Groot tekort aan afvalpapier pootjie meulens

In Suid-Afrika word 1,2 miljoen ton afvalpapier jaarliks versamel en sowat 90% daarvan word plaaslik herwin tot nuwe papier, verpakking en sneespapier. (Foto: Pamsa/Facebook)

ʼn Groot tekort aan verskillende grade afvalpapier staar Suid-Afrika in die gesig – en daar is kommer dat die neiging na die einde van die jaar gaan voortduur en selfs verdere druk op plaaslike papiermeulens gaan plaas.

Afvalpapier beslaan ʼn beduidende gedeelte van roumateriaal vir sowat 80% van plaaslike papiervervaardigers wat verpakking- en sneespapier produseer.

Die Vereniging van Papiervervaardigers van Suid-Afrika (Pamsa) sê K3-graad‑ (die graad wat verwys na afvalpapier voor dit die verbruiker bereik) en K4-graad-papier (nadat dit die verbruiker bereik) word gebruik in die produksie van papierverpakking soos geriffelde bokse vir die uitvoermark en die vervoer van plaaslike goedere.

Jane Molony, uitvoerende direkteur van Pamsa, sê met die sitrusseisoen nou agter die rug en minder kartonbokse in sirkulasie, is daar ook minder bokse beskikbaar om te herwin.

In Suid-Afrika word 1,2 miljoen ton afvalpapier jaarliks ingesamel en sowat 90% daarvan word plaaslik herwin tot nuwe papier, verpakking en sneespapier.

Die afvalpapier is afkomstig van heelwat bronne, waaronder bedryfsgeleide projekte vir die insameling en aankoop van herwinbare papier, optelprogramme langs sypaadjies, by skole, kerke, kantore en behuisingskomplekke, asook onafhanklike handelaars.

Papierverpakking soos kartonbokse beslaan sowat 77% van dié herwinde materiaal. Nagenoeg 40% van kantoorpapier word herwin, terwyl heelwat daarvan geargiveer word. Huishoudings, skole en kantore is dikwels ook nie pligsgetrou met die sortering van verskillende soorte afval nie.

Veel groter aanvraag

Die ontwrigting wat Covid-19 aan verskaffingskettings veroorsaak het, het ook ʼn regstreekse uitwerking op die verbruik, vraag na en insameling van papierprodukte gehad.

“Kantore en skole was verlede jaar en vroeg vanjaar nog gesluit of het op ʼn rotasiegrondslag gewerk, wat beteken daar was minder papier om in te samel,” sê Molony.

Daar is ook ʼn toenemende vraag na papierverpakking met ʼn skuif na aanlyn inkopies en ʼn meer omgewingsverantwoordelike manier van verpakking.

Tesame met die ontwrigting van groot, internasionale skeepsroetes, word die voortgesette vermindering in voorraadvlakke toegeskryf aan ʼn beduidende toename in uitvoerpryse van afvalpapier. Gevolglik verkies papierverkopers die uitvoer- eerder as die plaaslike mark.

ʼn Papiermeule wat herwinde afvalpapier gebruik, het 21 dae se voorraadvlakke vir optimale bedrywighede nodig. Voor die Covid-19-pandemie kon papiermeulens tot 30 dae se voorraad van kraft-, gemengde en kantoorpapier dra.

Deesdae moet plaaslike meulens egter al hoe meer van hul eie voorraad gebruik en dit het gelei tot ʼn gemiddelde daling van 63% – van 36 dae tot 13 dae – in voorraadvlakke.

Plaaslike bedryf kan nie met buiteland meeding

Papierverpakking soos kartonbokse beslaan sowat 77% van die herwinde materiaal. (Foto: pixabay)

Uitvoerders van papier wat plaaslik herwin word, verskaf ook dié papier aan groot buitelandse kopers.

“Sommige van die kopers is groter as die gekombineerde Suid-Afrikaanse papierbedryf en kan bekostig om veel hoër pryse vir afvalpapier as ons plaaslike vervaardigers te betaal,” sê Molony.

Pamsa se lede het reeds miljarde rand belê in die herwinningswaardeketting en is die primêre bron van afvalpapier wat ingesamel word. Die maatskappye neem gesamentlik sowat 16 300 mense in diens en ondersteun ʼn florerende netwerk van informele insamelaars en klein herwinningsondernemings.

Molony sê die Internasionale Handelsadministrasie (ITAC) werk nou saam met alle rolspelers in die bedryf om te verseker dat uitvoerpermitte behoorlik bestuur word.

Hy het ʼn beroep op sakeondernemings en huishoudings gedoen om hul papier en papierverpakking te sorteer en eenkant van algemene afval te hou.

“Jy kan die items bloot in ʼn sak of ʼn boks langs jou asblik vir informele versamelaars laat,” sê sy.

Gebruikte kantoorpapier, ontbytgraanbokse, bruin kartonbokse, melk- en sapbokse – en selfs eierhouers – is net sommige van die papieritems wat herwin kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

koos ·

Nou wat dink hulle? Voer meeste uit en nou is daar ‘n plaaslike tekort……eish!

JohanR ·

Solank daar net toilet papier is ek gelukkig…..ek bekommer nie oof enige ander papier.

Shakespeare ·

Ek gaan nou dadelik begin om dose te versamel. Daar is hope in RSA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.