Hiér word pikkies gered

As voёlwetenskaplike wat spesialiseer in pikkewynbewaring, glo Trudie Malan dat die oplossing vir uitwissing van bedreigde seevoёlspesies holisites moet wees. (Foto: Dyereiland Bewaringstrust)

Deur Elize Parker

Vir wetenskaplikes en natuurliefhebbers is die vooruitsig dat die Afrika-pikkewyn kan uitsterf, ʼn al groter werklikheid.

Daarom is die werk van wetenskaplikes van Dyer-eiland naby Gansbaai uiters belangrik. Dié werk word egter belemmer deur ʼn gebrek aan fondse weens talle borge wat die afgelope jaar onttrek het.

Eduard Drost, pikkewynkaptein van Dyer-eiland, sê die Afrika-pikkewyne sal luidens voorspellings vanaf 2030 nie meer funksioneel kan broei nie omdat daar te min van die bedreigde volwasse voëls sal wees om as ouers hul broeifunksie te kan uitvoer.

Op die eiland het die bevolking ook drasties van 25 000 broeipare in die sewentigerjare, tot ʼn skamele 1 500 pare vanjaar afgeneem.

Die eiland is onder die beskerming van die Dyer Island Conservation Trust, met vennote Marine Dynamics en Dyer Island Cruises. Dit val onder Cape Nature as bewaringsowerheid.

As gespesialiseerde seevoël-veldwagter is Drost bekommerd oor die pikkies onder sy toesig.

“Wat my pla oor die toekoms van die Afrika-pikkewyn is dat 71% van die bevolking in die laaste 30 jaar verdwyn het.”

Drost woon op die eiland vir drie weke van die maand en moniteer die geveerde bevolking. As mariene wetenskaplike neem hy ook spesifiek verantwoordelikheid vir die kunsmatige pikkewynneste en hul geveerde inwoners.

Die neste van bykans ʼn halwe meter hoog, is so ontwerp sodat die mikroklimaat daarbinne broeityd vergemaklik en die uitbroei van eiers bevorder.

Die bekroonde pikkewynbewaarder van Gansbaai, Wilfred Chivell, het hand bygesit met die ontwerp en vervaardiging van die dubbel-geïsoleerde neste. Chivell is ook die stigter van die Dyer-eiland‑bewaringstrust en die voorsitter van die trustees.

Die trust, in samewerking met die Amerikaanse organisasie Association of Zoos and Aquariums, befonds die neste se vervaardiging en plasing op Dyer-eiland.

Drost vertel elke moontlike oplossing moet ingespan word om die drastiese daling van getalle te verhoed.

“Die daling in pikkewyngetalle is nie net slegte nuus vir die spesie nie, maar het ook ʼn negatiewe impak op die ekostelsel.”

Die Dyereiland Bewaringstrust het in 2015 die African Penguin and Seabird Sanctuary naby Gansbaai tot stand gebring om die bedreigings rondom die dalende getalle van Afrika-pikkewyne die hoof te bied . (Foto: Elize Parker)

Hulp vir beseerde pikkies

Indien ʼn pikkewyn siek of beseer is, word daar met die trust gereël dat die pikkewyne afgehaal word en na die pikkewynhospitaal buite Gansbaai, die African Penguin and Seabird Sanctuary, geneem word.

Hier is dit senior voëlrehabiliteerder, Xolani Lawo, wat die beseerde geveerdes inneem, ondersoek en hulp naderroep indien hy nie onmiddellik kan help nie. Die meeste beserings is pootbeserings, dikwels veroorsaak deur die pikkewyne se kontak met vislyn in die water of uitgespoel op strande.

Xolani Lawo (Foto: Elize Parker)

Die toevlugsoord is goed toegerus, met ʼn laboratorium om bloedtoetse te doen om siektes by individuele voëls betyds te identifiseer sodat hulle behandel kan word.

ʼn Groot hulp vir Lawo se werk is die inspan van tegnologie. Elke pikkewyn by die toevlugsoord is op ʼn toevlugsoord-toepassing geregistreer met sy mediese rekords sowel as ʼn opsomming van sy huidige gesondheidstoestand. Die kundiges kan só vinnig per selfoon ʼn ogie gooi soggens om te sien hoe dit met die pasiënte gaan en aanbevelings doen.

Danksy ʼn mobiele X-straalmasjien, kan ʼn veearts die toevlugsoord vinniger besoek indien een van die pikkies ʼn pootbreuk het.

Lawo wys uit dat verhongering dikwels daartoe lei dat die voëls in ʼn verswakte toestand by die pikkewynhospitaal beland. Die skaarste aan vis in die onmiddellike omgewing as gevolg van visvangbedrywighede en ʼn oorbevolking van robbe in die gebied, is ʼn groot oorsaak hiervan.

Dyer-eiland se pikkewyne moet dikwels per dag meer as 30 kilometer ver swem net om hul daaglikse voeding in te kry.

“Boonop slaan sogenaamde luier seevoëls toenemend op pikkewyne toe. Nadat hulle die werk gedoen het om kos te vind, word pikkewyne dikwels aangeval om die vis in hul pense in die hande te kry.”

Wetenskaplike en voëlrehabiliteerder van die Dyer-eiland‑bewaringstrust, Trudie Malan, sê die Suid-Afrikaanse sardynbiomassa is boonop op ʼn historiese laagtepunt.

“As ʼn vaste ooreenkoms met die visbedryf gesluit kan word om visserybedrywighede in die gebied om die eiland te beperk en die pikkewyne nie ver hoef te swem vir kos nie, kan ons die spesie beter beskerm. Hoe meer energie dit neem om goed gevoed te bly, hoe moeiliker is dit vir hulle om hul kuikens groot te kry.”

Pootbeserings (sien pers omhulsel by poot) is dikwels een van die beserings wat senior voёlrehabiliteerder, Xolani Lawo, en sy span by die African Penguin and Seabird Sanctuary naby Gansbaai moet behandel. (Foto: Verskaf)

Volgens haar is miljoene eiers ook oor dekades heen verwyder deur eierversamelaars sowel as diegene wat die eiers as lekkernye en snoeperye beskou. Die skraping van die eiland om ghwano, oftewel voëlmis, vir bemesting te verkoop, het pikkewynneste aan roofvoëls en oorverhitting blootgestel.

Malan is egter optimisties dat regulasies wat in September 2022 deur die minister van bosbou, visserye en omgewingsake, Barbara Creecy, ingestel is, beskerming en ʼn mate van verligting kan bring. Die regulasies handel oor die tydelike beperkte sluiting van bedrywighede om groot pikkewyneilande in Suid-Afrika se vaarwaters.

Sy hoop die tydelike reёlings sal ook deur internasionale panele as geldende mariene beskermingsooreenkomste bevestig word en dan ook meer spesifiek vir die gebiede waar pikkewyne kos kan vind.

“Die tyd van praat is egter verby. Ons het verskerpte optrede nodig,” meen Malan.

Gebrek aan fondse

Die skakelbeampte van die Dyer-eiland‑bewaringstrust, Christine Wessels, sê weens die onttrekking deur van die borge, is dit vir die bewaringstrust tans moeilik om die boeke te laat klop en daar moet swaarder op die publiek gesteun word.

“Ons is amper 100% afhanklik van die publiek vir finansiële skenkings.”

Een van die groot koste-items is om pikkewynkuikens te red. Pikkewyne maak goeie ouers uit, maar verskeie faktore soos vloede of blootstelling noodsaak soms die redding uit neste. Om een pikkewynkuiken te red, te rehabiliteer en weer vry te laat, kos R1 200, wat die koste van vis, die dienste van ʼn veearts en medikasie insluit.

Malan glo egter elke bietjie help. “Ons kan nie die gety van die verlede omdraai nie, maar ons kan hard werk om die bevolking te stabiliseer deur rehabilitasie, soos die jaarlikse verwydering van weeskuikens. Alle stappe moet gedoen word om die getalle te versterk. Dit is ons bewaringsgoud.”

Klik hier of hier om betrokke te raak.

Die bou van die African Penguin and Seabird Sanctuary naby Gansbaai , is bef onds deur die Dyereiland Bewaringstrust met die hulp van borge soos Volkswagen, Marine Dynamics en Dyer Island Cruises. (Foto: Elize Parker)

Die pikkewynkaptein van Dyereiland, Eduard Drost, is bekommerd oor die kwynende getalle Afrik a -pikkewyne op die eiland. (Foto: Dyereiland Bewaringstrust)

Op Dyereiland is kunsmatige broeineste vir die pikkewynpare aangebring nadat ghwano dekades van die eiland geskraap is en neste nie meer in die voëlmis deur die pikkewynouers gebou kon word nie. Die binnekant is gebaseer op wilde ghwano neste. (Foto: Elize Parker)

Die robbe van die eiland oorkant Dyereiland, die drie hektaar grote Geyserrots, is ʼn bedreiging vir die pikkewynkolonie op Dyereiland , weens oorbevolking op die robbe-eiland. (Foto: Verskaf)

Dyereiland is ook die tuiste van ander seevoëls soos trekduikers en bankduikers. (Foto: Elize Parker)

Bewaringslegende in die Overberg, Wilfred Chivell, is al internasionaal bekroon vir die werk wat hy saam met die Dyereiland Bewaringstrust aangepak het om die Afrika-pikkewyn van uitwissing te red. (Foto: Dyereiland Bewaringstrust)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

domheks ·

Die land het geld vir gemors maar nie vir natuurbewaring nie. Ou cr kan maar gerus ‘n paar miljoen $$$ uit sy rusbank gaan haal…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.