Hof beslis teen vrou wat Zuma ‘aap’ noem

(Foto: pixabay)

Die arbeidshof in Johannesburg het in die guns van Edcon bevind nadat dié maatskappy ʼn werker afgedank het wat op Facebook na oudpres. Jacob Zuma as ʼn aap verwys het.

Teresa Cantamessa, ʼn voormalige senior aankoper by Edcon (wat die kleinhandelwinkels Edgars besit) het in Desember 2015 al die gewraakte opmerking gemaak.

Dit het gekom ná Zuma se besluit om die destydse minister van finansies, Nhlanhla Nene, met Des van Rooyen te vervang. Skaars ʼn paar dae later is Van Rooyen in die pad gesteek en het Pravin Gordhan die leisels by die tesourie oorgeneem. Skade aan die ekonomie weens die kabinetskommeling is op tussen R250 miljard en R500 miljard geraam.

Talle Suid-Afrikaners was woedend en verskeie sogenaamde #ZumaMustFall-optogte is in dié tyd gehou. In die media is daar breedvoerig oor die besluit berig, ook op M-Net se aktualiteitsprogram Carte Blanche.

Op haar jaarlikse vakansie in dié tyd het Cantamessa die gewraakte inskrywing op Facebook gedoen.

“Watching Carte Blanch and listening to these f*****g stupid monkeys running our country and how everyone makes excuses for that stupid man we have to call a president … President my f*****g ass!! #zumamustfall This makes me crazy ass mad (sic)”, het sy geskryf.

Die plasing het groot reaksie ontlok en Cantamessa is intern op ʼn aanklag van wangedrag verhoor. Sy het tydens die verhoor onder meer aangevoer die plasing was nie rassisties nie en dat sy bloot onbevoegdheid uitgewys het.

Sy is egter skuldig bevind en vroeg in 2017 afgedank.

Cantamessa het die saak na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) geneem. Geen versoening kon bereik word nie en ʼn arbitrasieproses is begin.

Tydens dié proses is bevind Cantamessa se afdanking was onbillik en sy het vergoeding in die vorm van 12 maande se salaris gekry. Die kommissaris het onder meer bevind die Facebook-plasing het niks met Cantamessa se werk by Edcon te doen gehad nie en dat geen billike internetgebruiker die plasing met Edcon sou assosieer nie.

anc-leierskap-pres-jacob-zuma-01

Jacob Zuma. (Foto: Jonisayi Maromo/ANA)

Sy was tydens die plasing boonop met verlof en daar was geen bewyse dat haar plasing Edcon op een of ander manier skade berokken het nie.

Edcon-werkers wat op Cantamessa se Facebook-plasing aangedui het dat hulle daarvan hou, het boonop net finale waarskuwings gekry.

Die kommissaris het ook bevind Cantamessa se opmerking dat Zuma “stupid” is, is nie rassisties nie.

Dit was steeds nie die einde nie en die beslissing is na die arbeidshof in Johannesburg vir hersiening verwys.

Dié hof het bevind sommige wit Suid-Afrikaners het, voor die aanvang van demokrasie, gereeld neerhalend na swart mense verwys, onder meer deur na hulle as ape te verwys.

“Om ten volle te verstaan wat me. Cantamessa gesê het, is dit belangrik dat die geskiedenis agter die aap-belediging ook verstaan word. Dit is ʼn emosionele uitdrukking van ons hartseer verlede waartydens rassediskriminasie, by die werkplek in besonder, aan die orde van die dag was. Me. Cantamessa, wat al langer as 20 jaar in Suid-Afrika woon, het dit ongetwyfeld geweet,” het die hof nou bevind.

“Sy het gesê sy was kwaad toe sy die plasing op Facebook gemaak het en het iets gedoen wat sy nog nooit voorheen gedoen het nie.”

Cantamessa het wél toegegee dat sommige Suid-Afrikaners die plasing as rassisties kon ervaar.

Die hof het bevind haar opmerking was uiters beledigend en dat Edcon heeltemal geregtig op tugstappe was.

Daar is ook bevind die reg op vryheid van uitdrukking laat nie die aanhitsing van haat toe nie en dat Cantamessa geen reg gehad het om rassistiese beledigings te gebruik om haar woede oor ʼn situasie te kenne te gee nie.

Die hof het gevolglik die vergoeding wat die KVBA aanvanklik aan haar toegeken het ter syde gestel en bevind Edcon het heeltemal billik opgetree toe hy haar in die pad gesteek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

40 Kommentare

Ig ·

Nou is ek heeltemal verward. Gordan kan n hond genoem word maar Zuma mag nie n aap genoem word nie. Hond, Aap, Vark, Buffel ens ens is mos almal gelyk in diereryk of is Aap nou in n hoër klas wat nie ydel gebruik mag word nie

wetwou ·

Goeie enetjie lg – jy my nou lekker laat lag – wonder wat koning leeu hiervan sal sê.

theo ·

Ek verstaan ook nie hierdie uitsprake nie, ek hoop sy appeleer. in julius se oë is n hond laer as n aap/bobbejaan dan is dit mos meer haatspraak???

Pieterd ·

Hoe klop dit met die uitspraak oor Malema wat Minister Pravin Gordhan gruwelik beledig het?

ore ·

En Malema mag mense “HONDE” noem rn kom daarmee weg? Hoe werk dit?

Casper Labuschagne ·

Sy is verseker skuldig omdat sy bloot die waarheid op sy naam genoem het. Maar dit is Suid-Afrika, waar feite nie tel nie, maar slegs die emosies van diegene met slagofferstatus en waar die wil van die meerderheid wat slagoffers verteenwoordig reg en verkeerd bepaal.

Maar, hoe bepaal ‘n enkele naamwoord op ‘n privaat Facebook inskrywing dat jy jou werk kan verloor as senior aankoper? Ja, ons dwinglandy om te konformeer met die toelaatbare opinie strek al tot hierdie uiterste.

Piet parys ·

Wanneer iemand n aap of bobbejaan genpem word beteken dit dat hy onnosel is . So die ape of bobbejane wat dit nie weet nie ek voel vir julle . Bogom

Bob Jan ·

Edcon is in ‘n diep geldelike verknorsing deels a.g.v. oud president Zuma se flaters. Laat jou dink ne?

ES ·

Ek is jammer, maar as jy sulke goed kwytraak moet jy maar die gevolge dra van jou aksies – veral as jy dit op sosiale media sit vir almal om te aanskou.

Daar is te veel mense wat hul opinies op ‘n baie kras manier lig, sonder om te dink aan die nagevolge of wie dit moontlik kan lees. Ongelukkig bly ons in ‘n land waar hierdie tipe beskuldiging vinnig kan hand uit ruk – en mense weet dit, maar hulle doen dit nogsteeds!

Daar is nie salf te smeer nie…

Merie Perd ·

ES, na baie jare se ondervinding in die buiteland kan ek maar net se dat die benoeming wat hierplaasgevind het, maar skraps en baie mak is, teenoor wat politici openlik in ander lande genoem word. Politici se werk is om jou en jou menswees “Man” op te pas en te troetel, en regverdiug te behandel, en nie agter hulle self en hulle “kind” te kyk nie. Verbaas die bevindings dat Suid Afrika “the Cradle of mankind” genoem word jou nie? As ek om jou rond kyk verbaas dit my nie. Hier mag jy dalk “mankind” mense kry maar waar ek vandaan kom weet ek wie my geskep het. Sela

Apie ·

Wel as ek ‘n aap was, sou ek ‘n klag wou le omdat sy hom met my vergelyk.

Anoniem ·

Mense moet oor die algemeen sosiale platforms verantwoordelik gebruik en nie as ‘n klankbord misbruik om beledigend te wees nie. Eks ‘n wit afrikaner en sou beslis nie aanvaar as iemand my so iets noem of selfs iets wat my integriteit in twyfel trek nie. Gans te veel mense op sosiale media kom weg met naambeswaddering en defamatory en name en shame, want elkeen dink mos hy of sy het ‘n reg. Edcon het korrek opgetree, ek sal ook nie ‘n werknemer wil voed wat haar naam so gaan verneder nie. Mense moet eerder opbouend wees as neerhalend. Wel ek dink ons President Zuma is wonderlik met sy eie unieke kwaliteite, hy is ook net ‘n mens en God is net so lief vir hom, soos God vir ons almal is

Bert ·

En kleinlikhede soos hierdie bevorder natuurlik die broodnodige versoening tussen die verskillende bevolkings groepe?

Kraaibakke ·

Ja als kan gaan maar duble sinnigheid het nie plek in ons samelewing nie hoeveel vra die hof om jou naam skoon te kry?

jaco ·

Eks nie jammer vir haar nie; eerder jaloers. Die berig noem dat dié vrou al 20 jaar in SA woon. Sy kon dus lankal dié land wat so sleg regeer word, verlaat het. Dis ‘n lekker “agterdeur” wat ek en meer as 3 miljoen ander wit mense in SA nie het nie.

Petrus ·

Met verloop van tyd verander die reg.
Gister mog iemand ‘n ander ‘n hond noem en die reg sê die OK.
Vandag is iemand skuldig as hy/sy sê iemand is ‘n aap?
G’n wonder Charles Dickens gebruik die term “The law is an ass” in een van sy boeke nie – Oliver Twist.

Eddie ·

Verkoop Nkandla aan die Holiday Club om dit verder te ontwikkel en om dan teen groot afslag tariewe die geskiedenis en die monument van korrupsie lewendig te hou , sodat die nageslag nie sal vergeet nie !

Chris ·

Let mooi op, dit gaan alles oor die ras en velkleur van die persoon wat spreek. As jy blank is weerhou jou daarvan om enige iets wat negatief of waar kwyt te raak.
Hou dit in jou kop, koester dit in jou hart, die wiel sal draai. Magtige zuma kan nou nie eers sy huis betaal nie. Verlustig jou nou, kry die spring mielies en ontspan.

netso ·

Net gister het n karakter so ongv 30 twee van ons jong werkers getart. Ek het gesien een van ons werkers het reggemaak vir n bakleiery. Die een het gestaan en wonder of hy sy maat moet verdedig of nie. Dit was die vinnigste wat ek as middeljarige vrou uit my kar spring en vir ons twee jongmanne se asb, ignoreer, moet niks se nie, loop asb net weg van die karakter af want hy kort geld en gaan dit in n rasse storie verander. Dai karakter was verkeerd en het bly moeilikheid soek en vinger onder hul neus gedruk en aan hul gestamp. Altwee ons werkers het my geskok aangekyk en net gese dankie tannie. En hul het weggestap terwyl die karakter bly stamp en vinger in hul gesigte druk.

Ovvie ·

Dis ironies. Edcon self is in sakeredding, deels weens die swak ekonomiese klimaat wat die ANC met Zuma aan die stuur met hulle wanbestuur geskep het.

Ysberg ·

Wat sy kwytgeraak het is maar net die puntjie van die ysberg wat in baie mense gedagtes omgaan en wat hulle in privaat bespreek.

Dj ·

Ek trek die bewering van die hof dat wit mense tydens apartheid na swart mense verwys het as ape ten twyfel.Ons noem nog altyd iemand wat onnosel is ń aap – ongeag sy velkleur.Dit is ń erkende idioom!

Marina ·

Stem 100% saam jou! Nog altyd idioom wat gebruik is wanneer iemand dom op tree! Ek ook jare gelede reenoor swart kollega toe hy iets dom doen apie genoem hy dadelik op aanval gewees ek verduidelik toe aan hom hoekom sowaar nie lank daarna doen ek iets dom en hy noem my toe ook apie, ja sê ek vir hom nou verstaan jy die gesegde hy heel trots toe daar op hy nou dit kliek!!

JC ·

Die helfte van die parlement is ape. “Jy mag dit nie sê nie ons eis ‘n verskoning”. Ok sorry die helfte is nie ape nie. (met apologie aan CJ Langenhoven)

Jannie van Niekerk ·

Ek kan nie verstaan hoekom mense diere so beledig nie. Diere is opgevoede intelligente wesens wat nie verdien om met politici of enige ander vorm van menslike lewe vergelyk te word nie. Pleks hulle betoon bietjie respek teenoor diere en minag die politici en menslike spesie met die minagting en veragting wat hulle verdien.

P J Fourie ·

My ondervinding is dat jy noem NOOIT ‘n swart mens ‘n aap of bobbejaan nie, dit is ‘n growwe en seker die grootste beledigings wat jy hom kan toe snou. Wit mense moet dit maar in eie belang onthou asseblief.

Alet ·

Wit mense mag pienk varke.. Lumkas en baie ander neerhalende goed toegesnou word maar trap ek as wit oir die streep dan is ek n rassis? Reënboognasie se voet!

Strandloper ·

Hoe sê hul “Al dra n aap n goue ring bly hy n onossele ding”….

Hb ·

Ons mut wakker skrik en ni sosiale media sien as privaat nie. Dis wat di naam beskryf. Om op sosiale media n uitlating te maak is ni soos om vir jou girlfriend n briefie te skryf ni. As ek my mond kan hou en niks plaas op sosiale media wat my gat inni tronk kan laat beland ni dan kan ander mense ook so maak. Ek mag dink wat ek wil maar mag ni meer se wat ek wil ni. My kop wil partykeer ontplof van al di dinge wat ek wil uiter maar ek kannie.

Aggenee! ·

Nooit! Om Zuma n aap te noem is darem verskriklik … lelik

Francois Kruger, South Africa ·

“Ape en dwase skyf op mure en glase” – ‘n ou Afrikaanse gesegde sonder enige raskonnotasie. Facebook het nie verniet ‘n “wall” nie… Leer mense nie dat so ‘n openbare uitlaat(uitlok?)klep soos sosiale media GEVAARLIK is in ‘n hiperrassistiese land nie?

James ·

Malema het na ons wittes verwys as “pink pigs.” Dis blykbaar toelaatbaar.
Hoe nou?

Msp ·

Wat ek nou sê het niks met die diereryk of rassisme te doene nie. Almal kan sien dat ons regering en regstelsel DOODBANG vir klein malematjie met sy groot bekkie is.

thinus erasmus ·

Net nog ń bewys dat alle foute op apartheid blameer kan word en dat wit velle altyd rassiste is.
Ek troos my daaraan dat baie van hierdie slagoffers eintlik die groot ondersteuners van die NSA is en was, en net in ń oomblik van waansin hul cool verloor het. So ietsie van karma?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.