Herwinningsinisiatiewe kan waterskaarste in Kaapstad verlig

Argieffoto van die Theewaterskloofdam (Oktober 2019) (Foto: Maroela Media)

Kaapstad het dalk ʼn goeie reënvalseisoen beleef, maar dit beteken nie die stad se waterprobleme is nou iets van die verlede nie.

Só sê dr. Wyhan Jooste, verbonde aan die departement bedryfsingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US), en Amoré van Zyl, stelselprojekingenieur vir die Suid-Afrikaanse Lugmag.

Kaapstad is in 2017 tot rampgebied verklaar nadat damvlakke drasties gedaal het weens droogtes. Die vlakke het tóé op 33% gestaan, terwyl die gevreesde “dag zero” al hoe meer ʼn werklikheid geword het.

Damvlakke het egter nou ná goeie reënval die afgelope tyd tot verby 100% gestyg. Boonop het die waterverbruik per dag ook afgeneem.

Theewaterskloofdam (April 2018) (Foto: Ayanda Ndamane/ANA)

“’n Kombinasie van bewaringsbestuur, reënwateropvangs, gebruik van gryswater en die herwinning van behandelde rioolwater van gesentraliseerde en gedesentraliseerde fasiliteite sal help om die kwessie van waterskaarste op die lange duur aan te pak,” sê Jooste en Van Zyl.

Die navorsers het ʼn model ontwerp om die moontlike langtermyn-uitwerkings van waterbehoud en herwinning binne Kaapstad se stedelike waterstelsel te verstaan sodat waterskaarstes voorkom kan word.

Hulle sê die jaarlikse grondwaterontginning word deur ontginningskapasiteit beperk, terwyl die perk wat op die gebruik van grondwater geplaas word, daarop gemik is om die oorontginning van natuurlike waterbronne te voorkom.

“Tans word slegs 5% tot 10% van die rioolwater wat deur Kaapstad se waternetwerkstelsel ontvang word, behandel en hergebruik vir daaglikse verbruik.”

Die navorsers sê hulle het ʼn stelseldinamikamodel ontwikkel om ingryping en beleidsbesluite op lang termyn te evalueer. Dit sal die herwinning en terughouding van afvalwaterstrome binne Kaapstad se waterstelsel ondersteun, eerder as om hierdie strome te laat wegloop of dit nie doeltreffend te benut nie.

Die model bied insig in die herwinning en terughouding van waterstrome onder wisselvallige klimaats- en reënvaltoestande sodat waterstres in Kaapstad op ʼn volhoubare manier verlig kan word.

“Ons modelleringsresultate bied bewyse dat beleidsingrypings vir die behoud en herwinning van water binne die stedelike waterstelsel die potensiaal het om oor die volgende 20 jaar tot die verligting van waterstres by te dra. Die uitslae toon ook dat waterskaarste in Kaapstad unieke en innoverende oplossings vereis om ekonomiese, maatskaplike en omgewingsvolhoubaarheid en groei te verseker.

“Niedrinkbare water kan uit waterafvalstrome, onbehandelde reënwater, grondwater- en oppervlakwaterbronne verkry word en kan vir die spoel van toilette, buitenshuise skoonmaak en besproeiing gebruik word.”

Jooste en Van Zyl het ook vyf scenario’s ontwikkel en vergelyk om moontlike beleidsingrypings te stimuleer.

(Foto: Kaapstad)

Die scenario’s toets die uitwerking van die munisipale watervoorraad indien dit met alternatiewe waterbronne aangevul word. Die simulasietydperk is van 2001 tot 2040.

Die sake-soos-gewoonlik-scenario inkorporeer bestaande waterbestuur- en bewaringsinisiatiewe, insluitend beplande uitbreidingsprojekte wat daarop gemik is om die tekort in watervoorsiening aan te pak.

Hierdie projekte kan die watervoorraad met 350 miljoen liter per dag oor die volgende 25 jaar verhoog.

Die tweede scenario evalueer die inwerkingstelling van maatreëls om reënwater op te vang, en die derde ondersoek die uitwerking van die gebruik van gryswater ter aanvulling van die algehele watervoorraad vir huishoudelike en nywerheidsverbruik.

Die vierde scenario ondersoek die gebruik van afloopwater van drinkbare gehalte wat behandel is om die munisipale watervoorraad aan te vul, terwyl dit die uitwerking van gedesentraliseerde afvalwaterbehandelingsaanlegte op watervoorraadstres evalueer.

Laastens word die uitwerking van die benutting van al die maatreëls van die ander scenario’s gelyktydig gesimuleer.

Volgens die navorsers is die vyfde scenario die enigste een wat ʼn waterstresvlak onder een vir die duur van die simulasie tot gevolg gehad het. Dit beteken dat die algehele munisipale watertoevoerkapasiteit meer is as die vraag van huishoudelike en nywerheidsverbruikers.

“Deur beskikbare data van 2017 te gebruik, dui die uitslae van die simulasie daarop dat ʼn moontlike besparing van 57,3 miljoen kubieke meter water, of 57 300 miljoen liter water, behaal kon word in 2017 deur ʼn kombinasie van volgehoue waterbesparingsmaatreëls, beplande vermeerdering van die watervoorraad en die omvattende inwerkingstelling van geïnstalleerde stelsels vir die opvang van reënwater, hergebruik van gryswater en gedesentraliseerde hergebruik van afvalwater in die huishoudelike en nywerheidsektore.

“Daar is egter aansienlike koste verbonde aan hierdie stelsels en daarom dien die ontwikkelde model ter ondersteuning vir besluitneming deur beleidsmakers om die voordele en koste uit te balanseer,” sê hulle.

Die resultate beklemtoon ook die voortdurende styging in watervoorraadstres weens voorspelde bevolkings- en ekonomiese groei in die stad.

Hoewel watervoorraadstres deur die toepassing van bewaringsmaatreëls soos waterbeperkings bestuur kan word, kan dit ʼn negatiewe uitwerking hê op ander sosio-ekonomiese gebiede.

“Dit is duidelik uit die navorsing dat innoverende oplossings nodig is vir die toekomstige beskikbaarheid van water. Om waterbehoud- en herwinningsinisiatiewe in werking te stel kan ʼn belangrike rol in die verligting van watervoorraadstres in die toekoms speel en regverdig verdere oorweging en navorsing.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JohanR ·

Kom Patricia de Lille terug om die probleem nou aan te spreek. Die projek kan genoem word “Patricia werk met biettjie/baie water – Day645!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.