Grafika: SA se demokrasie 29 jaar later

President Nelson Mandela van die ANC glimlag breed op 27 April 1994 in Oshlange, naby Durban, terwyl hy sy geskiedkundige stem uitbring tydens Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing. (Foto:
WALTER DHLADHLA / AFP)

Vanjaar is die 29ste herdenking van Vryheidsdag as nasionale viering van demokratisering in 1994. Dié dag bied die geleentheid om van nader die stand van demokrasie in Suid-Afrika – objektief en subjektief gemeet – te ondersoek.

Internasionale indekse

Volgens internasionale demokrasie- en vryheidsindekse is Suid-Afrika sedert 1994 as vry en demokraties bestempel. Freedom House het in 2023 vir Suid-Afrika 79/100 bepunt en as volledig vry bestempel.

Volpunte is gegee vir die Suid-Afrikaanse demokratiese proses, asook vir die reg om in verskillende organisasies te organiseer. Wanneer dit kom by politieke pluralisme – dit is partye en groepe buiten die regerendes se toegang tot regte en regering – is ʼn gemiddeld van 75% toegestaan. Vir regeringsfunksionering is ʼn punt van net-net bo 60% gegee. Wanneer dit kom by burgerlike vryhede het Suid-Afrika weer amper volpunte gekry.

Met die maatstaf van oppergesag van die reg het Suid-Afrika effe in die hek geduik met ʼn skamele 50%. In die ontleding van persoonlike outonomie en regte het ons weer ʼn gemiddeld van sowat 60% gekry.

Verder het die Fraser Instituut se Human Freedom Index in 2022 Suid-Afrika 77ste uit 165 lande, en 8ste in sub-Sahara Afrika, gerangeer en volledig vry bestempel gemeet aan persoonlike en ekonomiese vryheid van die burgers.

Volgens internasionale indekse word die Suid-Afrikaanse demokrasie as oor die algemeen vry en goed funksionerend in terme van prosesse geag.

Vertroue in instellings

Ten spyte van objektiewe demokratiese welstand, heers groot wantroue oor veral regeringsinstellings onder Suid-Afrikaanse burgers.

Die Edelman Trust Barometer 2023 het getoon Suid-Afrikaanse burgers het die tweede laagste vertroue ter wêreld in die regering. So ook het ons die grootste vertrouensgaping tussen die privaatsektor/besighede en die regering ter wêreld.

Die regering word gesien as die mees onbevoegde én onetiese groepering in die samelewing met nieregeringsorganisasies en besighede wat die meeste vertroue inboesem.

Regeringsleiers is so ook die enkele mees gewantroue leiersgroep in Suid-Afrika met byna 90% van mense wat hulle nie vertrou nie. Dié regeringsleiers word ook deur sewe uit 10 mense gesien as die grootste verdelende mag wat mense se onderliggende verskille uitbuit.

Gegewe hierdie vlakke van wantroue, waarheen sien mense die demokrasie gaan?

Demokratiese welstand

ʼn Meningspeiling in 2019 deur AfroBarometer en die Instituut vir Geregtigheid en Versoening het getoon 65% van Suid-Afrikaanse burgers is bereid om demokratiese verkiesings prys te gee in ruil vir ʼn nie-verkose doeltreffende regering wat kos, werksgeleentheid en veiligheid kan verseker. Ingevolge hiervan ag die meerderheid burgers doeltreffende regering belangriker as die reg om te kan stem.

Hierdie is egter ʼn verskynsel wat reeds in die vroeë 2000’s in dié meningspeilings na vore gekom het:

Soortgelyke navorsing deur AfroBaromter in 2018 het verder getoon net 54% van burgers meen demokrasie is nog hul verkose regeringsvorm met slegs 42% wat meen die Suid-Afrikaanse demokrasie werk nog goed.

Die navorsing het verder getoon Suid-Afrika onderpresteer wanneer dit kom by ondersteuning van demokrasie in vergelyking met sy Afrika-eweknieë.

Die meerderheid burgers meen ook Suid-Afrika is óf glad nie ʼn demokrasie nie, of ʼn demokrasie met groot probleme. Slegs een uit 10 mense meen volgens dié navorsing Suid-Afrika is nog ʼn volwaardige demokrasie. So is die meerderheid mense ook nie meer tevrede met die Suid-Afrikaanse demokrasie nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.