Gupta-direkteurs vervolg oor bedrog van R107,5 miljoen

Ronica Ragavan, voormalige direkteur van Tegeta Exploration and Resources, Pushpaveni Govender, voormalige trustee van die Optimum-steenkoolmyn en Joel Raphela, die voormalige adjunk- direkteur-generaal in die departement van minerale hulpbronne, is in hegtenis geneem en het Woensdagoggend in die Randburg-landdroshof verskyn.

Sindisiwe Seboka, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag se ondersoekdirektoraat, sê die drie persone staan tereg op aanklag van bedrog, vervalsing en uitgifte, meineed en geldwassery ter waarde van R107,5 miljoen van mynrehabilitasiefondse vir die Optimum-steenkoolmyntrust se rekening en Koornfonteinmyn se rekening in 2016.

“Die twee voormalige maatskappytrustees is vrygelaat op borgtog van R20 000 elk. Raphela is tydens die hofverrigtinge na ʼn hospitaal gehaas vir mediese behandeling.”

Die maatskappye word ook aangekla en by die volgende verskyning moet Optimum-steenkoolmyn, Koornfonteinmyne en Tegeta Exploration and Resources verteenwoordig wees.

Tegeta het in 2015 beheer oorgeneem van die Optimum-mynrehabilitasietrust en die Koornfontein-rehabilitasietrust. “Kragtens die verkoopsooreenkoms moes die rehabilitasiefondse teen 15 Februarie 2016 in kontant omskep wees. ʼn Bedrag van R7,5 miljoen is op 23 Mei 2016 van die Optimum-mynrehabilitasietrust se rekening by Standard Bank oorbetaal na Optimum-steenkoolmyn. Die bedrag is gebruik as deel van ʼn betaling van R26,4 miljoen vir Klipbank Mining – teenstrydig met die vereistes van die trust, ongeag waarvoor die geld aangewend is.”

Ragavan en Govender het in Junie 2016 ʼn bedrag van R100 miljoen van die Koornfontein-trustrekening bekom as waarborg vir Tegeta se aankope van die Optimum-steenkoolmyn.

“Die departement van minerale hulpbronne het toestemming gegee vir die verkope van 100% van die beherende aandeel deur Optimum Coal Holdings in die Optimum-steenkoolmyn en Koornfonteinmyn ten gunste van Tegeta vir mynbou- en prospekteringsregte.”

Volgens die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne (MPRDA) word daar van die minister van minerale hulpbronne verwag om die rehabilitasiefondse te hou om rehabilitasie en remediëringswerk te hanteer weens die negatiewe impak op die omgewing weens mynboubedrywighede wanneer ʼn myn verkoop word of gesluit word.

“Die permithouer moet seker maak dat die finansiële voorsiening gelykstaande is aan die koste om die myn en die omgewing vir ʼn periode van 10 jaar te rehabiliteer ná die myn gesluit word. In hierdie geval word die trustees, volgens die klagstaat, daarvan beskuldig dat hulle ʼn skema georkestreer het waar hulle versoek het dat die bedrag, wat in die twee rehabilitasiefondse gehou is, oorbetaal moet word na ʼn ander maatskappy – ʼn oortreding van die reëls van die departement van minerale hulpbronne.”

Raphela, as voormalige adjunk- direkteur-generaal, word daarvan beskuldig dat hy goedkeuring gegee het dat die geld uit die Koornfontein-mynrehabilitasiefonds uitbetaal word.

Die staatsaanklaer, adv. Andrea Johnson, benadruk dat die ondersoekdirektoraat van die NVG en die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), toegewyd is om seker te maak dat diegene wat hulleself aan korrupsie en staatskaping skuldig maak, strafregtelik aanspreeklik gehou sal word. Die instansies sal ook hard werk om die gesteelde fondse terug te kry. “Die land kan verwag dat nog van dié prioriteit-staatskapingsake binnekort in die hof sal voorkom.”

Die saak is tot 22 Junie 2022 uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Nie Verbaas ·

My vraag presies. Hulle sal nooit gevonnis word nie want dit gaan meen dat Zuma ook weer gevonnis moet word en slapgat Ramaphosa sal dit nie toelaat nie.

Sarel ·

Ha ha…die SA Staatsamptenaar of gewese Staatsampt
is in die Hospitaal opgeneem…Dit word nou zlmal se Taktiek…hy was blakend gesond toe die Misdaad gepleeg is…..

Deon ·

“Die maatskappye word ook aangekla en by die volgende verskyning moet Optimum-steenkoolmyn, Koornfonteinmyne en Tegeta Exploration and Resources verteenwoordig wees”. Ek glo nie n myn kan in n hof gebou inpas nie

annie ·

Biljoene was ter sprake. Waarom net peanuts? Die storie maak mens moeg… Zuma, Guptas, Zuma Guptas… Hoeveel keer gaan die vervolgingsgesag nuwe base kry en ons nuwe presidente op die kassie sien wat die nasie plegtig toespreek, voor iets gebeur?

Manie ·

Nog net die agterryers wat so hier en daar vasgetrek word, wanneer volg die arrestasies op die ringkoppe, die groot name?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.