Hewige teenkanting oor skuif van vier Kaapse kese  

(Argieffoto sleg vir illustrasiedoeleindes: Baboon Matters/Facebook)

Die Overstrand-munisipaliteit se voorneme om vier bobbejaanmannetjies van die Pringlebaai-biosfeer-gebied te verskuif word met teenkanting begroet.

Die vier mannetjies spandeer volgens die munisipaliteit die meeste van hul tyd in die dorp waar hulle tydens strooptogte kos by mense afvat, motordeure asook vensters en deure van huise oopmaak.

“Hul gedrag het ʼn punt bereik waar hulle nie meer ʼn doeltreffende rol in die bewaringsekologie van die trop speel nie en daarom is besluit om hulle uit die trop te verwyder,” het Dean O’Neill, Overstrand-munisipale bestuurder, gesê.

Die plan is glo om die bobbejaanmannetjies na ʼn rehabilitasiesentrum in Limpopo te verskuif.

Omgewingsdrukgroepe, verskeie organisasies en ander belanghebbendes is egter gekant hierteen. “Die Pringlebaai-bobbejaantrop is op die punt om vier van sy vyf volwasse mannetjies te verloor wat die sosiale struktuur van die trop sal vernietig en wat verdere probleme vir bestuur sal skep,” sê Liezl Smith, ʼn inwoner van Pringlebaai en woordvoerder van verskeie omgewingsgroepe en ander belanghebbendes.

“Hulle sal gesteriliseer word as ʼn voorwaarde van aanvaarding [by die rehabilitasiesentrum] en daar sal aansienlike koste verbonde wees aan hervestiging, kwarantyn, toetsing, behuising en instandhouding vir die res van hul lewens.”

Volgens O’Neill is die besluit om die bobbejane te verskuif nie ligtelik geneem nie en is dit gedoen in oorleg met verskeie kundiges. “Die mening word gehuldig dat die besluit in die beste belang is van die trop se bewaring, die welstand van die diere en dié van die groter gemeenskap.”

Die vier mannetjies bly sedert Oktober 2021 in Pringlebaai en nog ʼn mannetjie het in Julie vanjaar in die gebied aangekom, het O’Neill gesê.

“Wanneer wilde diere in beboude gebiede is, loop hulle die gevaar om vergiftig, geskiet, deur honde aangeval of raakgery te word. Dit is om dié rede dat die Overstrand-bobbejaanbestuurprogram ontwikkel is met die hoofdoel om die diere uit beboude gebiede te hou. Daar is ongelukkig lede van die gemeenskap wat nie saamstem nie en glo dat bobbejane toegelaat moet word om tussen ons te woon.”

Volgens Smith is die besluit om die betrokke bobbejane te hervestig geneem sonder oorlegpleging met inwoners en voorstanders vir die menslike behandeling van die Pringlebaai-bobbejane. “Dit wek ernstige kommer, aangesien daar bewyse is dat die hervestiging van mannetjiesbobbejane ʼn baie gebrekkige ‘oplossing’ is wat onbedoelde gevolge het.

“Die betrokke inwoners en belastingbetalers het die reg om te vra oor die finansiële implikasies van die voorgestelde verskuiwing van die vier bobbejane. Wie betaal vir hierdie duur proses, insluitend die veeartsenykundige uitgawes, weke in kwarantyn, vervoer en hul toekomstige sorg?

Smith sê daar is ʼn groeiende aantal inwoners wat bekommerd is oor die menslike behandeling van die Pringlebaai-bobbejane en versoek hulle dat die besluit om die bobbejane te verskuif heroorweeg moet word.

“’n Gemeenskapspoging is nodig om te verseker dat die trop toegelaat word om weer ʼn samehangende eenheid te vorm, wat die vernietigende siklus sal verbreek wat die huidige bobbejaanbestuursbenadering tot gevolg gehad het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.