Derek Hanekom, minister van toerisme, het sy ondersteuning gebied aan die voorstel dat sanitêre ware van BTW vrygestel moet word.
Hanekom het Dinsdag honderde leerlinge van skole landswyd, wat ʼn besoek aan die parlement afgelê het, toegespreek. “Daar is tans ʼn paneel wat aanbevelings sal maak watter produkte van BTW vrygestel moet word, en daar is ʼn baie sterk aanbeveling dat sanitêre doekies van BTW vrygestel moet word. Ek ondersteun dié voorstel,” het hy gesê terwyl hy vrae van leerders beantwoord het. “Ek dink daar is ʼn sterk saak dat sanitêre ware veral vir meisies in skole beskikbaar gemaak moet word.”
Die jeugberaad is deur die Nelson Mandela-kinderfonds georganiseer in vennootskap met die departement van toerisme onder die tema “ʼn Mandela in elke generasie”.
Die beraad het die unieke geleentheid vir die jeug gebied om ook hul stemme te laat hoor oor sake wat hulle raak. Dit is ook ʼn platform vir kinders om met verteenwoordigers van verskillende instansies, insluitend sakeleiers en politici en ander leiers van die gemeenskap, te gesels.
Hanekom het gesê die regering moet sanitêre ware as ʼn basiese mensereg beskou. “En ek dink ons moet in daardie rigting beweeg. Ons moet dit beskou as ʼn reg, net soos wat onderwys ʼn reg is.” Hy het bygevoeg behoeftige leerders kan nie sanitêre ware bekostig nie en dit het ʼn impak op meisies se vermoë om te leer.