Groep in hof wat R500 miljoen se dwelms na Australië wou smokkel

(Foto verskaf deur die Valke)

Vyf persone het Donderdag in die landdroshof in Kempton Park verskyn in verband met die onwettige smokkelary van dwelmmiddels na Australië via die OR Tambo- internasionale lughawe.

Stanley Nkuna (33), Justice Mahloma (44), Madimetje Mahangwhane (41), Thulani Sibiya (31) en Fuba Mahlangu (40) is al sedert 15 November 2023 in aanhouding toe hulle deur die Valke se eenheid in Gauteng, wat ernstige georganiseerde misdaad ondersoek, in hegtenis geneem is.

“Die vyf beskuldigdes was na bewering betrokke om dwelmmiddels ter waarde van R500 miljoen na Australië uit te smokkel. ‘n Besending van vyf sakke dwelmmiddels van 100 kg elk is tydens ‘n dwelmklopjag op 7 Oktober 2023 in Australië gevind,” sê kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke).

Hulle het reeds verskeie kere in die hof verskyn vir hul aansoeke om borgtog.

“Tydens die hofverrigtinge het die toesighoudende beampte aangedui dat die beskuldigdes nie deursigtig was wat betref getuienis om die hof te ondersteun om ʼn ingeligte besluit rondom hul borgtog te maak nie.”

Beskuldigde 1, 4 en 5 se aansoeke om borgtog is afgekeur, aangesien dit nie in die belang van geregtigheid sal wees nie, aangesien hulle versuim het om buitengewone omstandigheidsgetuienis in te dien vir hul aansoeke om borgtog, sê Mogale. Beskuldigde 2 en 3 is vrygelaat op borgtog van R15 000 elk op voorwaarde dat hulle nie die provinsie sonder toestemming mag verlaat nie.

Die saak is uitgestel tot 30 April 2024.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.