Groot-Brak se ganse wen eerste rondte

Groot-Brakrivier se ganse. (Foto: Alet Engelbrecht)

Geskryf deur: Alet Engelbrecht

Groot-Brakrivier se ganse het die eerste rondte van ʼn bittere twis tussen inwoners en omgewingsaktiviste gewen. Die ganse is lank reeds die oorsaak van groot tweespalt onder inwoners van dié kusdorpie op die Tuinroete. Die konflik is vroeg in November op die spits gedryf toe pro-gans-inwoners lede van die Dierebeskermingsvereniging verjaag het toe dié probeer het om die ganse te hervestig.

Die sowat 30 ganse het in baie inwoners en besoekers se harte gekruip en padgebruikers weet al teen dié tyd dat die ganse voorrang geniet om die pad al waggelend oor te steek na die riviermonding-area waar hulle wei.

Ander wil die ganse laat verwyder, omdat die voëls nie inheems in dié gebied is nie en ontlasting boonop die omgewing ontsier.

Na vele klagtes het lede van die DBV een laatmiddag vroeg in November onverwags opgedaag om die ganse in hokke te jaag en te verwyder. Volgens Elize Goosen van die Tuinroete DBV het hulle in opdrag van die Mosselbaai-munisipaliteit opgetree om die ganse te verwyder en op ʼn plaas in die area te hervestig. Inwoners se emosionele reaksie op dié besluit het owerhede egter genoodsaak om te herbesin en daar is besluit om die ganse voorlopig in vrede te laat. Enige besluite rondom die ganse se toekoms is uitgestel tot middel Januarie volgende jaar.

Volgens die Groot-Brakrivier Bewarea is die ganse nie deel van die natuurlike ekostelsel van die riviermonding nie.

Scott Thomson, voorsitter van die bewarea, verduidelik dat makgemaakte plaasganse wat in Suid-Afrika voorkom jare gelede uit Europa ingevoer is, as deel van die voedselproduksieketting. Die plaasganse het dus nie op hul eie by die Groot Brak-riviermond aangekom nie. Volgens Thomson is die kwessie wat bewaringsaktiviste die meeste bekommer die oorbelading van die riviermonding wat natuurlike voedsel betref en die impak hiervan op die inheemse voëlspesies wat hier voorkom.

“Die moontlike oorbeweiding deur die ganse kan ʼn invloed hê op die plantegroeidinamika van die estuarium, wat weer ʼn afname in biodiversiteit tot gevolg het. Die uiteindelike gevolg is ʼn afname in die habitat-gehalte van ander spesies wat van die riviermonding afhanklik is,” sê Thomson. Die estuarium dien as ʼn broeiplek vir verskillende visspesies wat afhanklik is van die waterplante vir voedsel en sekuriteit. Thomson sê die bewarea beywer hulle vir die korrekte bestuur van die kwessie met inagneming van die ganse se welsyn en die bewaring van die estuarium.

Hennie Booyens en Philip van Rensburg, wat op die rivier bly, voel egter die ganse is deel van die Groot-Brakriver-gemeenskap. “Die ganse vlieg so drie keer per week in die nag hier na ons gebied en eet dan aan die wortels van die biesies wat besig is om die plek toe te groei. Die ganse vervul ʼn belangrike bewaringsfunksie om die biesies onder beheer te hou en die rivierwater gesond te hou.”

Volgens Booyens is die ganse se dieet glad nie in kompetisie met dié van seevoëls nie en hou dus nie ʼn bedreiging vir hulle in nie. “Ons gaan dikwels met ons kano’s uit op die rivier en is verstom oor die groot verskeidenheid voëllewe hier. Dit is soos in die Okavango met voëls wat kwetter en visarende wat roep. Daar is baie erger probleme waaraan bewaringsaktiviste kan aandag gee, soos byvoorbeeld die rioolafval wat by die eiland in die Groot-Brakrivier ʼn groot probleem raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.