Harde werk, gebed sorg vir internasionale onderwysprys

Dr. Ngwako Stephen Sebopetsa (Foto: Verskaf)

Harde werk en gebed is die suksesgeheim vir ’n skoolhoof van Limpopo wat onlangs aangewys is as die wenner van die Global Principals’ Award. Dít is ʼn internasionale toekenning wat uitstekende leierskapsvernuf, wennergees, belangrike werk en bydrae op die gebied van onderwys erken.

“Ek is soggens die eerste om by die skool te kom en saans die laaste om die skool te verlaat. Jy kan nie ’n verskil maak as jy nie hard werk nie,” sê dr. Ngwako Stephen Sebopetsa, skoolhoof van die Rathaga Primary School in Rakwadu naby Tzaneen.

Dié skool het 815 leerders en “min of geen” hulpbronne.

Sebopetsa het die internasionale toekenning verlede maand tydens ’n virtuele seremonie ontvang.

Die jaarlikse toekenning poog volgens sy webwerf om erkenning te gee aan “buitengewone akademiese leiers wat ’n uitstekende bydrae tot hul beroep gelewer het, uitnemendheid getoon het om hul skole te lei, ’n uitstekende bydrae tot leerders getoon het en die gemeenskap deur hul leierskap gedien het”.

Dr. Ngwako Stephen Sebopetsa is onlangs aangewys as die wenner van die Global Principals’ Award. (Foto: Verskaf

Dit is presies dié hunkering na leiding in sy gemeenskap wat die 61-jarige Sebopetsa soggens klokslag om 04:00 uit die bed laat opstaan.

“Die eerste ding wat ek soggens doen, is bid sodat God my kan help om hierdie mense te lei. Hulle verwag só baie van my. Die tweede ding wat ek doen, is om ’n motiveringsboodskap te lees. Dit boost my vir die dag.”

Sebopetsa, wat beoog om binnekort af te tree, vertel dat hy in 1985 op 25-jarige ouderdom vir die eerste keer as onderwyser by Bakenberg Secondary School in die Waterberg-distrik in Limpopo begin werk het. Sy pa, Gilbert, was ook ʼn onderwyser.

Sebopetsa is oor die jare bevorder en was sedert 1995 reeds die skoolhoof van vier ander skole in dié provinsie.

Hy verduidelik dat hy elke keer as skoolhoof aangestel is om die betrokke skool se swak slaagsyfer en algehele swak prestasie te beredder.

“Ek is lief vir my beroep en het ’n passie daarvoor. Ek wou nooit ’n onderwyser geword het vir die geld nie. Ek wou dit doen omdat ek ’n verskil wil maak in my gemeenskap. Ek wil ook nie nét ’n verskil in leerders se lewe maak nie, maar ook in onderwysers se lewe.”

Rathaga Primary School in Rakwadu, Limpopo. (Foto: Verskaf)

Dit is egter leerders se houding teenoor hul opleiding, ouers se onbetrokkenheid en onderwysers se versuim om leiding te volg wat hy uitsonder wanneer hy gesels oor die uitdagings waarvoor hy daagliks te staan kom.

“Die probleem is dat leerders nie hul opvoeding ernstig opneem nie en die ouers toon ook geen belangstelling nie. Die meeste van hulle is ongeletterd en sien nie die waarde van onderwys in nie.”

’n Tekort aan hulpbronne is ook ’n doring in die vlees. “Die grootste uitdaging is seker dat daar wonderwerke van ’n skoolhoof met min of geen hulpbronne verwag word,” vertel Sebopetsa. Hy het weens dié tekort aan hulpbronne nie eens ’n kantoor om in te werk nie.

Hy hoop nou om deur middel van die toekenning die departement van onderwys se aandag op sy skool te fokus. Die skool maak in dié stadium hoofsaaklik staat op skenkings vir belangrike hulpbronne soos skoolboeke.

“My pa [Gilbert Sebopetsa] was op sy dag ook ’n onderwyser. Almal het alles van hom verwag en dis waar ek ook nou is.”

Meer oor dr. Ngwako Stephen Sebopetsa

Dr. Ngwako Stephen Sebopetsa (Foto: Verskaf)

Sebopetsa het sy doktorsgraad aan die Universiteit van Venda verwerf en in 2012 aanvanklik aan die National Teaching Awards (NTA) in die kategorie leierskap vir laerskole deelgeneem. Hiér het hy ’n bronsprys op provinsiale vlak verower. In 2019 het hy weer aan die NTA deelgeneem in die kategorie Lifetime Achievement waar hy op nasionale vlak die bronsprys gewen het. Hy is daarna aan die Global Principals’ Awards bekend gestel, waar sy aansoek aanvaar is ná aanbevelings deur onder andere sy medehoofde.

Volgens die departement van onderwys in Limpopo het Sebopetsa al vele toekennings vir sy betrokkenheid by sy gemeenskap, asook sy leierskap en bestuur verower. Hy is ook die skrywer van ’n boek, Conversation with myself, asook akademiese artikels wat deur akademici en universiteitstudente vir navorsingsdoeleindes gebruik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Nie Verbaas ·

Geluk aan die man wat elke dag besluit om sy werk te doen tot die beste van sy vermoë.

Stof ·

Ek eer Broer Ngwako vir sy belydenis dat die sukses eerstens toe te skryf is aan sy afhanklikheid van Vader vir guns, seën, krag en leiding.
Iemand, saam met wie ek graag ‘n kommetjie koffie wil klink.

Harold ·

So goed.Prys die Here vir nog wat weet waar hul hulp vandaan kom!!!

Maggies ·

Veels geluk. Dit doen my hart goed om die sukses verhaal te lees.

Antoinette ·

Alles lyk pragtig en skoon. Mens kan sommer sien sy hart is in sy werk. As ander maar net sy voorbeeld wil volg…

Anoniem ·

Baie Geluk! Wonderlik om te weet daar is nog wat moeite doen en hard werk.

Florina ·

Sjoe! Dit wil gedoen wees. Geluk en respek aan Dr Sebopetsa. Wanneer ek (oud-onnie) na die foto van die skoolgebou kyk, is ek baie beïndruk. Netjiese gebou en skoon skoolgronde. Geniet u aftrede. Die onderwys gaan Dr Sebopetsa beslis mis.

JJB ·

Maak vir Dr Sebopetsa minister van onderwys. Dinge sal gou regkom want hy het passie vir die beroep en weet wat hy doen. Ek haal my hoed af vir die man.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.