Herstelwerk aan Kaapstad se ikoniese strandhutte begin

Herstelwerk aan die hutte op St. James-strand het pas begin. (Foto: Save Our Beach Huts/Facebook)

Herstelwerk aan die ikoniese en kleurvolle strandhutte op Kaapstad se St. James-strand in Muizenberg het amptelik begin.

Die hutte, wat jare lank in ʼn vervalle toestand was, is ʼn bekende kenmerk van Valsbaai se kuslyn en is benewens Tafelberg die stad se aantreklikheid wat die meeste gefotografeer word.

In September is ʼn Facebook-blad genaamd Save Our Beach Huts deur inwoners van Muizenberg begin. Dit het nie net groot steun op plaaslike vlak geniet nie, maar ook van diegene in die buiteland wat aangebied het om op verkillende maniere te help om die hutte na hul vorige glorie te herstel.

Volgens die webwerf Love Cape Town het die hutte die afgelope paar jaar geweldig agteruitgegaan en ʼn dreigement in 2017 om dit te verwyder, het groot teenkanting van die publiek ontlok.

“Die Nutec-borde is elders geverf. Hulle is wit weens die onderlaag en grondverf. Dit sal môre in die gepaste kleure geverf word,” lui ʼn inskrywing op die Facebook-blad.

Inwoner Angela Gorman het aan die radiostasie KFM gesê sy het besluit om die gemeenskap byeen te kry om die verwaarloosde hutte deur ʼn sosialemediaplatform te help herstel.

“Die projek het agt weke gelede begin. Ons het pas met die herstelwerk begin. Dit is ʼn veldtog wat op Facebook en Instagram begin het om mense te inspireer en opgewonde te maak oor die feit dat ons die werk self kan doen,” het Gorman gesê.

Volgens haar kan al 31 hutte herstel word as die hele gemeenskap inspring en hul tyd of kundigheid beskikbaar stel, of items soos verf en hout skenk.

In Augustus het verskeie van die kleurvolle strandhutte boonop in vlamme opgegaan. Die brand is omstreeks 01:00 deur wetstoepassingsbeamptes opgemerk en eindelik is drie hutte heeltemal verwoes. Twee is gedeeltelik beskadig.

strand St. James toeris toerisme see vakansie reis

(Foto: Save Our Beach Huts/Facebook)

(Foto: Save Our Beach Huts/Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.