Gru-ongeluk eis vier van ʼn familie

Die ongelukstoneel. (Foto: ALS Paramedics)

Vier mense, een van hulle ’n tiener, is dood en agt ander, twee van hulle babas, is gisteraand beseer in ’n gru-botsing in Durban.

Die ongeluk het Vrydag net ná 20:00 op die N2-Noord in die omgewing van die Spaghetti-wisselaar plaasgevind.

ALS Paramedics sê paramedici het gisteraand by hul aankoms op die toneel “’n absolute bloedbad” aangetref nadat die bestuurder van ʼn ligteafleweringsvoertuig met lede van ʼn familie daarin beheer oor dié voertuig verloor en agter teen ʼn vragmotor gebots het.

Een man en twee vroue was vasgekeer in die wrak van die voertuig. Die slagoffers is met hidrouliese toerusting uit die wrak bevry en op die toneel dood verklaar.

Agt ander mense, onder wie twee babas, het matige tot kritieke beserings in die botsing opgedoen. Hulle is op die toneel gestabiliseer voordat hulle na ’n nabygeleë Durbanse hospitaal vervoer is vir verdere mediese behandeling.

ALS Paramedics het intussen gesê dat ’n tiener ná die ongeluk ook aan sy of haar beserings beswyk het. Dit bring die dodetal op vier te staan.

Die presiese omstandighede rondom die ongeluk is nie in dié stadium duidelik nie. Die polisie was gisteraand op die toneel om ondersoek in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.