Groot kommer ná vier van skool glo eie lewe neem

(Foto: Primrose Murahwi / Unsplash)

Vier leerders aan die Eqinisweni Secondary School in Midrand is binne die bestek van 10 dae oorlede nadat hulle glo hul eie lewe geneem het.

Matome Chiloane, LUR vir onderwys in Gauteng, het gesê hy is uiters geskok oor die tragedies wat die skool in Ivory Park getref het.

“Volgens inligting tot ons beskikking het die eerste voorval op 26 April plaasgevind. Daar word beweer dat ʼn gr. 10-meisie gif by die huis gedrink het. Sy is na ʼn plaaslike kliniek gehaas, waar sy ongelukkig dood verklaar is,” het Steve Mabona, woordvoerder van die departement, gesê.

Op 2 Mei het die ouers van ʼn gr. 11-meisie op haar liggaam afgekom. Sy het glo ook gif ingeneem. ʼn Gr. 11-seun is die volgende dag in die hospitaal opgeneem nadat hy glo ook gif ingekry het. Hy is in die hospitaal oorlede. Op 5 Mei het ʼn gr. 12-meisie na bewering ook gif by die huis gedrink en is sy dood onderweg na ʼn nabygeleë kliniek.

Ondersteuningspanne is na die skool gestuur om berading te verskaf en dié beradingsdienste sal ook aan die betrokke gesinne gebied word.

“Dit is inderdaad hartverskeurend om die verlies van jong lewens te aanskou. Ons betuig ons innige meegevoel met die families oor hul verlies,” het Chiloane gesê.

Die departement het ʼn beroep op leerders gedoen om uit te reik na beskikbare ondersteuningstrukture en hulpbronne indien hulle enige uitdagings ervaar. Kontak Childline by 116 of die Suid-Afrikaanse Depressie-en-Angsgroep (Sadag) by 0800 567 567 of 0800 456 789.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

annie ·

Waar is hul ouers? Buite-instansies? Suid-Afrikaanse huishoudings is in ‘n erge warboel en die staat bekommer hom net oor mag.

Vriendelike Frikkie ·

Hierdie klink baie verdag. Dalk het hulle weer iets by ‘n spaza winkel gekoop. Soos wat met die vorige onnatuurlike sterftes onder kinders die geval was.

Di ·

Stem saam met vriendelike Frikkie, hierdie storie is baie verdag

George ·

@Danie, vat dit, met boelie, en swak toekomsuitsig en jyt nie veel hoop nie.

Charllas ·

Ek is 99% seker die is `n boelie geval, waar jammer om te sê meeste onderwysser ander kant toe kyk of skouers optrek (of self saam boelie), JA ek weet waarvan ek praat was self met my kind daardeur. As dit `n boelie geval is hoop ek daai boelies word aangekla vir strafbare manslag, hulle het nie die persoon self dood gemaak nie maar hulle optrede het wel. Ek raak rooi warm as ek sulke goed lees omdat boelies (kinders en die oulike onderwysers) my kind se dood amper veroorsaak het!
BAIE stekte aan die ouers, geen woorde kan julle seer beter maak nie, niks kan die seer ligter maak nie – Sterkte
@Annie, jy weet normale mense werk deur die dag, om te oorleef moet albei ouers werk en die is nie kinders van 5 nie dis Hoërskool kinders wat mens deur die dag tuis kan los sodat ma en pa kan werk – jy oordeel lekker seker met die goue lepel gebore! Mens kan nie jou kind 24/7dop hou nie

Casper ·

Jy kan nie jou kind24/7 oppas nie maar jy kan wedersydse vertroue bewerkstellig.Jou kind kan met jou probleme bespreek en dan sal jy gou agterkom wat fout is.Jy Jan ook met vrymoedigheid met jou kind praat.Hoekom 4 leerders van een skool.

Patch ·

@annie, mens kan nie jou kind 24/7/365 oppas nie. Hierdie kinders se ouers werk dalk daagliks en heel moontlik ‘n tweede werk om inkomste te genereer. Dis nie regverdig om te vra waar die ouers is nie. Baie tieners loop met ‘n swaarmoedige gemoed rond sonder dat enige iemand naby hulle dit agterkom, tot dit ongelukkig te laat is.
Sterkte aan die ouers van hierdie kinders, ek kan nie dink dat dit maklik is om te verwerk dat jou kind sy/haar eie lewe geneem het nie.

Porseleintjie ·

Danie jy slaan die spyker op die kop. Kon dit nie beter gestel het nie. Andersins beslis n uitdaging onder die kinders. Alhoewel boelies n realiteit is, het dit n gerieflike sondebok geword.

Leeubekkie ·

So tragies. Hoop die ondersoek kan lig daarop werp en nog sterftes verhoed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.