. vir SAUK-hoofde

Argieffoto

Argieffoto

Die belastingbetaler het nagenoeg R13 miljoen opgedok vir goue handdrukke vir twee voormalige SAUK-hoofde.

Die openbare uitsaaier se 2013/14-jaarverslag is die week in die parlement ter tafel gelê en het aan die lig gebring dat Lulama Mokhobo, voormalige uitvoerende hoof, meer as R8 miljoen betaal is vir 11 maande se werk. Sy het in Februarie bedank. Die bedrag sluit ʼn basiese salaris van R5,3 miljoen en R2,2 miljoen se toelaes en uitgawes in.

Phil Molefe, voormalige nuushoof van die SAUK, het ʼn goue handdruk van R4,8 miljoen ontvang toe hy die uitsaaier verlaat het. Dit sluit ʼn basiese salaris van R3,5 miljoen en R733 000 se reiskostes en toelaes in.

Die DA het intussen vir Thuli Madonsela, Openbare Beskermer, gevra om ʼn ondersoek te doen om vas te stel of Hlaudi Motsoeneng, omstrede SAUK-bedryfshoof, ʼn rol gehad het in Mokhobo en Molefe se goue handdrukke en of dit onnodige finansiële verliese vir die openbare uitsaaier tot gevolg gehad het.

“In die Openbare Beskermer se verslag van 17 Februarie 2014 is daar bevind dat Motsoeneng senior personeel gesuiwer het en dat dit tot onnodige finansiële verliese gelei het en op finansiële wanbestuur neergekom het,” het Gavin Davis, DA-LP, gesê.

Die verslag bevat 14 gevalle waar senior personeel gesuiwer is maar maak nie melding van Mokhobo en Molefe se sake nie. “Daar is egter bewyse dat Motsoeneng ook ʼn sleutelrol gespeel het in die suiwering van Mokhobo en Molefe,” het Davids gesê.

Hy het ook versoek dat Madonsela moet vasstel of Motsoeneng aan finansiële wanbestuur skuldig is weens die R13 miljoen wat vir goue handdrukke opgedok is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Suzette ·

Vra ek ook Andries. Mens kan nie meer SABS 1,2,3 of etv kyk nie, want daar is niks, ABSOLUUT NIKS waarna jy kan kyk nie. As jy dan die uiterste doen en R800 plus ‘n maand betaal om dstv te hê, kyk jy tot satwordens toe na herhalings wat al by jou ore uit peul. Daar is so min wat nuut is, dat dit wraggies nie die bedrag werd is nie. Ek meen hoe bereken hulle 7.5 miljoen aan een salaris??? Waarvoor nog TV stelle besit, laat staan nog lisensies betaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.