‘Groot vordering’ met agterstand by Pretoriase hooggeregshof

Die hooggeregshof In Pretoria. (Foto: Twitter)

Die Pretoriase Prokureursvereniging (PPV) sê groot vordering is die afgelope paar weke gemaak om die agterstand by die Pretoriase hooggeregshof uit te wis.

Daar was die afgelope ruk tientalle klagtes van prokureurs weens die probleme by een van die land se besigste howe. Weens die afsonderingsmaatreëls wat deur die Covid-19-pandemie genoodsaak is, moes groot hoeveelhede werk elektronies ingedien word omdat die hofgebou nie soos gewoonlik binnegegaan kan word nie.

Aansoeke vir hofdatums of die indien van hofstukke moet ook alles elektronies gedoen word.

Die hof se IT-stelsel en infrastruktuur is reeds erg verouderd en weens die bykomende werklas oënskynlik heeltemal oorweldig. Die hof maak gebruik van CaseLines, ʼn program om hofsake en bewysstukke elektronies te bestuur. Daar was egter heelwat klagtes van oorvol e-pos-adresse wat later glad nie meer e-pos kon ontvang nie, fone wat onbeantwoord lui en dokumente wat nie tydig verwerk is nie.

Talle vrywilligers het elke dag opgedaag om die agterstand te help uitwis. (Foto: PPV)

Tiaan Joubert, voorsitter van die PPV, sê vrywilligers van prokureursfirmas verbonde aan die vereniging het ingegryp en drie weke lank gehelp om die agterstande te verwerk.

“Daar was elke dag tussen 10 en 18 vrywilligers. Sekere firmas het toegewyde werknemers gestuur wat daagliks drie weke lank daar gewerk het. Daar het elke dag kandidaatprokureurs opgedaag wat wou kom help. Ons het meer aanbiedinge gekry as wat ons kon gebruik. Die spasie en infrastruktuur het egter nie meer hulp toegelaat nie,” het Joubert gesê.

Hulle het eindelik meer as 4 600 agterstallige dagvaardings uitgereik, meer as 1 700 onbestrede aansoeke verwerk en meer as 1 300 geregtelike sake (bekend as JCM’s) help bestuur.

Aansoeke tussen Maart en Junie is meestal nou verwerk. Joubert sê hoewel dit moontlik is dat foute ingesluip het en sommige kwessies steeds uitstaande is, is reusevordering gemaak.

“Ons kan ook net só lank uithelp, maar ten minste is die krisis afgeweer,” het hy gesê.

“Die hof benodig behoorlik bygewerkte infrastruktuur en daar is te min personeel. Die hofbestuur moet ook verbeter en aangepas word. Daar is baie bekwame registrateurs, maar ook net soveel registrateurs wat ‘bestuur’ nodig het,” het Joubert gesê.

“En natuurlik is daar ook korrupsie op administrasievlak, byvoorbeeld R200 vir ʼn vinnige datum of saaknommer. Die hof is egter bewus daarvan. Die hof het dieselfde probleem as die staat: Die politieke wil van die minister se kantoor om korrupsie aan te pak, ontbreek.”

Daar was ook klagtes nadat kartonbokse vroeër by die hof neergesit is waarin onbestrede aansoeke en lasbriewe geplaas kon word in ʼn poging om druk op die elektroniese stelsel te verlig. Dit was egter nie lank nie, of dié bokse was chaoties. Foto’s daarvan is boonop wyd en syd aangestuur as bewys van die probleme by die hof.

Joubert sê die probleem is egter binne ure uitgestryk en dieselfde oggend nog is behoorlike kaste aangebring waarin dokumente netjies geliasseer kon word.

“Dit is haas onmoontlik om alles korrek te doen, maar ons projek – om dagvaardings van Maart tot Junie te orden, was suksesvol. Ons het uiteindelik selfs meer reggekry. Dit is ʼn wengeleentheid vir ons en stadig maar seker moet die wiel weer begin draai.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anel ·

En wie se breinkind was die hulp, en wie was die hulp? Mag nie hardop sê nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.