Gru-ongeluk eis 18-jarige se bene

Edwin en sy ma, Tanya Marx (Foto: Verskaf)

Toe Tanya Marx die afgelope naweek hoor dat haar 18-jarige seun in die Mediclinic Potchefstroom opgeneem is, het sy nie geweet wat om te dink nie.

“Dit was vir my die grootste skok, dit het geensins realisties gevoel nie. Die hospitaal het my daardie oggend met die nuus gebel en gesê dat my seun nou ingaan teater toe. Ek vra toe: ‘Is hy oukei’?”

Dit is toe dat die stem oor die telefoon sê: ‘Hulle moet jou seun se bene amputeer’.”

Edwin Nelson se lewe het Sondag in ʼn oogwink verander toe hy vroegoggend ernstige beserings in ʼn motorongeluk opgedoen het.

Die kranige sportman wat verlede jaar aan Potchefstroom Gimnasium gematrikuleer het, was die afgelope naweek in Potchefstroom om die Classic Clash-wedstryd tussen die Gimmies en Volkies by te woon.

Hy het ongeveer 04:30 Sondag weer na sy ouerhuis in Vaalpark, Sasolburg, vertrek.

“Edwin het tussen Potchefstroom en Parys beheer oor sy motor verloor. Die motor het die pad verlaat en toe hy aan die stuurwiel ruk om die motor terug op die pad te kry, is hy reguit in die padversperrings in,” sê Marx.

Edwin vir die eerste keer in ‘n rolstoel (Foto: Verskaf)

“Sy voete was af. Die padversperring is reg deur die motor en dit het sy bene heeltemal afgesny.”

Volgens Marx was dit ʼn baie traumatiese ervaring vir Edwin, veral omdat hy lank in die motor se wrak vasgekeer was.

“Mamma, ek het gedink ek is besig om dood te gaan.” Dié woorde sal haar vir ewig bybly, sê Marx.

“Hy sê hy het nie eens die pyn in daardie stadium gevoel nie, hy het net heeltyd gehoop en bid iemand vind hom. Hy het ongelooflik baie bloed verloor; dat hy lewe is eintlik ʼn wonderwerk. My seun kon nie uit die kar klim nie; hy was nie vasgekeer nie, maar hy kon nie uit die kar klim nie, want sy voete was af,” sê Marx emosioneel.

Marx kan nie sê hoe lank haar seun moes wag voordat die polisie op die toneel aangekom het nie. Sy sê wel dat hy nog langer vir die ambulans moes wag aangesien die ongeluk presies tussen die twee dorpe gebeur het en die ambulans eers ontbied is toe die polisie op die toneel aangekom het.

“Ek kan nie beskryf hoe ek voel nie. Dit is verskriklik, dit is al wat ek kan sê, maar dit het gebeur en nou wil ek net seker maak dat my seun al die ondersteuning kry wat hy nodig het.”

Edwin is volgens sy ma baie gewild onder al sy maats en was die eerstehokkiespan se onderkaptein. Hy het ook in talle ander sportsoorte soos rugby, tennis, gholf en krieket uitgeblink.

“Almal is mal oor hom, sy onderwysers en al sy maats, hy sal met enigiemand oor die weg kom. Hy is altyd positief, hy sien altyd die mooi in alles raak.”

Edwin en sy jonger sussie, Storm (Foto: Verskaf)

Volgens Marx kry Edwin baie ondersteuning van sy familie en vriende. “Hy lyk positief en het vandag vir die eerste keer in ʼn rolstoel geklim. Eintlik wil hy nou net uit die bed uit en begin beweeg,” skerts Marx.

“Die liewe Here het my kind se lewe gespaar en nou moet ons die beste doen met dit wat ons oorhet. Ons was al deur baie en daar is niks wat ons nie kan deurmaak nie, ons bly vegters en positiewe mense.”

ʼn Lang herstelpad lê vir Edwin voor met die moontlikheid van verskeie opvolgoperasies. Sy bene is net onder sy knieë geamputeer en hy verduur nog baie pyn.

Sy familie en vriende het intussen ʼn skarefinansieringsveldtog begin om geld in te samel vir sy mediese onkoste, terapie, rehabilitasie en prostese.

Marx vra dat die gemeenskap vir Edwin in hul gebede sal hou deur hierdie moeilike tyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Impact ·

Sterkte jongman, jy is in die fleur van jou lewe en jy moet nie toelaat dat dit jou onderkry nie. Ek het ‘n seun geken wat geen onderlyf gehad het nie, en hy het hom tot en met sy dood nooit laat onderkry nie. Was vol lewe en het sport veral geniet.

Tanya ·

Bitterlik hartseer! Sterkte seun, klink my jy en jou Ma is albei sterk mense, en sal beslis hier deur kan kom! Hoop en wens julle aller beste toe….

popsa ·

Dink aan jou, Edwin. Jy sal alle krag ontvang wat nodig is. Vasbyt Mamma.

Mallie ·

Baie sterkte vir julle en hou net julle oe op ons hemelse Vader. Glo en trou net op Hom.

Nettie ·

Sjoe, mens se hart. Dis ontsettend. Die trauma moes so verskriklik gewees het. Om daardeur te gegaan het, die magteloosheid, die vrees, die verskrikking. Die arme kind. Mens kan net saam met sy ma dankbaar wees dat hy leef. Dit was duidelik net genade. Mag God hom verder ook dra, met die pyn, die aanvaarding, die frustrasies, als wat oor sy pad gaan kom. Sterkte aan die gesin en veral aan Edwin.

Charmain ·

Ai so hartseer, sterkte vir die familie.
My reel met my tieners is as jy na 00.00 moet ry, slaap jy oor. Ongelukke gebeur so vinnig

Miskruier ·

Geen van ons kinders hoort snags op ons paaie nie. God het voorwaar beslis dat hy nie lê en uitbloei nie.

Papsak ·

Sterkte nog so jonk ne ons sal bid vir hom maar alles gebeur met n doel

Martie ·

Mag God jou positief hou, jammer vir die terug slag maar als sal goed gaan Met God se genade. Bly sterk in Jesus naam.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.