Hof genader oor Covid-19-reëls in werksplek

Verskeie instellings is gereed om die regulasies in die hof te gaan betwis. (Foto: Maroela Media)

Die werkgewersorganisasie Neasa het hom tot die Pretoriase hooggeregshof gewend oor die minister van indiensneming en arbeid se aanbevelings in sover werkgewers se bestuur van Covid-19 in die werksplek.

Neasa meen hierdie aanbevelings neem eerder die vorm van wetgewing aan, wat werkgewers in werklikheid verplig om dit toe te pas of die risiko te loop om aan die departement verantwoording te doen.

Die organisasie vra die hof om die minister se aanbevelings onwettig en ongrondwetlik te verklaar, met die hoop dat dit eindelik tersyde gestel sal word.

Minister Thulas Nxesi het verlede maand die Praktykkode: Bestuur van Covid-19 in die Werksplek, 2022 geïmplementeer. Hierdie kode lei werkgewers en -nemers oor hoe om blootstelling aan Covid-19 in die werksplek doeltreffend te bestuur.

Dié praktykkode vereis van werkgewers om ʼn risiko-evaluering te doen – gegrond op die regulasies wat in die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid (OHSA) vervat is – ten opsigte van die risiko van blootstelling aan die koronavirus in die werksplek, asook die risiko van ernstige siekte of dood as gevolg van sodanige blootstelling.

Daarna moet werkgewers ʼn plan ontwikkel en implementeer wat gegrond is op die uitkoms van die risikobepaling. Dit moet ook insluit watter maatreëls die werkgewer beoog om te tref ten opsigte van verpligte inentings in die werksplek.

“Die risikobepaling wat werkgewers verplig word om te onderneem, is heeltemal onrealisties en onmoontlik om te implementeer en in stand te hou,” sê Neasa.

“Neasa sal die minister se pogings om ʼn inentingsbeleid onder OHSA te regverdig, uitdaag.”

Hoewel OHSA veiligheid in die werksplek reguleer ten opsigte van die risiko’s wat in die werksplek ontstaan, meen die werkgewersorganisasie dat Covid-19 nie net ʼn probleem is wat tot die werksplek beperk kan word nie.

“Daarom is die interpretasie van OHSA om werknemers te beskerm teen ʼn gevaar wat nie alleenlik in die werksplek voorkom is nie, absurd. Dit was nooit die bedoeling van die wetgewing nie.”

Dit is ook Neasa se standpunt dat OHSA nie aan die minister die mag, nóg die wetgewer die reg verleen om grondwetlike regte onder die dekmantel van werkplekveiligheid te beperk nie.

“Dit word boonop algemeen aanvaar dat Covid-19-entstowwe nie die oordrag van of infeksie met Covid-19 kan voorkom nie, dus kan  ingeënte sowel as oningeënte mense die virus opdoen en versprei. Hierdie beperking van grondwetlike regte kan nie onder die Grondwet regverdig word nie.”

Volgens Neasa wil die meerderheid van Suid-Afrikaners in ieder geval nie met die huidige entstowwe teen Covid-19 ingeënt word nie, en dat burgers se standpunt oor openbare beleide soos dié in ʼn demokratiese samelewing in ag geneem moet word – veral wanneer dit oorweeg word om dit af te dwing.

“Daar is geen geregtigheid of moraliteit daarin om ʼn outonome individu te dwing om mediese behandeling teen sy wil te ontvang nie, veral waar sodanige behandeling potensieel ernstige gevolge vir die ontvanger daarvan inhou.”

Indien die kode nie hersien en tersyde gestel word nie, wil Neasa hê dat die hof verklaar dat die kode geen wetlike verpligting op werkgewers lê om hul werknemers te verplig om Covid-19-inentings te kry nie. Ook dat werkgewers wat weier om die kode te implementeer, nie daarvan beskuldig kan word dat hy sy pligte versuim om ʼn veilige en gesonde werksplek te verseker nie.

“Ons hoop ook dat die hof dit onwettig en ongrondwetlik sal verklaar dat enige persoon of entiteit gemagtig is om ʼn werknemer te verplig om ingeënt te word onder dreigement van afdanking,” sê Neasa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Marius ·

Moet nog mense ontslaan word oor inentings ? Dit sal verseker die werksloosheid syfers nog verder opjaag. Wie het nog geld vir maskers ? Al ons geld gaan vir belastings, heffings, krag, water, brandstof en kos. Dit is tyd dat die vaak visse wat hulself ministers noem bykom.

Heinrich ·

Dankie Neasa, kry hierdie absurditeite nou tot ‘n einde.

Johan ·

Waar is die dapper voorstaanders van die regulasies noudat ons van die snert ontslae moet raak…lekker stil geword.

Chris ·

Dankie Gerhard Papenfus en NEASA vir jul leierskap, insig en toewyding om ‘n werklike poging aan te wend om op te staan vir ons burgerlikes se regte – Met respek en waardering!! NEASA blyk een van die min organisasie te wees wat die gevare van die stelsel van beplande beheer uitwys en beveg – bly hul staan op vir hul 8 000 lede. NEASA is die grootste werkgewers organisasie in die land.

Leon ·

Kan ons asb ontslae raak van die masker en snert?Daar is mense wat verslaaf is aan die snert terwyl mense honger ly!Die reels in winkelsentrums maak in elk geval nie sin nie。COVID weet nie wanneer jy eet en drink nie。Die probleem is sekere mense maak geld met die simpel inentings en maskers en selfs skoonmakers het nou mag om vir mense te irriteer oor die nonsens in ons vervalle ou landjie!Get a life!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.